Saterdag 05 November 2016

Wandel Met God



Noach
(Noag)


Genesis / Bereshit {6:14} "Maak vir jou ‘n ark van goferhout. Met afdelings moet jy die ark maak en dit binne en buite met pik bestryk. {6:15} Só moet jy dit maak: drie honderd el die lengte van die ark, vyftig el sy breedte en dertig el sy hoogte. {6:16} ‘n Opening moet jy aan die ark maak; en op die maat van ‘n el moet jy dit aan die bokant afwerk en die deur van die ark aan die sykant insit. Jy moet dit met ‘n onderste, tweede en derde verdieping maak."

Hierdie Skrifgedeelte vind ek absoluut verstommend! Besef julle dat dié drie verse die volle omvang van die opgetekende opdragte van God aan Noag is. Vir die konstruksie van 'n 137 meter (450 voet) by 23 meter (75 voet) wye en bykans 14 meter (45 voet) hoë drieverdiepingskip? Wat nog meer verbasend is, is dat Noag hierdie skip in 'n plek moes bou, waar - na ons beste wete - geen oseane of selfs 'n meer was nie. Daarom, as daar dan geen oseane of mere dáár was nie, is dit waarskynlik dat Noag nooit in sy lewe 'n boot gesien het nie, laat staan nog 'n skip. Toegegee, dat baie mense geglo het dat die boot meer soos 'n ontsaglike groot vragskuit / barg ("barge") was, maar hy sou ook nooit 'n vragskuit gesien het nie; trouens, ek twyfel of hy selfs geweet het wat dit was.

Meeste van ons sou redeneer dat dit onmoontlik was dat Noag hierdie ark gebou het en dit dus as 'n fabel afgemaak het. Dit is inderdaad bejammeringswaardig dat meeste Christene wat die Tanach (Hebreeuse Geskrifte) lees, dink dat die merendeel van die verhale daarin vervat, bloot fabels is. Hulle meen dat dit eenvoudig onderrigmediums is, deur God gebruik, om 'n punt of konsep verstaanbaar te maak - baie soos die gelykenisse van Jesus. Niks kon egter meer werklik gewees het as die ark nie. Selfs al sou God hierdie verhaal van 'n ware gebeurtenis, bloot as 'n onderrigmedium gebruik het om ons van Sy karakter te leer, het Noag onteenseglik hierdie massiewe ark gebou, wat nie net hom en sy gesin nie, maar al die verskillende soorte diere, wat op aarde was, gehuisves en gered het.

Met ons beperkte begrip, is dit vir ons moeilik om te begryp hoedat hy, onopgelei in die fyn kuns van bootbou, moontlik iets kon bou wat op water sou kon dryf. Dit is moontlik vir ons nóg moeiliker om te begryp dat hierdie persoon die logika van waterverplasing, gewigsverspreiding ens. sou verstaan het, sodat die ark sou kon drywe en nie omslaan nie! Daarbenewens is daar hoegenaamd geen aanduiding in die Skrif dat God vir Noag in die Hemel opgeneem en hom van bootbouplanne - volledig met 'n lys in besonderhede van boumateriale - voorsien het nie, soos wat Hy met Moses gedoen het, toe hy opdrag gekry het om 'n tabernakel in die woestyn te bou. Van wat ons uit die Skrif kan aflei, blyk dit dat Noag vir hierdie projek op homself aangewese was. Selfs om al die materiale te bekom en dit by die bouterrein te besorg, blyk uitsluitlik Noag se taak te gewees het. Noag was egter nie alleen nie. Ja, hy het seuns gehad om hom te help, maar selfs belangriker as dit, Noag het ook 'n ander Helper gehad. Die Skrif verskaf vir ons 'n sinspeling op Wie daardie Helper was.

Genesis / Bereshit {6:9} "Dit is die geskiedenis van Noag. Noag was ‘n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel."

Noag is die tweede van slegs twee persone in die ganse Bybel wie, wat ons verneem, met God gewandel het. Die ander een was Henog.

Genesis / Bereshit {5:22} "En Henog het ná die geboorte van Metúsalag nog drie honderd jaar met God gewandel. En hy het seuns en dogters gehad."

God het Abraham versoek om onberispelik voor Hom te wandel, maar nêrens in die Skrif lees ons dat selfs Abraham hierdie vlak bereik het, waar die Skrif van hom kon sê dat hy met God gewandel het nie. Om met God te wandel en in die Skrif daarvoor aangeprys te word, moet dus van besondere betekenis wees en is inderdaad ook so. Dit vereis verbondenheid om met God te wandel. Dit vereis ook 'n innerlike besluit wat 'n mens toelaat om aanhoudend die innerlike influistering van die Heilige Gees te hoor. Henog het met God gewandel en het gevolglik nie soos alle mense gesterwe nie. Noag het met God gewandel en was, as gevolg daarvan, die enigste mens op die hele aarde, wat uitgekies is om die vloed te oorleef en hy het ook sy gesin saam met hom gehad.

Om te lewe as 'n gelowige, word dikwels na verwys as "wandel" en in die Skrif word ons soos volg aangespoor:

Efesiërs / Efosos {5:15} "Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse;"

Ons wandel, as gelowiges in Jesus die Messias, word geag om in volmaakte gehoorsaamheid aan die Wil en Woord van God te verkeer; van hoeveel van ons kan God egter sê dat ons met Hom wandel?

2 Konings / Malachim Bet {20:3}" Ag, HERE, dink tog daaraan dat ek voor u aangesig in trou en met ‘n volkome hart gewandel het en gedoen het wat goed is in u oë. En Hiskía het bitterlik geween."

Ek glo dat hierdie Skrifgedeelte die beste beskrywing is van om met God te wandel. Om met Hom te wandel, skyn meer veelseggend te wees van iets veel meer intiem: soos twee vriende wat stap en saam gesels en algaande mekaar se diepste, intiemste binnestes ervaar. Beide Noag en Henog het hierdie tipe verhouding met God gehad. Hulle het in God se wêreld geleef terwyl hulle nog op aarde was. Daarom kan ons vermoed dat Noag 'n onsienlike, onopgetekende gemeenskap met God gehad het. Dit is wat die eenvoudige verklaring:" Noag het met God gewandel", beteken. Was Noag dus alleen in sy projek om hierdie ongelooflike, skynbaar onmoontlike ark te bou? Nee, die Heilige Gees het hom gelei en God was by Hom elke tree van die pad, want Noag het met God gewandel.

Matthéüs / Mattiyahu {19:26} "Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik." 

Filippense / Pilifim {4:13} "Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee."

Kom gou Jesus!

Voorheen uitgegee: 2010-10-24

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking