Vayetze
(En Hy Het Uitgegaan)
Genesis / Bereshit {28:12} “En hy het gedroom—daar is ‘n leer op die aarde opgerig waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het. {28:13} En kyk, die HERE het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die HERE, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee; {28:14} en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word. {28:15} En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het. {28:16} Daarop word Jakob uit sy slaap wakker en sê: Waarlik, die HERE is op hierdie plek, en ék het dit nie geweet nie. {28:17} En hy het bevrees geword en gesê: Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is hier niks anders as ‘n huis van God nie, en dit is hier die poort van die hemel.”
Dit is verstaanbaar dat Jakob gedink het dat die plek waar hy aan die slaap geraak het, die hemelpoort was. Dit was omdat hy engele gesien het wat met ‘n leer opklim na die Hemel en afklim. Hoe dit ookal sy, kom ons wees eerlik: het engele werklik ‘n leer nodig om na en van die hemel te beweeg? Ek dink nie so nie! In die Skrif word engele beskryf as sou hulle vlerke gehad het (lees Jesaja / Yeshiyahu 6:2). Daarbenewens word dit in Hebreërs / Ivrim 13:2 beskryf dat hulle in menslike voorkoms verskyn het. Dus is dit beslis nie nodig om van ‘n leer gebruik te maak nie! Dit is egter presies wat Jakob gesien het en soos wat ek in vorige jare se parashot bespreek het, is die droom inderdaad van profetiese belang. Is daar werklik engele wat ons dag vir dag dien? Tree hulle regtig tussen beide in ons lewens soos in die geval met Jakob? Die woord vir engel in Hebreeus is “malach’ en dit beteken boodskapper. Wonder jy miskien hoeveel engele / boodskappers daar in die hemel is?
Openbaring / Hitgalut {5:11} “Toe sien ek, en ek hoor ‘n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tien duisende van tien duisende en duisende van duisende;”
Volgens hierdie Skrifgedeelte, is daar ten minste een honderd miljoen engele en is hulle geskep om te dien, soos in die volgende vers gemeld:
Hebreërs / Ivrim {1:13} “En aan watter een van die engele het Hy ooit gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete?”
Indien jy in Jesus die Messias as jou Here en Redder glo, dan is jy ook ‘n erfgenaam van die redding, wat hier te sprake is: die engele is dus geskep om ook jou te dien! Hier volg enkele dinge wat engele vir ons doen: Hulle beskerm ons (Psalm / Tehillim 91:11-12); hulle lei ons (Bereshit / Genesis 19:15-17); hulle bemoedig ons (Rigters / Shoftim 6:12); hulle bevry ons (Handelinge / Ma’asei HaTalmidim 12:17); hulle lig ons voor (Mattheus / Mattityahu 2:19-20 en laastens, versterk hulle ons (Lukas / Uri 22:43).
Ons moet egter versigtig wees en altyd onthou dat God nooit deur engele vervang word nie; inteendeel, hulle rig ons altyd op God. Derhalwe moet ons daarteen waak om nooit só met engele behep te raak tot op ‘n punt waar ons God terugskuif na ‘n tweede plek in ons lewens nie.
Ons moet ook daarteen waak om engele nie te herskep om aan ons eie wanvoorstellings te voldoen nie. Wat ons van engele weet, moet gegrond wees op wat die Bybel aangaande hulle leer en beslis nie op wat ons in films en op televisie sien of wat ons graag van hulle wil glo nie. In die Bybel verskyn die engel van God altyd in ‘n manlike gedaante. Engele is nie altyd net goed en medelyend nie! Kyk in die boek Openbaring: wie gaan die oordeel voltrek op aarde? Die engele! Moet dus nie oor engele fantaseer of glo wat die wêreld oor engele te sê het nie. Bestudeer verkieslik die Bybel en verneem wat God ons in Sy Woord oor engele leer.
Engele word nooit aanbid nie. In die tyd van die apostel Paulus (Shaliach Shoul) was daar ‘n dogma genaamd Gnostisisme, wat die aanbidding van engele beoefen het.
Kolossense / Kolosim {2:18} “Laat niemand julle van jul prys beroof nie, al sou hy behae hê in nederigheid en verering van die engele en indring in wat hy nie gesien het nie, en sonder oorsaak opgeblase wees deur sy vleeslike gesindheid,”
In die Bybel word na twee tipes engele verwys: Die engele van God en die engele van satan, wat demone genoem word. So waarsku die Bybel ons dat die demone van die Satan hulle soms as engele van lig voordoen, maar inderdaad demone is.
2 Korinthiërs / Korintim Bet {11:14} “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. {11:15} Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.”
1 Johannes / Yochanan Aleph {4:1} “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan. 1 Johannes / Yochanan Aleph {4:2} Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God;”
Besef jy wat ek bedoel? Slegs omdat jy gesien het wat jy vermoed het ‘n engel was, beteken hoegenaamd nie dat dit een van God se engele was nie. Weet jy dat twee van die hoof valse gelowe in die wêreld ontstaan het as gevolg van engele? Islam is die resultaat van Mohammed wat na ‘n engel geluister het en Mormonisme, deur Joseph Smith, wat van ‘n engel genaamd “Moroni” verneem het. Elke engel is nie noodwendig van God nie! Ons moet die geeste op die proef stel om te bepaal of hulle wel van God is aldan nie. Een ding is egter seker en dit is dat daar baie engele is, geskep om diensbaar te wees aan ons, die erfgename van redding.
Kom gou Jesus!
![]() |
| PDF weergawe |

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking