✦

Chayei Sarah - Sara het geleef


Eksodus {34:6} "En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; {34:7} wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag."

Het jy al ooit gewonder waarom sommige gesinne geneig is om herhalende tragiese patrone in hulle lewens te hê? Wanneer hulle terugkyk na hulle familiegeskiedenis, vind hulle herhalende dinge soos egskeiding, geen vader in die huis nie, persoonlike mislukkings, finansiële probleme, homoseksualiteit, dwelm- en alkoholverslawing, ontydige sterftes, depressie, geestesongesteldheid, onverklaarbare gesondheidsprobleme, vrees en baie ander herhaalde teëspoede wat oor die geslagte van hulle familie voorgekom het? Ek het gehoor dat alkoholisme, tabakverslawing en kriminele gedrag genetiese vatbaarhede is, maar is dit waar? Genetika verklaar waarom ons soos ons ouers lyk, maar kan genetika verklaar waarom sekere rampe deur familielyne teruggevoer kan word? Is dit moontlik dat daar meer aan die werk is as net die rangskikking van chromosome? Kan die sondes van ons ouers, grootouers en selfs ons oupagrootjies en oumagrootjies vir ons kwessies word? Is ons geestelik aan ons geslagte gekoppel?

Dit mag vir sommige moeilik wees om te aanvaar dat ons sondes besoek word aan ons kinders en kleinkinders tot in die derde en vierde geslag. Wat God egter in die vers wat ek aangehaal het gesê het, is nie 'n alleenstaande geval in die Skrif nie. Ek het dit nog vier ander kere gevind. (Eksodus 20:3-6; Numeri 14:18; Deuteronomium 5:9-10; en Jeremia 32:17-18). Aangesien hierdie waarskuwing ten minste vyf keer in die Skrif herhaal word, dink ek dit is veilig om te sê dat God dit as betekenisvol beskou en die moeite werd ag om aandag aan te gee.

Eerstens is dit baie belangrik dat ons verstaan dat God barmhartig, genadig, lankmoedig, ryk aan goedertierenheid en trou is, en dat Hy die sonde vergewe van dié wat Yeshua as hulle Verlosser aangeneem het en hulle sondes bely en hulle bekeer het. Maar hoe kan ons die sondes van vorige geslagte bely wat moontlik aan ons besoek is?

Die sleutel tot vergifnis is om vir vergifnis te vra. As ons nie vra nie, bly ons skuldig aan ons sondes, en soos ons in Eksodus 34 lees, laat God ons skuld nie ongestraf bly nie, maar besoek Hy ons ongeregtigheid aan ons kinders en ons kindskinders vir baie geslagte wat kom. Dit is 'n baie skrikwekkende gedagte vir sowel ouers as hulle kinders! Dink net daaraan! As ons ouers of jou voorvaders sondes gepleeg het en nagelaat het om die Here om vergifnis te vra, kan ons die gevolge van hulle sondes ly, al het ons Yeshua as ons Messias aangeneem!

Neem 'n oomblik om oor ons sondes en hulle moontlike verband met vorige geslagte na te dink. Bid dan hierdie aanpassing van Nehemia se gebed om die vloek van geslagsonde in jou lewe te breek

Nehemia 1:5 "Ag, HERE, God van die hemel, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat U liefhet en u gebooie onderhou: laat u oor tog opmerksaam en u oë oop wees, om te luister na die gebed van u kneg wat ek nou voor u aangesig bid vir my voorvaders, terwyl ek die sondes bely wat hulle teen U gedoen het. Ek bid ook voor U en bely my sondes en die sondes van my vader se huis. Ons het baie verkeerd gehandel teenoor U, en ons het die gebooie en insettinge en verordeninge wat U aan Moses, u kneg, beveel het, nie gehou nie. Ek vra U om my voorvaders, my vader se huis en my ons sonde te vergewe. Ek vra U om my te reinig van alle ongeregtigheid wat my toegereken word weens hulle sonde en myne. Ek vra dit in die Naam van, en deur die bloed gestort deur, Messias Yeshua."

Titus {2:13} "…terwyl ons die salige hoop verwag en die verskyning van die heerlikheid van die grote God en ons Verlosser, Messias Yeshua."

Shabbat shalom

Jack


D’VAR TORAH

CHAYEI SARAH / SARA HET GELEEF

B’RESHEET / GÉNESIS 23:1-25:18

Génesis {23:1} "En die lewensdae van Sara was honderd-sewen-en-twintig jaar. Dit was die lewensjare van Sara. {23:2} En Sara het gesterwe in Kirjat-Arba, dit is Hebron, in die land Kanaän; en Abraham het gekom om oor Sara te rouklaag en haar te beween. {23:3} Daarna het Abraham opgestaan, van sy dode af weg, en met die seuns van Het gespreek en gesê: {23:4} Ek is 'n vreemdeling en bywoner onder julle. Gee my 'n graf as besitting by julle, dat ek my dode van my af weg kan begrawe."

Die woord “egskeiding” behoort nooit op die lippe van 'n gelowige in Messias Yeshua te wees nie; God haat egskeiding! 'n Huwelik moet, soos enige gelofte wat voor God afgelê word, nagekom word op gevaar daarvan om onder die oordeel van God te val. Maar wat gebeur as jy getroud is met 'n mishandelende persoon, 'n dronkaard, of erger nog, wat gebeur as jou eggenoot owerspel pleeg? My lewensbeskouing is dat dit drie neem om 'n huwelik te maak (man, vrou en Yeshua), en as Yeshua ontbreek, net twee om een op te breek (man en vrou).

Dit is interessant om op te let dat baie van die heiliges in die Bybel moeilike huweliksverhoudings gehad het. Byvoorbeeld: Moses en Sippora het oor die besnydenis van hulle seun gestry; daardie konflik het daartoe gelei dat hulle van mekaar geskei het.

In hierdie week se Parasha lees ons dat Sara in Hebron gesterf het, terwyl ons in verlede week se Parasha vertel is dat Abraham in Berséba gewoon het. As hy op vandag se hoofweë gereis het, sou hierdie twee stede net 45 kilometer van mekaar af wees, 'n rit van agt-en-twintig minute (sonder verkeer). In Abraham se tyd het die tog egter deur droë, ruwe, harde, bergagtige terrein sonder paaie gegaan; 'n moeilike, lang en uitputtende reis vir enigiemand, veral vir 'n man van Abraham se ouderdom. Dit is dus duidelik dat Abraham en Sara teen die einde van hulle lewens van mekaar geskei was.

Génesis {22:19} “En Abraham het na sy dienaars teruggekeer; en hulle het klaargemaak en saam na Berséba gegaan. En Abraham het in Berséba bly woon.”

Daar word geglo dat Abraham en Sara uitmekaar is oor die Akeda (die binding van Isak), maar daar is geen werklike bewys daarvan nie. As ons egter hierdie mening as waar aanvaar, sou dit beteken dat Moses sowel as Abraham met hulle vrouens gestry het en uitmekaar is weens meningsverskille oor hulle kinders. Kinders is belangrik, maar hulle behoort beslis nie tussen paartjies te kom wat mekaar liefhet en God in die middelpunt van hulle huwelik het nie.

Moses en Abraham was groot manne van God wat belangrike rolle in die Bybelse en die wêreldgeskiedenis gespeel het. Wat was dit wat in hulle lewens of in hulle huwelike ontbreek het, wat slegs deur skeiding opgelos kon word? Wat geleerdes of ek ook al dink tussen hierdie twee paartjies gebeur het, die waarheid sal eers bekend word wanneer ons in die hemel kom en hulle ontmoet, en teen daardie tyd sal ons waarskynlik in elk geval nie meer omgee nie.


Ek steun baie op my vrou se mening en glo dat ons belangrike besluite altyd moet bespreek. Ek glo egter ook dat die finale besluit, as die man, myne behoort te wees. My vrou weet dat ek God vrees en dat ek nooit 'n groot besluit sal neem sonder om God eers in gebed, en waar nodig met vas, te raadpleeg nie. Miskien is die verskil tussen my vrou en die vrouens van Moses en Abraham dat my vrou met dieselfde Heilige Gees vervul is as ek; ons het albei die Gees by ons redding in ons lewens ontvang. Daarom herken sy wanneer dit God is wat deur my werk en wanneer dit my vlees is wat my lei. Ek glo nie dit was die geval met Sippora en Sara nie. Daar is geen aanduiding in die Skrif dat hulle met die Heilige Gees vervul was nie. Die Gees is in daardie tyd van die geskiedenis nog nie op alle vlees uitgestort nie (Handelinge 2:17). Die Heilige Gees het slegs gerus op dié na wie die Here Hom gestuur het, en selfs dan het Hy gekom en gegaan soos die Here dit bedoel het.

Dit bring ons terug by wat ek aan die begin gesê het: Dit neem drie om 'n huwelik te maak en slegs twee om een op te breek. Dit blyk dat sowel Sippora as Sara moontlik die derde persoon in hulle huwelike kortgekom het.

Moses en Abraham het, soos so baie van ons vandag, in hulle verhouding met die Here gesukkel. Dit kan 'n verklaring vir hulle skeidings wees. Miskien het hulle, wat hulle huwelike betref, meer in die vlees as in die Gees opgetree.

Ook My Hartsbegeerte

Noach
(Noag)

Ook My Hartsbegeerte

Genesis / Bereshit {8:20} “En Noag het vir die HERE ‘n altaar gebou en van al die rein diere en al die rein voëls geneem en brandoffers op die altaar gebring. {8:21} En die HERE het die lieflike geur geruik, en die HERE het in sy hart gesê: Ek sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie, want die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af. En Ek sal verder nie meer al die lewende wesens tref soos Ek gedoen het nie. {8:22} Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.”

Daar is feitlik geen boek in die Bybel waar die woord “sonde” nie met betrekking tot die mens gebruik word nie. Een van die belangrikste Skrifgedeeltes wat oor die sonde van die mens handel. Kom in die boek Jeremia (Yirmeyahu) voor:

Jeremia / Yirmeyahu {17:9} ”Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?”

In sy ongeredde en onwedergebore toestand, is die menslike hart uitermate boos. Is dit dan geen wonder dat ons ten einde nuwe skepsels te word wat aan God toegewy is en met Sy liefde gevul te wees, nuwe harte moet ontvang nie?

Esegiël / Yechkiel {36:26} ”En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. {36:27} En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.”

Een van die vernaamste struikelblokke en twispunte tussen die Messiaanse Judaïsme en tradisionele Judaïsme is die verkryging van ‘n nuwe hart. Judaïsme, in sy huidige vorm, kan nie die transformasie, wat mense beleef wanneer hulle Jesus die Messias as hul Heer en Redder aanneem, begryp nie. Hulle verwerp die geloof in Hom, vanweë beperkte menslike redeneervermoë en ‘n sondige hart.

God het hul oë met ‘n sluier bedek. My oë was ook eens bedek en ek het ook met die Christendom die spot gedrywe. Ek het wedergebore Christene as ‘n eienaardige klomp beskou. Dit was egter nie totdat ek gebroke, verneder en ‘n laagtepunt in my eie lewe bereik het nie, dat ek die Here aangeroep en Hy my verhoor het, maar nie soos ek verwag het nie!

Ek het nie vir Jesus as die Messias gesoek nie, maar eerder verlossing deur ‘n God wat ek geweet het, bestaan en met Wie ek nooit werklik ‘n verhouding gehad het nie. Ek het ‘n punt bereik wat ek met graagte Ortodokse Judaïsme sou aanneem, indien God dit op my pad gelê het, maar dit het nie gebeur nie! In plaas daarvan het Hy aan my ‘n nuwe hart geskenk en my koue hart van klip weggeneem. Sondigheid het my letterlik verlaat en is deur goedheid vervang. Hoe verduidelik ‘n mens só iets aan die Jode in Judaïsme? Hoe kan ‘n mens dit aan hulle vertel sodat hulle dit sou begryp? Dit is onmoontlik! Dit wat ek, asook miljoene mense soos ek, op die oomblik van verlossing ervaar het, kan hoegenaamd nooit in woorde uitgedruk word nie.

Daardie Jode wie se oë nog geheel-en-al versluier is, kan nie sien nie, en begryp nie wat ons hulle vertel nie. Juis daarom verdedig hulle hul blinde godsdienstige gelowe so heftig. Kom ons wees eerlik: Judaïsme, net soos vele ander gelowe, het die krag en werkinge van die Heilige Gees probeer vervang. Hulle het gepoog om die Gees se vermoë te vervang om ‘n sondige hart weg te neem en dit met ‘n nuwe hart met werke van die vlees, te vervang.

Oor die algemeen, is die menslike hart steeds sondig omdat dit “van sy jeug af sondig was”. As bewys hiervan, hoef ons maar net na die wêreldtoestand van vandag te kyk: Ons wentel af tot die rand van vernietiging deur kernoorlog. Hoeveel boser kan dinge in die wêreld raak as wanneer ‘n nasie van mening is dat kernwapens nodig is as afskrikmiddel teen die aggressie van ander volkere? Dit is slegs ‘n kwessie van tyd wanneer die volheid van boosheid in die hart van die mens bereik word, wanneer vrees, agterdog en haat voldoende rede sal wees om ‘n wêreldwye uitwissing aan die gang te sit.

Dit is geen wonder dat die apostel Paulus (Shaliach Shaul) die volgende aangaande sy Joodse broeders geskryf het nie.

Romeine / Romim {10:1} “Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding. {10:2} Want ek getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis. {10:3} Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie. {10:4} Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.”

Dit is ook my hartsbegeerte.


Kom gou Jesus!



Voorheen uitgegee: 2010-10-09


Ek Volstaan Daarmee

BeReshit
(In die Begin)

Genesis / BeReshit {1:1} ”In die begin het God die hemel en die aarde geskape. {1:2}  En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.”

Sedert Darwin om en by 1884 met sy leer van “The Origin of the Species” na vore gekom het – vandag beter bekend as “ Die Teorie van Evolusie” – is die skeppingsbegrip steeds ter sprake. Die geloof in ‘n Skepper van hemel en aarde en alles wat bestaan, met inbegrip van die mens, is sedertdien meedoënloos betwis. Nou, alhoewel Darwin se teorie nooit as korrek bewys is nie en Darwin self sy teorie op sy sterfbed gerepudieer het, het die Evolusieteorie daarin geslaag om nog te bestaan, vooruit te gaan en selfs te floreer. Dit word nou bykans universeel in meeste publieke skole oor die wêreld heen geleer.


Dit alles ten spyte daarvan dat Darwin se teorie in werklikheid ‘n teorie in krisis is. Dit is in krisis vanweë die geweldige vooruitgang wat ons die vyftig jaar in molekulêre biologie, biochemie en genetika behaal het. Hoe dit ookal sy, al hierdie mens-onthullende bewyse is sekondêr wanneer die groot hoeveelheid profetiese Bybelse getuienisse, wat verklaar dat God waarlik Skepper van die hemel en aarde is, in ag geneem word. As bewys, verwys ek na hierdie gedeelte van die profeet, Jesaja, dieselfde profeet wat die geboorte van Jesus die Messias voorspel het:


Jesaja / Yeshayahu {40:1} ”Troos, troos my volk, sê julle God. {40:2}  Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die HERE dubbel ontvang het vir al haar sondes. {40:3}  ‘n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse God! {40:4}  Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ‘n gelykte en die rotsagtige plekke ‘n laagte word. {40:5}  En die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien: want die mond van die HERE het dit gespreek. {40:6}  ‘n Stem sê: Roep! En hy vra: Wat moet ek roep? Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ‘n blom van die veld. {40:7}  Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die HERE daarin blaas. Voorwaar, die volk is gras! {40:8}  Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid. {40:9}  o Sion, verkondiger van goeie boodskap, klim op ‘n hoë berg! o Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Juda: Hier is julle God! {40:10}  Kyk, die Here HERE sal kom as ‘n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig. {40:11}  Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei. {40:12}  Wie het die waters met die holte van sy hand afgemeet, en van die hemele met ‘n span die maat geneem, en in ‘n drieling die stof van die aarde opgevang, en die berge geweeg met ‘n weegtoestel en die heuwels met ‘n weegskaal? {40:13}  Wie het die Gees van die HERE bestier en as sy raadsman Hom onderrig? {40:14}  Met wie het Hy raad gehou, dat dié Hom verstand sou gee en Hom sou leer aangaande die pad van die reg, en Hom kennis sou leer en Hom bekend maak die weg van volledige insig? {40:15}  Kyk, die nasies is soos ‘n druppel aan die emmer, en soos ‘n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. Kyk, Hy hef die eilande op soos ‘n stoffie! {40:16}  En die Líbanon is nie genoeg as brandhout en sy wild nie genoeg as brandoffer nie. {40:17}  Al die nasies is voor Hom soos niks: as niks en nietigheid word hulle by Hom gereken. {40:18}  By wie wil julle God dan vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel? {40:19}  Die ambagsman giet ‘n beeld, en die goudsmid trek dit oor met goud en smelt silwerkettings. {40:20}  Wie te arm is vir so ‘n offergawe, kies ‘n stuk hout wat nie vergaan nie; hy soek vir hom ‘n kunsvaardige ambagsman om ‘n beeld op te rig wat nie wankel nie. {40:21}  Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit julle nie van die begin af bekend gemaak nie? Het julle nie op die fondamente van die aarde gelet nie? {40:22}  Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit soos ‘n dun doek en sprei dit uit soos ‘n tent om in te woon. {40:23}  Hy maak die vorste tot niet, die heersers van die aarde verander Hy in nietigheid; {40:24}  skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars wortel hulle stam in die grond, of Hy blaas op hulle, sodat hulle verdor, en die storm voer hulle weg soos ‘n stoppel. {40:25}  By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige. {40:26}  Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie. {40:27}  Waarom sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir die HERE verborge, en my reg gaan by my God verby? {40:28}  Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ‘n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie. {40:29}  Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. {40:30}  Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; {40:31}  maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie. ”


Ek volstaan daarmee! Die Evolusieteorie is nie bloot ‘n teorie nie - dit is ‘n vorm van afgodsdiens. Dit ontken die bestaan van ‘n Skepper en verwys na Sy skepping as blote toeval. Mag God die siele van hulle wat dit glo en verkondig genadig wees!

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-10-02

God (HaShem) Kan Vir Jou 'n Nuwe Hart Gee



B'reisheet 
(In Die Begin)

Genesis / BeReshit 1:1 - 6:8
1 Samuel / Sh'muel Aleph 20:18 - 42
Johannes / Yochanan 1:1 - 5

Genesis / Bereshit {6:5} "Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was" 

Ek beskou myself as doodnormaal, maar soms voel ek asof ek kan ineenkrimp oor sekere gedagtes wat in my binneste opkom. Ek kan met iemand gesels of na hom / haar luister en plotseling kan 'n verskriklike gedagte by my opkom. Ek neem dit natuurlik altyd gevange deur Jesus die Messias, maar stel julle voor as dit moontlik was om mekaar se gedagtes te kon lees! Dink net daaraan! Indien dit vir mense moontlik was om die werklike óns en nie die ons wat ons voorgee om te wees of selfs die ons wat ons dink ons is nie, te hoor. 'n Skrikwekkende gedagte, maar wat as dit moontlik was - wat sou mense van ons gedink het?

Ons gedagtes is die eintlike werklike ons en God ken ons hart. As die verbeeldingsvermoë van die gedagtes van ons woede, wraak, haat, afguns of enige soort boosheid is, dan sien God ons as sulks. Hy ken ons gedagtes en sien ons net soos ons werklik is.

1 Kronieke (28:9} / Divre HaYamim Alef "En jy, my seun Salomo, ken die God van jou vader en dien Hom met ‘n volkome hart en met ‘n gewillige siel, want die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind; maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verstoot"

Ons kan God nie bedrieg nie: Hy kyk na die hart. Ons moet verder as ons politieke korrektheid en bedrieglike beleefdheid gaan en by die houding van ons hart uitkom, want dít is wat Hy beoordeel.

Wanneer iemand julle aanstoot gee of misbruik van julle maak, wat dink julle dan? Is dit hoe om hom te vergeld? Daardie gedagte is wat julle waarlik is. Indien julle beledig word maar dit oënskynlik gedweë aanvaar, maar van binne brand om wraak te neem, is dit wat julle werklik is.

Die enigste manier om voor God eerlik te wees, is om elke gedagte wat julle het, te ondersoek en bepaal of dit werklik is soos wat julle is, want dít is die ware mens wat God sien. Mense rondom julle mag moontlik deur julle beïndruk word - selfs gades mag miskien dink julle is net die voortreflikste, maar God sien nie wat hulle sien nie. God deursoek die hart.

Jeremia / Yirmeyahu (17:9} "Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?"

Wat God hier sê, is dat die ware julle, is wat julle in jul harte is en dat behalwe vir Sy Goddelike ingryping in jul lewens, jul harte die mees bedrieglike in die ganse wêreld is; trouens, niks of niemand anders kan julle so bedrieg of belieg, as julle eie harte nie. Nie slegs is die hart bedrieglik bo alle dinge nie, maar is dit ook uitermate boos. Dit bedoel dat, as dit aan sigself oorgelaat sou word - geskei van God in julle lewens - kan dit onuitspreeklik verskriklik wees waartoe julle in staat sou wees! Dit beteken dat geeneen van ons inherent goed is nie. As julle goeie - ook op morele gebied - mense is, tree julle op onder die beperkings en vrees vir gevolge, soos jul ouers julle geleer het óf julle gehoorsaam die wette, deur ons regering bepaal, wat in beide gevalle onseker en onvolhoubaar is. Die enigste volhoubare weg om 'n goeie en sedelike mens te wees, is om in Jesus die Messias te glo.

Jesája / Yeshayahu (64:6} " En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind." 

Ek glo nie dat God dit duideliker kon gestel het nie. Sy beoordeling van ons situasie - behalwe vir die herskeppende krag van die Heilige Gees, wat ons 'n nuwe hart gee en "Tora" daaroor skryf - is dat ons hart verlore is! Julle mag julself as goeie mense beskou, mensliewende - of Godsdienstige mense wat verdien om Heiliges te wees, maar voor God se aangesig is al jul goedheid soos vuil klere. Dit is omdat, sonder die Heilige Gees, jul motivering en bemagtiging nie deur God kan wees nie. Die rede is omdat julle nie aan God behoort nie; daarom word julle bedrieg, want dít is wat die hart doen - dit is bedrieglik en verskriklik boos.

Eségiel / Yechezkel {36:26} "En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee."

As julle in Jesus die Messias glo, dan woon God in wat Hy noem, jul harte; Hy het dan kom woon in daardie deel van julle, waar - volgens Hom - besluite geneem word. As gevolg daarvan, is Hy besig om jul harte te reprogrammeer, maar dit duur 'n leeftyd, omfdat die wêreld julle by sy standaarde will aanpas, maar die Woord van God wil julle herskep en gevolglik is daar 'n konstante tweestryd in ons harte.

Romeine / Romim {12:2} "En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is."

Die letterlike betekenis van die woord "vernuwing" is om die oue met die nuwe te vervang. Dit beteken dat die keuses wat jy normaalweg sou gedoen het - wat in die verlede hoofsaaklik daarop neergekom het om die self te bevredig - vervang sal word met keuses wat God sal behaag. Ten einde dit moontlik te maak, moet die Heilige Gees die Woord van God direk oplê op julle hart, met ander woorde dié plek waar God sê dat daardie keuses gemaak. Die Heilige Gees skryf die Tora op julle harte sodat julle die regte keuses kan doen - letterlik hervorm Hy julle harte.

Tensy ons die motivering van ons harte verander, sal ons self nie verander nie. Jesus die Messias het vir ons sondes geboet sodat ons as oorwinnaars kan lewe, maar ons keuses tydens ons lewe bepaal of ons in daardie oorwinning sal wandel.

Indien julle dit nog nie gedoen het nie, oorweeg dit asseblief in alle erns om Jesus die Messias in julle lewens in te nooi sodat God aan julle nuwe harte kan skenk.

Kom gou Jesus!

PDF Weergawe


Voorheen uitgegee: 2010-10-29