Devarim
(Woorde)
Deuteronomium / Devarim {1:9} “En ek het met julle in dié tyd gespreek en gesê: Ek kan julle alleen nie dra nie. {1:10} Die HERE julle God het julle vermenigvuldig; en kyk, julle is vandag soos die sterre van die hemel in menigte. {1:11} Mag die HERE, die God van julle vaders, by julle byvoeg duisend maal soveel as wat julle is, en julle seën soos Hy julle beloof het! {1:12} Hoe sou ek die moeilikheid en die las en die regsake van julle alleen kan dra? {1:13} Bring tog wyse en verstandige en ervare manne aan volgens julle stamme, dat ek hulle as julle hoofde kan aanstel. {1:14} Hierop het julle my geantwoord en gesê: Die woord wat u gespreek het, is goed om uit te voer. {1:15} Toe het ek die hoofde van julle stamme, wyse en ervare manne, geneem en hulle as hoofde oor julle aangestel, owerstes oor duisend en owerstes oor honderd en owerstes oor vyftig en owerstes oor tien en opsigters volgens julle stamme. {1:16} En ek het in dié tyd aan julle regters bevel gegee en gesê: Neem julle broers in verhoor en oordeel regverdig tussen ‘n man en sy broer en die vreemdeling wat by hom is. {1:17} Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God. Maar die saak wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring, en ek sal dit in verhoor neem.”
Daar was vir ‘n geruime tyd sekere gemeentes en mees onlangs – binne die afgelope vyf tot tien jaar – Messiaanse gemeentes, wat verklaar dat ‘n enkele aangestelde leier onbybels is. Hulle glo dat ‘n gemeente (kehila) verkieslik deur ‘n groep leiers, hoofsaaklik ouderlinge, bestuur moet word, wat dan om die beurt preek en lei. Indien dit die Bybelse wyse was om ‘n gemeente te bestuur, sou ek volkome daarmee saamgestem het maar alles in die Skrif en die gedeeltes hierbo aangehaal, dui beslis in ‘n ander rigting, naamlik slegs één aangestelde leier.
Deuteronomium / Devarim {1:17} “Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God. Maar die saak wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring, en ek sal dit in verhoor neem.”
Ek glo nie dit verg ‘n vuurpyl-wetenskaplike om te verstaan wat hier geskrywe is nie. Moses deel ons mee dat God hóm beveel het om leiers aan te stel; regters wat hom sou bystaan om die las van die kinders van Israel, wat deur die jare aansienlik in getal toegeneem het, te help dra.
Dit is wys omdat elke leier bystand benodig, veral wanneer die gemeente (kehila), wat hy lei, buitengewoon groot word. Dit is na alles onmoontlik vir één persoon om aan behoeftes van elkeen in ‘n groot gemeente, persoonlike aandag te skenk.
Die woorde ”...want die gereg (mishpat) is God se saak.” Het my egter opgeval. Elke gelowige besef of behoort te besef dat alle oordeel van God kom. Aangesien dit die geval is en ons wéét dit is, waarom sou daar dan ooit iets te moeilik vir die aangestelde regters wees om te oordeel, juis omdat dit God is wat oordeel? Waarom sou hulle ooit ‘n “saak wat vir julle te moeilik is”, aan Moses voorlê, indien God aan hulle al die oplossings sou verstrek? Die feit is egter dat God nie aan hulle al die oplossings verstrek het nie.
God het Moses immers nie versoek om regters aan te stel om hom te vervang nie. Hy is egter versoek om mense aan te stel om hom by te staan. Dit is, trouens, omdat God één man, één leier, in hierdie geval Moses, spesiaal daarvoor gesalf het. Daar was dus sake wat vir sy assistente te moeilik was om te beoordeel. Dit is duidelik dat indien elkeen van die leiers gelyk was, dit nie nodig sou gewees het om moeilike sake aan Moses voor te lê nie. God beskik oor en het steeds leiers: manne aan wie Hy spesiale salwing vir leierskap gegee het. Indien ‘n mens daaroor nadink, is dit nie juis waaroor parasha Korach (Korag) gehandel het nie?
Númeri / Bamidbar {16:1} “En Korag, die seun van Jishar, die seun van Kehat, die seun van Levi, saam met Datan en Abíram, seuns van Elíab, en On, die seun van Pelet, seuns van Ruben, het manne geneem, {16:2} en hulle het opgestaan voor die oë van Moses saam met twee honderd en vyftig man uit die kinders van Israel, owerstes van die vergadering, manne wat opgeroep was vir die volksvergadering, manne van naam. {16:3} En hulle het bymekaargekom teen Moses en Aäron en aan hulle gesê: Dit is nou genoeg; want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die HERE is in hulle midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die HERE? ”
Korag en sy groep opstandelinge het ‘n probleem gehad met die feit dat slegs één as leier gekies is en ons is almal bewus van wat met hulle gebeur het. Dit is egter goed om te weet dat God nie ‘n probleem het met slegs één leier nie; trouens, Hy bepaal dat dit so moes wees.
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2012-07-22
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking