Ekev
(As Gevolg van)
Deuteronomium / Devarim 7:12-11:25
Jesaja / Yeshayahu 49:14-51:3
Romeine / Romim 8:31-39
Deuteronomium / Devarim {8:2} "En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie. {8:3} En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan."
Met die lees van hierdie verse uit oordenking Ekev, het my hart werklik uitgegaan na al die mense wat nie meer die gemeente Melech Yisrael bywoon nie omrede hul geloof vernietig is deur beproewing en swaarkry, wat hul ervaar het. Ek is juis besig met 'n geval waar 'n gesin deur 'n tragedie getref is, maar in plaas daarvan dat hulle daardeur nader aan God gekom het, blyk dit dat hulle steeds verder wegbeweeg, wat waarlik te betreur is. Openbaar hierdie tragedie moontlik wat werklik in hul harte aangegaan het? Sommige mense mag my selfs vra hoe ek dit kan sê, hoedat ek so wreed in my oordeel kan wees? Wel , ek kán dit sê omdat dit nie werklik ek is wat dit sê nie, dit is God.
Indien ons wil weet hoe God met ons handel, hoef ons slegs in die Bybel te lees hoedat God met die kinders van Israel handel. In hierdie week se oordenking, sê God dat Hy die kinders van Israel doelbewus in die woestyn ingestuur en toegelaat het dat hulle honger en dors ly, sodat Hy hulle kon verootmoedig om te besef wat in hul harte was. Dis maklik vir mense om God lief te hê, Sy gebooie na te kom, gereeld eredienste by te woon, gemeentediens te verrig, tiendes te gee wanneer hulle voorspoed ervaar en hulle geseën word, of dit nou matig of oorvloedig is.
Hoe hanteer hulle egter hul verhouding met en verbondenheid tot God wanneer teenspoed, tragedie, swaarkry en beproewing oor hulle kom? Wat doen hulle dan, want volgens God is dit die ware bewys van hulle geloof. Dit is soos wat dit in die leër gaan: offisiere weet nooit van watter stoffasie 'n voetsoldaat gemaak is nie totdat hulle in 'n oorlogsituasie verkeer en die vyand moet konfronteer. Daarom is hulle baie besig om die troepe waar te neem en evalueer, om te sien wie is geskik en dié word vertrou en aangewend. Hoeveel te meer onse God!
Hoe dikwels het ek al persone geskakel omdat ek hulle nie by eredienste op die Sabbat gesien het nie, net om te verneem dat hulle tuisgebly het omdat hulle te moeg was na 'n moelike week by die werk of depressief of ietwat ongesteld gevoel het. Sondag was hulle egter uit om inkopies te doen of hul daaglikse huiswerk te verrig en Maandag was hulle terug by die werk asof niks gebeur het nie.
Hoe jammer tog want God het hulle waarskynlik getoets en hulle het hopeloos gefaal. Hy het hierdie dinge soos moegheid, depressie of 'n ligte ongesteldheid oor hulle laat kom om hulle te toets sodat hulle sou weet wat in hul harte aangaan. "Hoe kan 'n liefdevolle God sulke dinge doen?" kan julle moontlik vra. "Sou God werklik iemand in depressie laat verval?" As julle wel glo wat in die Bybel geskryf staan, sou julle nie eers so 'n vraag hoef te vra nie. Ja, Hy sou dit doen , om sodoende te openbaar wat werklik in ons harte is. Indien Hy Israel vir veertig jaar in die woestyn gestuur het en hulle honger en dors laat ly het, waarom sou Hy ons dan nie deur hierdie dinge beproef nie?
God vereis dat ons Hom eerste in ons lewens stel, wat, trouens een van Sy gebooie is, indien nie die vernaamste van almal nie:
Deuteronomium / Devarim {6:5} "Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. {6:6} En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees;"
Wanneer iemand God met sy hele hart en siel liefhet, sou hy sy werk vóór Hom stel? Sou hy toelaat dat depressie tussen hom en God kom? Sou hy nie kom en God aanbid, selfs as hy 'n bietjie onwel was nie? Gelowiges in Jesus die Messias is tog maar altyd geneig om God tweede te stel. Hulle stel selfs die motorwerktuigkundige en die televisie-hersteltegnikus voor Hom en verwag dan natuurlik om nogtans geseën te word. Ek het ookal dikwels gehoor dat mense sê hulle hoef nie die eredienste by te woon omdat hulle God netsowel in die privaatheid van hul wonings kan aanbid. Dit is 'n leuen uit die diepte van die hel en sowel diegene wat dit sê as dié wat dit glo, bedrieg hulself. Die Bybel is nie vir individue gegee nie maar wel vir gemeenskap van mense; daarom kon die skrywer van Hebreërs onomwonde sê:
Hebreërs / Ivrim {10:24} "en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; {10:25} en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom."
Ek dink ons moet ernstig besef dat ons nie kan wegkom deur dinge op óns manier te doen nie. Ons sal onsself moet bewys, al sou dit met moeilikhede en swaarkry gepaardgaan, sonder om die Here te kompromiteer. Jesus die Messias het dit op die allerbeste so gestel:
Matthéüs / Mattityahu {10:37} "Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. {10:38} En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. {10:39} Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind. "
Jesus vertel vir ons presies dieselfde as die verse wat ek aan die begin uit oordenking Ekev aangehaal het, Hy sê dat Hy julle toewyding aan Hom sal toets, selfs deur jul gesinne, om te sien of julle opreg is. Basies gestel, sê Jesus die Messias:
Deuteronomium / Devarim {6:5} "Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. {6:6} En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees;"
Is dit wat julle doen?
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2009-08-08
AntwoordVee uitThanks for sharing, nice post! Post really provice useful information!
Giaonhan247 chuyên dịch vụ vận chuyển hàng đi mỹ cũng như dịch vụ ship hàng mỹ từ dịch vụ nhận mua hộ hàng mỹ từ trang ebay vn cùng với dịch vụ mua hàng amazon về VN uy tín, giá rẻ.