Nitzavim - VaYelech
(Hulle Staan – En Hy Het Gegaan)
Parasha Nitzvavim: God stel dit baie uitdruklik dat, as die kinders van Israel, oftewel almal van ons, Sy gebooie gehoorsaam, noukeurig nakom soos wat Hy beveel het, dan sal dit met hulle lewens voorspoedig gaan.
Deuteronomium / Devarim {29:29} "Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet"
Daar is ongetwyfeld baie dinge wat God nie aan ons openbaar het nie en gewis, met ons beperkte insig, is daar baie dinge wat ons nie kan begryp en nie sal verstaan nie. Ek begryp nog nie heeltemal hoe God Homself kan manifesteer op wyses wat onafhanklik funksioneer nie, maar nogtans Een kan wees nie. Ek verstaan nie hoe God bepaal het wat Sy volk mag eet en wat nie. Dit maak egter nie saak nie nie want in hierdie Parasha verneem ek dat ek nie veronderstel is om sowel daardie as ander dinge te verstaan nie. Ek is oortuig dat ek nie is nie omdat dit nog nie ten volle aan my geopenbaar is nie; trouens ons word gesê dat daar sekere geheime is wat, om welke rede rede ookal, God verkies het om vir Homself te bewaar. God het egter in die bogemelde vers, dit baie duidelik gestel dat alles wat Hy in die Torah geskryf het - of ek dit verstaan of nie - ek dit móét onderhou. Dan, ingeval ek myself sou probeer vrystel van enige van die gebooie van God, deur te sê dat Hy Homself slegs tot die kinders van Israel en hul toekomstige lewe in die land Israel gerig het, wat op daardie tyd dáár was óf dat Hy slegs gespreek het tot diegene van die volk Israel en hul toekomstige lewe in die land Israel óf dat hierdie gebooie nie op nie-Joodse gelowiges toepaslik is nie, het Hy vir ons hierdie vers gegee:
Deuteronomium / Devarim {29:14} "En nie met julle alleen maak ek hierdie verbond en hierdie eedswering nie, {29:15} maar met die wat vandag hier saam met ons voor die aangesig van die HERE onse God staan, én met die wat hier vandag nie saam met ons is nie."
God verwys na ons hier en, selfs indien ons nie fisies in die land van Israel is nie of selfs indien ons nie almal Joodse gelowiges in Jesus die Messias is nie, wat hierdie parasha lees, is alles wat Hy tot die kinders van Israel gespreek het, steeds op ons van toepassing.
Die land wat ons as gelowiges in Jesus die Messias binnegegaan het, is God se Koninkryk. Voorheen is ons uit Sy Koninkryk uitgesluit vanweë ons sonde, maar nou, deur die aanvaarding van Jesus die Messias as ons versoening, het Hy die prys vir ons sonde betaal en op grond van wat Hy vir ons gedoen het, het ons toegang tot Sy Koninkryk verkry en die land, wat God voorberei het vir almal wat Hom liefhet, binnegegaan. Ons moet egter onthou dat daar 'n Koning in hierdie Koninkryk is, wat daaroor regeer. Hy vertel ons dat Hy 'n jaloerse Koning is, 'n streng Koning wat wette, reëls en regulasies neergelê het, wat Hy van ons verwag om te eerbiedig en ons is verplig om dit te eerbiedig, as ons in sy land wil bly woon. Hy verseker ons egter dat Hy 'n liefdevolle, genadige en welwillende Koning is en het belowe om ons te seën in die land, soos wat ons Sy gebooie gehoorsaam en onderhou, net soos Hy belowe het om Israel te seën indien hulle Hom sou volg en gehoorsaam wanneer hulle die land Israel binnegegaan het.
Begryp julle dit nie? Die land Israel in die Bybel is 'n tipe Koninkryk van God. Moet dit egter nie misverstaan nie! Die Koninkryk van God is nie 'n spirituele Koninkryk nie - dit is fisies en dit is ons. Vandag is die Koninkryk lewendig en gesond en ons, wat in Jesus die Messias glo, is inderdaad dít. Hierdie Koninkryk mag nou wel klein wees in vergelyking met al die hedendaagse sekulêre koninkryke op aarde, maar eendag sal dit die enigste Koninkryk op aarde wees. Dan sal sy Koning, Jesus die Messias, wéér kom om Sy regmatige posisie in te neem op Sy troon, waar Hy vanuit Jerusalem sal regeer.
Dan, net ingeval ons sou sê - soos ek dikwels al mense hoor sê het: "Dis onmoontlik in ons moderne wêreld en teen sy snelle pas, om al hierdie gebooie, wat God van ons vereis, te onderhou". God sê egter:
Deuteronomium / Devarim {30:11} "Want hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie te swaar nie en is nie ver nie. {30:12} Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? {30:13} Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die oorkant van die see oorvaar en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? {30:14} Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen."
Kom ons wees eerlik: ons het geen verskoning nie!
Deuteronomium / Devarim {31:3} "Die HERE jou God, Hy trek voor jou oor; Hy sal hierdie nasies voor jou uit verdelg, en jy sal hulle uit hul besitting verdrywe; Josua, hy trek voor jou oor soos die HERE gespreek het. {31:4} En die HERE sal met hulle doen soos Hy met Sihon en met Og, die konings van die Amoriete, en met hulle land gedoen het, wat Hy verdelg het; {31:5} die HERE sal hulle aan julle oorgee, en julle moet met hulle handel geheel en al volgens die gebod wat ek julle beveel het."
Die kinders van Israel sou in die land teenkanting ondervind. Om die land te verower, sou nie maklik gewees het nie. Die Kanaäniete en Hittiete, onder andere, was daar en hulle sou die kinders van Israel nie sonder 'n geveg toelaat nie. Daarom, as ons volhard om die land van Israel as 'n tipe van God se huidige Koninkryk hier op aarde te beskou, wat óns is, dan kan ons ook opposisie van God se vyande, wat die aarde saam met ons bewoon, verwag terwyl ons na alles poog om hulle ook te onteien. Daar is ook demone in die land, wat nie sonder 'n stryd sal opgee nie. Indien jy in Jesus die Messias glo, dan sal jy besef wat ek bedoel, begryp waarvan ek praat. Soos vir Israel sê God egter vir ons:
Deuteronomium / Devarim {31:6} “Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie.”
Laat ons lesse van Israel leer, want soos God met Israel gehandel het, so sal Hy ook met ons Handel. Ons moet dus leer uit hulle foute en ywerig Sy gebooie onderhou, sodat ons lank in die land mag woon en God se vyande verslaan.
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2009-09-12
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking