Devarim
(Woorde)
In hierdie oordenking verstrek Moses aan die kinders van Israel 'n opsomming van al hul reise, vandat hulle Egipte verlaat het. Julle sal miskien wonder waarom hy hulle dit alles aan hulle vertel het, waarom hy besonderhede verstrek van elke kronkel, draai en stilhouplek. Die rede, soos ons natuurlik weet, is omdat hierdie 'n nuwe generasie is. Selfs al sou sommige van die mense alles tydens die jare van rondswerwing in die wildernis, ervaar het, was baie van hulle te jonk om dit te onthou. Daar was ook vele wat gedurende die kinders van Israel se omswerwinge in die woestyn, gebore is, met die gevolg dat hulle geen kennis gedra het van wat alles plaasgevind het nie. Hierdie nuwe generasie moes dus alles onthou en weet waarom dit gebeur het, maar die hoofsaak was dat hierdie nuwe generasie kennis moes dra van hul geskiedenis sodat hulle dit nie sou herhaal nie. Ek dink dit is juis daarom dat Moses in sulke besonderhede ingegaan het.
Geskiedenis is geneig om sigself te herhaal wanneer ons nie onthou nie. As ons onthou en verkies om ons geskiedenis nie ernstig op te neem nie, dan sal ons toekoms daaronder ly. Elkeen van ons het geskienisonderrig op skool ontvang. Deur ons geskiedenis te leer, het dit ons kennis van die land waarinn ons woon, verryk. Dit het tot ons patriotisme gelei en sal ons en ons politici hopelik inspireer om nie dieselfde foute van ons voorvaders te begaan nie. Moses wou sekermaak dat hierdie nuwe generasie asook alle toekomstige generasies nooit die eksploitasies, omswerwinge, oorloë en opstande, wat plaasgevind het vandat die kinders van Israel Egipte verlaat het totdat hulle die grens van die Beloofde Land bereik het.
Deuteronomium / Devarim {1:6} “Die HERE onse God het met ons by Horeb gespreek en gesê: Julle het lank genoeg by hierdie berg gebly. {1:7} Trek weg en breek op en gaan na die gebergte van die Amoriete en na al sy naburige plekke: die Vlakte, die Gebergte en die Laeveld en die Suidland en by die seekus—die land van die Kanaäniete en die Líbanon, tot by die groot rivier, die Eufraatrivier. {1:8} Kyk, Ek gee die land aan julle oor; gaan in en neem die land in besit wat die HERE aan julle vaders Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het om dit aan hulle te gee en aan hulle nageslag ná hulle. {1:9} En ek het met julle in dié tyd gespreek en gesê: Ek kan julle alleen nie dra nie. {1:10} Die HERE julle God het julle vermenigvuldig; en kyk, julle is vandag soos die sterre van die hemel in menigte. {1:11} Mag die HERE, die God van julle vaders, by julle byvoeg duisend maal soveel as wat julle is, en julle seën soos Hy julle beloof het! {1:12} Hoe sou ek die moeilikheid en die las en die regsake van julle alleen kan dra? {1:13} Bring tog wyse en verstandige en ervare manne aan volgens julle stamme, dat ek hulle as julle hoofde kan aanstel. {1:14} Hierop het julle my geantwoord en gesê: Die woord wat u gespreek het, is goed om uit te voer. {1:15} Toe het ek die hoofde van julle stamme, wyse en ervare manne, geneem en hulle as hoofde oor julle aangestel, owerstes oor duisend en owerstes oor honderd en owerstes oor vyftig en owerstes oor tien en opsigters volgens julle stamme. {1:16} En ek het in dié tyd aan julle regters bevel gegee en gesê: Neem julle broers in verhoor en oordeel regverdig tussen ‘n man en sy broer en die vreemdeling wat by hom is. {1:17} Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God. Maar die saak wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring, en ek sal dit in verhoor neem. {1:18} So het ek julle dan in dié tyd al die dinge beveel wat julle moet doen. {1:19} Toe het ons van Horeb af opgebreek, en ons het daardie hele groot en vreeslike woestyn deurgetrek wat julle op pad na die gebergte van die Amoriete gesien het, soos die HERE onse God ons beveel het; en ons het tot by Kades-Barnéa gekom. {1:20} Toe het ek vir julle gesê: Julle het tot by die gebergte van die Amoriete gekom wat die HERE onse God aan ons sal gee. {1:21} Kyk, die HERE jou God het die land aan jou oorgegee; trek op, neem dit in besit soos die HERE, die God van jou vaders, jou gesê het; wees nie bevrees en wees nie verskrik nie. {1:22} Toe het julle almal na my toe aangekom en gesê: Laat ons manne voor ons uit stuur, dat hulle vir ons die land kan verken en ons berig kan bring aangaande die pad waarlangs ons moet optrek, en die stede waarby ons sal kom. {1:23} En die saak was goed in my oë, sodat ek twaalf man uit julle, uit elke stam een man, geneem het. {1:24} En hulle het weggedraai en na die gebergte opgetrek en tot by die dal Eskol gekom en dit verken. {1:25} Hulle het toe van die vrugte van die land met hulle saamgeneem en dit na ons afgebring en aan ons verslag gegee en gesê: Die land wat die HERE onse God aan ons sal gee, is goed. {1:26} Maar julle wou nie optrek nie, maar was wederstrewig teen die bevel van die HERE julle God. {1:27} En julle het in jul tente gemurmureer en gesê: Omdat die HERE ons haat, het Hy ons uit Egipteland uitgelei om ons in die hand van die Amoriete oor te gee, dat hulle ons verdelg.”
Hoe goed het die kinders van Israel hul geskiedenis onthou? Jammerlik, nie goed genoeg nie, want hulle het baie van dieselfde foute as hul voorvaders herhaal. Dit het toekomstige generasies gevolglik in 'n baie soortgelyke situasie as hul voorvaders laat beland. Toe hul voorvaders in opstand teen God gekom het deur te weier om die land Kanaän binne te gaan, het God hulle laat omdraai, die land nie aan hulle gegee nie en hulle veertig jaar lank in die wildernis laat rondswerwe, waar hulle uiteindelik omgekom het. Hierdie nuwe generasie was nou op die punt om die land geskiedenis te leer sodat hulle dit ook aan hul kinders kon oordra. Slegs 'n generasie later, het dit egter geblyk dat die kinders van Israel niks van hul geskiedenis geleer het nie. Hulle het keer op keer teen God in opstand gekom. Hul voorvaders is, as gevolg van húl opstand, nie toegelaat om die Beloofde Land binne te gaan nie en eindelik het God vanweë die nuwe generasie se opstandigheid, hulle uit die land verdrywe.
Tensy ons, ons geskiedenis leer, sal ons dit gewis herhaal. Ek verwys nie hier na ons nasionale geskiedenis nie, maar wel na ons persoonlike geskiedenis! Ons het almal op een of ander tyd in ons lewens teen die Here gerebelleer, waarvoor ons die gevolge gedra het, sommige baie ernstig, ander minder so, maar dit is nietemin gevolge. Ek weet nie van julle nie, maar ek kan sekerlik sommige van die gevolge onthou wat ek in my lewe moes dra oor tye wat ek ook teen die Here opstandig was. Ongelukkig - soos die kinders van Israel in sekere gevalle - het ek ook nie uit my persoonlike geskiedenis geleer nie en dieselfde fout tweemaal begaan, wat tot ernstiger gevolge gelei het. Onnodig om te sê, is ek nou meer bewus van my foute van die verlede en wend elke moontlike poging aan om dit nie te herhaal nie.
1 Korinthiërs / Korintim Alef {10:1} “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, {10:2} en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, {10:3} en almal dieselfde geestelike spys geëet het, {10:4} en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. {10:5} Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. {10:6} En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie.”
Paulus het die Korinthiërs - en natuurlik ons hier ook - gewaarsku dat alles wat met die kinders van Israel gebeur het, gebeur het om vir ons as voorbeeld te dien. Eenvoudig gestel, sê hy: "As ons nie uit ons geskiedenis leer nie, gaan ons dieselfde foute herhaal!".
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2010-07-25
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking