Shelach
(Ondersoek Jouself )
Numeri / BaMidbar {13:17} “En Moses het hulle gestuur om die land Kanaän te verken en vir hulle gesê: Trek hier in die Suidland op en beklim die gebergte. {13:18} En bekyk die land, hoe dit is, en die volk wat daarin woon, of dit sterk of swak, of dit min of baie is; {13:19} en hoe die land is waar hulle in woon, of dit goed of sleg is; en hoe die stede is waar hulle in woon, laers of vestings; {13:20} ook hoe die land is, of dit vet of skraal is, of daar bome in is of nie; en wees dapper en bring van die vrugte van die land saam. Dit was toe die tyd van die eerste druiwe. {13:21} En hulle het opgetrek en die land verken van die woestyn Sin af tot by Rehob, na die ingang van Hammat— {13:22} hulle het in die Suidland opgetrek en tot by Hebron gekom; en daar was Ahíman, Sesai en Talmai, die kinders van die Enakiete. En Hebron is sewe jaar voor Soan in Egipte gebou. {13:23} Daarop het hulle tot by die dal Eskol gekom en daar ‘n rank met een tros druiwe afgesny, en twee het dit aan ‘n draagstok gedra; ook van die granate en van die vye.”
Ek is seker ons is almal vertroud met die gesegde: “Die pad na ‘n man se hart, is deur sy maag”. Dit was egter geensins die geval met tien van die twaalf verspreiders wat Moses uitgestuur het nie. Was dit nie dieselfde mense wat nie lank tevore ook gekla het oor die gebrek aan smaaklike voedsel en die agteruitgang van beskikbare voedsel wat hulle onderweg na Kanaän moes verduur nie?
Numeri / BaMidbar {11:4} “En die gemengde bevolking wat onder hulle was, is met lus bevang. Toe het die kinders van Israel ook weer geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet? {11:5} Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel. {11:6} Maar nou is ons siel dor; daar’s glad niks nie: net die manna is voor ons oë.”
‘n Mens sou dink dat die kinders van Israel, onder hierdie omstandighede enigiets sou gedoen het om dié vrugbare oorvloedige land, wat hulle verken het, binne te gaan, om hulself uiteindelik daarin te verlustig en ‘n uiteenlopende keuse van voedsel te hê. Dit was egter hoegenaamd nie die geval nie! Dit is vreemd dat die kinders van Israel, vanweë hul gebrek aan smaaklike voedsel, selfs bereid was om Moses dood te maak, maar nie bereid was om te sterf ten einde sulke voedsel te bekom en ‘n land van hulle eie te besit nie.
Talle oorloë oor voedsel of die gebrek daaraan, is al gevoer; trouens, ‘n honger leeu is gevaarliker as een wat versadig is! Dus is dit onbegryplik dat die kinders van Israel so onwillig was om die land wat God aan hulle belowe het, te gaan inneem. Klaarblyklik was vrees vir hul lewens groter as hul eetlus! Om die Kanaäniete te gaan aanval, was dus nie prioriteit nie. Hulle sou eerder, ten spyte van hul vroeëre klagtes, maar met die manna probeer tevrede wees.
Ek het al dikwels gewonder waarom God Moses die vrugbaarheid van die land Kanaän so duidelik laat beskryf het. Die oënskynlike rede sou wees dat Hy die land Israel (Eretz Yisrael) vroeër reeds beskryf het as ‘n land wat vloei met melk en heining – met ander woorde ‘n land van oorvloed. Die ander oënskynlike rede en die één wat na my mening oorweeg behoort te word, is dat God aan ons iets van ons eie karakter wil uitwys. Mense is, ongeag geslag of tyd in die geskiedenis, nou maar ten ene male mense! Wat is dus hierdie karakterles? Myns insiens, is dit naamlik dat “ongeag wat God ons bied, ons nooit tevrede sal wees nie en ons altyd ‘n rede sal vind om te kla.”.
Markus / Modechai {7:20} “En Hy sê: Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. {7:21} Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, {7:22} diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. {7:23} Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.”
Al word hierdie skrifgedeelte nie in die konteks waarvoor dit eintlik dedoel was, gebruik nie, is dit beslis op hierdie situasie van toepassing. Die kinders van Israel het, wat beskryf is as “Engele-voedsel” geëet. Dit is deur God vanuit die hemel gestuur – alleenlik vir hulle – maar dit het geen uitwerking op hulle gehad nie, in die sin dat dit hulle nie méér engelagtig of “goddelik” gemaak het nie. In plaas daarvan, het dit hulle ware karakter openbaar: vanuit hulle is dit voorafgegaan deur opstandigheid en vrees.
Romeine / Romim {14:17} “Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees.”
Kom gou Jesus!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking