VaYikra
(En Hy Het Geroep)
Moet Hulle Tog Nie My Sondes Toereken Nie
Daar is twee baie belangrike aangeleenthede wat in hierdie week se Tora oordenking gemeld word, wat ek met julle wil deel. Die eerste een in die volgende twee Skrifgedeeltes:
Levitikus / VaYikra {1:1} “En die HERE het Moses geroep en met hom gespreek uit die tent van samekoms en gesê: {1:2} Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As iemand van julle aan die HERE ‘n offer wil bring, kan julle jul offer bring van vee—van beeste of van kleinvee. {1:3} As sy offer ‘n brandoffer is van beeste, moet dit ‘n bul sonder gebrek wees wat hy bring. By die ingang van die tent van samekoms moet hy dit bring, sodat hy welgevalle voor die aangesig van die HERE kan vind.”
Levitikus / VaYikra {2:1} “En as iemand aan die HERE ‘n spysoffer bring, moet sy offer fynmeel wees; en hy moet olie daarop giet en wierook daarby voeg; {2:2} en hy moet dit na die seuns van Aäron, die priesters, bring; en die priester moet daarvan ‘n handvol neem, van die fynmeel met die olie, met al die wierook wat daarby behoort; en hy moet dit as die gedenkoffer op die altaar aan die brand steek, ‘n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE.”
In beide hierdie gedeeltes uit oordenking VaYikra geneem, word die woord “Wanneer” in verband met die offer van die karbanot (offerandes) gebruik. Hieruit lei ons af dat offerandes aan God vir sonde of enigiets anders, soos dankseggingsoffers, nie opsioneel was nie. God wéét dat niemand onder ons bestand is teen sonde nie – wat immers deel van ons gevalle natuur is – en juis daarom was die bring van offerandes nie “Indien” nie, maar “Wanneer”.
Prediker / Kohelet {7:20} ”want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie.”
Paulus het hierdie stelling in die Brit Chadasha (Nuwe Testament) herhaal, toe hy gesê het:
Romeine / Romim {3:23} “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,”
Omrede die offerandstelsel vandag nie langer bestaan of 'n tempel is waarin dit geoffer kan word nie, meen baie gelowiges, veral diegene in die kerke, dat die “offerhandstelsel” afgeskaf is. Die feit is egter dat dit hoegenaamd nie die geval is nie! Jesus is nóú ons ewige korban. Aangesien Hy nou in die hemel is en aan die regterhand van God sit en ons wel sondig en dit bely en Sy naam aanroep, word Hy die toepaslike korban vir die sonde wat ons gepleeg het.
Die punt is egter dat belydenis en berou 'n vername plek in 'n gelowige se lewe moet inneem. Netsoos die offer van die korbanot, tydens die tabernakel – en tempelperiodes, hoegenaamd nie opsioneel was nie, netso is belydenis en berou, deur die koms van Jesus die Messias, as ons ewige korban, vandag ook nie opsioneel nie. Gelowiges se lewens móét van belydenis en berou getuig. “Wanneer” ons dus sondig, want ons almal is daartoe geneig, moet ons aan God 'n aanneemlike korban bring – dit is Jesus die Messias! Die tweede aangeleentheid is na aanleiding van die volgende Skrifgedeelte:
Levitikus / VaYikra {4:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {4:2} Spreek met die kinders van Israel en sê: As iemand in swakheid sondig teen een van alle gebooie van die HERE en een van die dinge wat nie gedoen mag word nie, tog doen {4:3} as die gesalfde priester sondig, sodat die volk daardeur skuldig word, moet hy vir die sonde wat hy gedoen het, ‘n jong bul sonder gebrek aan die HERE as sondoffer bring;”
Leierskap verg 'n geweldige verantwoordelikheid. Ons lees hierbo dat die sondes van die priester (cohen), skuld oor die hele volk gebring het. Ek aanvaar dat dit vandag steeds op enige gemeenteleierskap van toepassing is. Hierdie leiers verteenwoordig immers die gemeente voor Jesus. Dit is hulle wat verantwoordelik is vir dít wat hulle onderrig en verkondig; erger nog, is dat die gevolge van hul sonde besoek word aan diegene onder hulle leiding – die kudde waarvoor hulle verantwoordelik is! Indien 'n leier ontug pleeg, sal daar ontug onder die gemeentelede voorkom. Waar 'n leier by pornografie betrokke is, sal daar ook gemeentelede wees wat hulle aan pornografie skuldig maak. Die verhouding wat leiers met hul eggenotes en gesinne het, sal ook gesinsverhoudinge van die gemeentelede beinvloed. Die wyse waarop leiers teenoor 'n kassiere by 'n kruidenierswinkel optree, sal 'n invloed op die geestelike toestand van die gemeente hê. Eweneens, as leiers kettery beoefen sal die geestelike toestand van die gemeente daaronder ly. Die sondes van die leierskap sal aan die gemeente toegereken word, net soos die sonde van die priester skuld oor die volk gebring het. Daarom moedig ek elkeen in 'n leierskapposisie aan om voorbeeldig te lewe, indien nie slegs vir hul eie onthalwe nie, dan wel ter wille van diegene wat deur hulle gelei word.
Aangesien ek self ook nie volmaak is nie, is daar 'n gebed wat ek ontvang het vir ingeval ek op één of ander wyse gesondig het deur wat ek moontlik kon gedoen of gesê het – doelbewus of onwetend. Ek wil tog nie dat my sonde 'n nadelige invloed op die gemeente sal hê nie! Daardie gebed is: “Vader, moet tog nie diegene wat ek lei, mý sonde toereken nie.”
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2010-03-20
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking