Saterdag 08 Desember 2018

Wat Verraai Jou Hart?

Miketz
(Aan Die Einde) 

Vandeesweek se Parasha begin met die farao van Egipte wat twee drome gedroom het wat onmoontlik was om uit te lê.

Genesis / BeReshit {41:9} “Toe het die voorman van die skinkers met Farao gespreek en gesê: Ek moet vandag my sondes in gedagtenis bring.”

Ek het al dikwels gewonder watter verskil daar tussen die hoofbakker en hoofskinker was. Waarom is die hoofbakker gehang, terwyl die hoofskinker, wat skynbaar ook die koning aanstoot gegee het, summier in sy vorige amp heraangestel is? Watter verskil was daar tussen dié twee? Was die één se oortreding van meer ernstige aard as die ander een s’n? Ofskoon dit nie vermeld word nie, weet ons slegs op grond van die hoofskinker se verduideliking, dat albei in die gevangenis beland het.

Het jy al agtergekom dat ‘n mens iemand se karakter kan beoordeel deur dit wat hy / sy sê –kleinighede wat uit iemand se mond kom? Dit mag iets onbelangrik wees wat onskuldig in ‘n gesprek gesê word, maar gee nietemin vir jou ‘n aanduiding of selfs geringe insig van wat werklik in die persoon se hart aangaan.

Markus / Mordechai {7:20} “En Hy sê: Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. {7:21}  Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, {7:22}  diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. {7:23}  Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.”

Ek het al geleer om my ore in te stel op die subtiele, soms snedige, aanmerkings afkomstig van mense hier by Gemeente Melech Yisrael – dit gee vir ‘n mens insig in hul persoonlikhede, karakters en belangriker nog, hulle verhouding met God. Meeste van ons besef dikwels nie eers wat ons regtig sê terwyl ons voortbabbel nie, maar die geoefende oor kan altyd hόόr wat uit die spreker se hart kom.

Die hoofskinker se geheue was moontlik swak; hy moes, met sy ontslag uit die gevangenis, aan Josef gedink het, maar die vyf woorde wat hy tot die farao gespreek het, gee nietemin vir ons insig in sy hart. Ek glo dat wat die hoofskinker sê, boekdele oor sy karakter gespreek het en moontlik op die verskil tussen hom en die hoofbakker lig werp. Sy woorde was: “Ek moet vandag my sondes in gedagtenis bring”.

Die hoofskinker het sekerlik nie nodig gehad om sy sin só te stel nie. Hy kon die Farao probeer beïndruk en homself in ‘n gunstige lig gestel het deur bloot te sê: “Ek ken iemand wat u droom kan uitlê”, maar hy het nie. In plaas daarvan, het hy gedoen wat reg was en voor die Farao en God vir sy sonde verskoning aangebied. Hy het bely hy het verkeerd opgetree en daardeur vir Josef benadeel het deur nie eerder van hom te onthou nie; trouens, twee jaar het intussen verloop na sy gevangenis-straf.

Hy was immers ‘n goeie man. Ja, sy geheue was moontlik wel swak, maar hy het nie net aan homself gedink nie, was nie self-verheerlikend, selfsugtig en selfgesentreerd nie: eienskappe waaroor die hoofbakker oënskynlik beskik het. Ek besef dat ek nou eintlik spekuleer, maar daar móés ‘n verskil tussen hierdie twee manne gewees het en te oordeel aan die berouvolle hart van die hoofskinker, kan ‘n mens net dink dat die hoofbakker se hart nie dieselfde was nie.

Wat kom uit jou hart te voorskyn? Kan jy met die hoofskinker of hoofbakker vereenselwig word? Dit is uiters belangrik dat jy dit wéét, want jou lewe mag eendag daarvan afhang…

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-12-18

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking