16 Julie 2011 / Tammuz 14 5771
Demokrasie Sal Verdwyn
Phinias / Pinchas
Numeri / BaMidbar {27:15} “Toe het Moses met die HERE gespreek en gesê: {27:16} Laat die HERE, die God van die geeste van alle vlees, ‘n man oor die vergadering aanstel {27:17} wat voor hulle uittrek en wat voor hulle intrek, en wat hulle uitlei en wat hulle inlei; sodat die vergadering van die HERE nie mag wees soos skape wat geen wagter het nie. {27:18} Toe sê die HERE aan Moses: Neem vir jou Josua, die seun van Nun, ‘n man in wie die Gees is; en lê hom die hand op, {27:19} en stel hom voor die priester Eleásar en voor die hele vergadering, en gee hom ‘n opdrag voor hulle oë; {27:20} en lê op hom van jou hoogheid, sodat die hele vergadering van die kinders van Israel na hom kan luister. {27:21} En hy moet voor die priester Eleásar staan, dat dié vir hom die beslissing van die Urim kan vra voor die aangesig van die HERE; volgens sy uitspraak moet hulle uittrek en volgens sy uitspraak moet hulle intrek, hy en al die kinders van Israel saam met hom en die hele vergadering. {27:22} En Moses het gedoen soos die HERE hom beveel het: hy het Josua geneem en hom voor die priester Eleásar en voor die hele vergadering gestel, {27:23} en hy het hom die hande opgelê en hom ‘n opdrag gegee soos die HERE deur die diens van Moses gespreek het. ”
Demokrasie word vandag allerweë ernstig beskou. President Obama van die Verenigde State van Amerika doen alles in sy vermoë om demokratiese regerings in die Islamitiese Midde-Oosterse lande wat deur diktators regeer word en waar die shariawet geld, te bevorder en beïnvloed.
Volgens Wikipedia, is demokrasie ‘n regeringsvorm waarin alle burgers gelyke seggenskap het in die besluitnemings wat hulle lewens raak. Dit behels gelyke (en min of meer regstreekse) deelname in die voorstel, ontwikkeling en deurvoering van wetgewing in wette. Dit omvat sosiale-, ekonomiese- en kulturele omstandighede, wat die vrye en gelyke praktyk van selfbeskikking moontlik maak.
Dit is bewonderingswaardig van president Obama om dit vir Islamitiese lande in die vooruitsig te stel om dieselfde mate van vryheid te geniet wat die demokratiese stelsel aan sy burgers bied, maar demokratiese regerings en die demokratiese stelsel op sigself is nie Bybels nie. Hoe weet ons dit? Die eerste Skriftuurlike bewys is God se ontevredenheid met Israel, toe hulle vir ‘n koning gevra het.
1 Samuel / Shmuel Aleph {8:5} “en sê vir hom: Kyk, u is oud, en u seuns wandel nie in u weë nie; stel nou ‘n koning oor ons aan om ons te rig soos by al die nasies. {1Sa 8:6} Maar die woord was verkeerd in die oë van Samuel toe hulle gesê het: Gee ons ‘n koning om ons te rig, en Samuel het tot die HERE gebid. {1Sa 8:7} Toe sê die HERE vir Samuel: Luister na die volk in alles wat hulle aan jou sê, want nie jou het hulle verwerp nie, maar My het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie.”
Wat ons hier in die Skrif sien, is Israel se verwerping van God as hul Koning en hulpversoek om ‘n menslike koning in sy plek te hê. Wat meer is, is soos wat ons in hierdie hoofstuk verder lees, dat dit God was wat die koning gekies het om oor Sy volk te regeer. Dit het nie by wyse van demokratiese verkiesing geskied nie!
Verder sien ons in dié week se Parasha hierdie selfde scenario met die oordrag van gesag vanaf Moses na Josua. God het Moses nie beveel om ‘n demokratiese verkiesing te laat plaasvind om ‘n nuwe leier aan te wys nie, maar God het hom gekies en Moses eenvoudig aangesê om Josua te salf ten einde sy plek in te neem.
Nog iets wat ons nie in die Bybel vind nie, is dat God nie ‘n demokratiesverkose liggaam toelaat om nuwe wette te maak of Sy bestaande wette te wysig nie. Die volk moes volgens die gebooie, voorskrifte en geregtigheid van die Tora leef. God het selfs aan Sy aardse verteenwoordiger, die cohen hagadol (hoëpriester), die Urim en Thummim gegee, as metode om hom oor juridiese aangeleenthede te raadpleeg. Hierdie metode het verseker dat God se gebooie nougeset nagekom word.
Die finale bewys dat demokrasie nie Bybels is nie, berus op die feit dat wanneer Jesus die Messias weer kom om Sy Koninkryk op aarde te vestig, word aan ons vertel:
Openbaring / Hitgalut {19:15} “En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. {Rev 19:16} En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here. ”
Met Jesus se wederkoms, sal die regsreël die Woord van God, Sy Bybel wees! Demokrasie sal iets wees waaroor mense in toekomstige geskiedenisboeke sal lees.
Dit is baie onbaatsugtig van President Obama dat Islamities-regeerde state demokraties behoort te wees, maar die feit van die saak is, dat húlle inderwaarheid reg en óns verkeerd is. Meeste van hierdie lande staan onder die Koran. Anders as die feit dat hulle ‘n valse god volg, aanvaar hulle ten minste hierdie valse god se leer as húlle regsreël. Wat ons demokrasie egter gedoen het, is dat hulle wette daargestel het, wat geheel-en-al teenstrydig met die Wet en Wil van die Enigste Waaragtige God van hemel en aarde is.
Moet my nie verkeerd verstaan nie. Die Bybel is nie gekant teen kapitalisme nie – inteendeel dit word aangemoedig! Die Bybel ondersteun net nie die konsep van demokrasie nie. Volgens Openbaring, is dit duidelik dat demokrasie nie die wederkoms van Jesus sal oorleef nie en waarskynlik reeds geskiedenis sal wees selfs vóór die koms van die anti-messias.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking