Kedoshim
(Afgesonderdes (Heiliges))
Levitikus / VaYikra {19:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {19:2} Spreek met die hele vergadering van die kinders van Israel en sê vir hulle: Heilig moet julle wees, want Ek, die HERE julle God, is heilig.”
Die Torah (eerste vyf boeke van die Bybel) handel spesifiek daaroor om ons te onderrig hoedat ons kadesh (afgesonder / heilig) kan wees soos wat God heilig is. In hierdie week se parasha – parasha Kedoshim – verneem ons dat God dit aan Moses opdra om tot die kinders van Israel te spreek en hulle te bevel om kadosh te wees en wel aan die hand van ‘n eensydige lys van wat dit alles behels. God verduidelik aan hulle sekere dinge wat hulle moet doen ten einde soortgelyk aan Sy vlak van heiligheid te verkeer. Hierdie lys is inderdaad ook op ons van toepassing, alhoewel dit vir baie mense onmoontlik lyk om kadosh soos God te wees. Nadat ek egter die lys deurgelees het, kon ek niks vind wat ons nié deur die krag van die Heilige Gees (Ruach HaKodesh), wat in elkeen wat in Jesus die Messias glo, woonagtig is, kan vermag nie. Daar word natuurlik nie van ons verwag om steeds tempel-verwante dinge na te kom nie omdat die tempel nie langer bestaan nie; die res van die vereistes is egter doodeenvoudig. Hier volg juis ‘n voorbeeld van een van die laasgenoemde vereistes:
Levitikus / VaYikra {19: 9} “En as julle die opbrings van julle land oes, moet jy die kant van jou land nie heeltemal afoes en die are wat val, nie versamel nie. {19:10} Jou wingerd moet jy ook nie skoon afoes nie, en die trossies wat van jou wingerd val, nie versamel nie. Vir die arme en die vreemdeling moet jy dit laat oorbly. Ek is die HERE julle God.”
Indien jy nie ‘n boer is nie, hoe sal ‘n mens hierdie kadosh-vereiste nakom? Word dit steeds van ons verwag om dit na te kom? Laat my my toe om daarop te wys dat God ons nie dwing om iets te doen nie! Alles wat ons vir die Here doen, moet vanuit die hart gedoen word en nie uit dwang nie. Aangesien meeste van ons nie boer nie en gevolglik nie hierdie gebod met betrekking tot letterlik die kante van landerye / wingerde kan nakom nie, kan ons dit nietemin gehoorsaam as ons in die sakewêreld is. Ek het al met baie gelowige sakelui wat vir hulself werk hieroor gesels. Sommige staan tien persent van hul maatskappywinste aan die armes af, terwyl ander aan humanitêre aangeleenthede of ander projekte vir behoeftiges deelneem. Dít is natuurlik bo-en-behalwe die persoonlike tiendes van hul salarisse. Sodoende kan dit vergelykbaar beskou word daaraan om nie ook die kante van jou landerye skoon af te oes nie.
Hier volg ‘n verdere voorbeeld uit dié week se parasha:
Levitikus / VaYikra {19:19} “Julle moet my insettinge hou. Twee soorte van jou vee mag jy nie laat paar nie. Jou akker moet jy nie met twee soorte saad besaai nie. En ‘n kleed van twee soorte goed, van gemengde stof, mag nie op jou kom nie.”
Ek wil graag in besonder die gedeelte oor veeteelt behandel. Daar is baie soorte diere, soos beeste en soortgelyke diere soos die yak en buffels. Selfs indien ‘n bees deur ‘n yak of buffel gedek sou word en kalf, is dit nie dieselfde soort diere nie; kruisrasteling behoort dus hoegenaamd nie toegelaat te word nie. Verskillende beesrasse (byvoorbeeld ‘n Jerseykoei met ‘n Holsteinbul) kan gekruisteel word, omdat albei van dieselfde sort vee is. ‘n Donkie is nie ‘n perd nie; Dit is twee verskillende diersoorte en so ‘n kruising is myns insiens onheilig. In die verlede het misleide en bevooroordeelde Christene die bogemelde Skrifgedeelte gebruik om apartheid (segregasie en diskriminasie op grond van ras) te regverdig. Of ons nou mense met ‘n ligte-, donker-, geel- of swartvelkleur is, ons is almal mense! Daarom is die bovermelde Skrifaanhaling geensins op onderlinge rasverhoudings toepaslik nie.
Levitikus / VaYikra {19:23} “En as julle in die land inkom en allerhande vrugtebome plant, moet julle hulle vrugte as verbode beskou; drie jaar lank moet hulle vir julle verbode wees; daar mag nie van geëet word nie. {19:24} Maar in die vierde jaar moet al hulle vrugte ‘n heilige feesgawe aan die HERE wees;”
Ons wat tuiniers is, besef dat as ‘n mens ‘n jong boom, wat onlangs geplant is, wil laat groei en meer asook beter gehalte vrugte wil verseker, moet die eerste bloeisels afgebreek word sodat die boom vir die eerste drie jaar geen vrug dra nie. Indien dit gedoen word sal die boom in die vierde jaar oorvloedig vrug dra. Volgens die Woord, mag daardie vrugte nie geëet word nie – dit moes aan die Here geoffer word. Om hierdie gebod (mitzvah) vandag uit te voer, kan die vrugte van die vierde jaar moontlik as ‘n gawe aan die Here gebruik word deur dit na die gemeente te bring en dit as ‘n offer vir gebruik tydens die gemeentelike oneg (maaltyd ter ere van die Sabbat) te gebruik.
Die volgende vereiste mag vir sommiges ietwat sensitief voorkom:
Levitikus / VaYikra {20:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {20:2} Jy moet ook aan die kinders van Israel sê: Elkeen uit die kinders van Israel of uit die vreemdelinge wat in Israel vertoef, wat van sy kinders aan Molog gee, moet sekerlik gedood word. Die volk van die land moet hom stenig.”
Moleg was ‘n sataniese afgod aan wie kinders (gewoonlik babas) as menslike offers gebring is. Die doel van hierdie menslike offers was om Moleg te vereer sodat hy die offer en betrokke gesin sou seen.
Hoe word Molegaanbidding in ons hedendaagse konteks nog beoefen? Niemand bring tog meer menslike offerandes – en veral kinders – in Noord-Amerika nie? So’n barbaarse praktyk kan mos nie in ons beskaafde wêreld beoefen word nie, of is dit nog moontlik? Ongelukkig word sataniese offerandes selfs in Noord-Amerika geoffer. In breër konteks, sou ek egter meen dat aborsie een van die hedendaagse Molegaanbiddingsvorms is, waaraan ons sogenaamde beskaafde mense skuldig is. In plaas van die fisiese Molegafgod, aanbid ons die afgod van selfgenot. As ‘n kultuur en as die menslike ras, aanbid ons by die altare van humanisme. Ons beskou onsself as finale gesag om te bepaal wat reg of verkeerd is. Aan hierdie “Moleg”, offer ons ons kinders, tot voordeel van ons eie God (dit is onsself).
Ek vertrou dat julle, aan die hand van hierdie kommentaar, sal besef dat ons vandag steeds die gebooie van die Tora wel kan onderhou.
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2011-04-30
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking