Ekev
(Gevolglik)
Deuteronomium / Devarim {8:1} “Al die gebooie wat ek jou vandag beveel, moet julle sorgvuldig hou, dat julle mag lewe en vermenigvuldig, en dat julle mag inkom en die land in besit neem wat die HERE aan julle vaders met ‘n eed beloof het. {8:2} En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie. {8:3} En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan.”
Ek dink baie van julle gaan ongetwyfeld die wenkbroue lig oor wat ek julle nou gaan leer maar dit maak dít, wat ek van plan is om te sê, hoegenaamd nie minder geldig nie. Die verse hierbo aangehaal, is vir my altans, ‘n duidelike bewys dat hierdie les met God se Woord ooreenstem. Daarbenewens het die Heilge Gees hierdie waarheid, wat ek nou met julle gaan deel, vir my op die hart gelê.
Lees asseblief weer die betrokke verse aandagtig deur. Sien julle wat God aangaande die manna sê?
Ek sal dit herhaal:
Deuteronomium / Devarim {8:3} “En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan.”
Die voorsiening van manna deur God aan die kinders van Israel, was alles deel van die verootmoediging wat hulle moes verduur terwyl hulle in die woestyn rondgeswerf het. Wat kon die manna dan hoegenaamd met verootmoediging as sulks te doen hê? Klaarblyklik het dit veel meer met verootmoediging te doen gehad, anders sou God dit nie vermeld het nie.
Númeri (Bamidbar) {11:4} ”En die gemengde bevolking wat onder hulle was, is met lus bevang. Toe het die kinders van Israel ook weer geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet? {11:5} Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die preie en die uie en die knoffel. {11:6} Maar nou is ons siel dor; daar’s glad niks nie: net die manna is voor ons oë.”
As kind, het ek geweier om sekere kossoorte te eet, my moeder sou nogtans hierdie maaltye aan ons gesin voorsit, aangesien hulle geen beswaar daarteen gehad het nie, terwyl ek dan net na my bord gestaar en verseg het om te eet. Meeste hedendaagse moeders sal alles in hul vemoë doen om hul kinders te behaag; trouens, ek weet van sommige moeders wat selfs sover gaan om verskillende kossoorte vir elke kind voor te berei, om sodoende hulle afsonderlike voorkeure te bevredig. Beslis nie my moeder nie! Indien ek nie geëet het, wat sy aan my voorgesit het, wanneer die res van die gesin klaar geëet en die tafel afgedek word nie, is my kos verwyder en direk in die asblik gegooi en het ek gevolglik honger van die tafel opgestaan.
Ek is vandag oortuig daarvan dat my moeder beledig moes gevoel het toe ek geweier het om haar kos te eet, maar destyds het dít my min geskeel. Meeste moeders wat so drasties opgetree het, sou dit daarby gelaat het, maar nie my moeder nie! Asof dit nie erg genoeg was nie, het sy dit ‘n stap verder gevoer deur vir my toegang tot die kombuis te belet. Soos wat dit tipies die geval is met broers en susters, was hulle maar alte gewillig om as “wagte” op te tree om te verseker dat ek niks te ete in die hande kry nie. Onnodig om te sê, het dit my uiteindlik laat afsien van my kieskeurigheid en tot vandag toe, eet ek wat se kosjer-voedsel ookal aan my voorgesit word.
Glo dit of nie, maar voedsel kan gebruik word om ons te toets. God het alle eetbare voedsel geskep vir ons om te geniet. Om dus iets te verwerp of weier om te eet (voedsel-allergieë uitgesluit) wat Hy vir ons geskep het om te eet, sou wees soos om Hom te verwerp. Net soos my moeder verwerp gevoel het toe ek geweier het om haar kos te eet, glo ek dat God dit ook so ervaar. Ek weet dit klink baie kras maar hoeveel male het jy ook verwerp gevoel wanneer jy iets gemaak of gekoop het vir iemand, wat reguit vir jou sê dat hy / sy nie daarvan hou nie, dat jy nie jou tyd moes gemors het nie en jy dit behoort terug te neem? Ek sou, trouens, selfs verder gaan om te sê dat jy verwerping sou ervaar, nadat jy aan iemand ‘n geskenk gegee het en later verneem dat dit teruggegee of selfs aan ‘n ander persoon geskenk is. Indien jy dit alreeds wel ervaar het, sal jy verstaan wat ek bedoel. Terwyl in gedagte gehou word dat Paulus ‘n opmerksame Jood was – wat sou beteken dat voedsel vir hom uitsluitlik dít was wat deur God as eetbaar bepaal is – dan ontstaan die vraag: “Kon dit juis dít gewees het wat Paulus bedoel, toe hy die volgende geskryf het?”
1 Timótheüs (Timoteous Aleph) {4:3} “wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken.{4:4} Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie;”
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2011-08-13
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking