Vrydag 18 September 2020

Wortels

Yom Teruah
Die Dag van die Trompetgeklank

Yom Teruah, die dag wat daar op die shofar geblaas word, val vanjaar op 'n Shabbat en daarom is daar 'n spesiale Torah-lesing vir hierdie Shabbat, wat nie met die gereëlde Torah-siklus ooreenstem nie. Rabbis vereenselwig Yom Teruah met die "geboorte" van die planeet Aarde en derhalwe gebruik hulle die meer algemene naam van Rosh Hashanah vir hierdie feesdag. Letterlik vertaal, beteken dit "Hoof van die jaar" oftewel Nuwejaar en om hierdie rede begroet die Joodse mense mekaar dan met "Voorspoedige nuwejaar" tydens hierdie gety. Ook omdat die rabbis glo dat die aarde op Yom Teruah "gebore" is, verander die kalender op hierdie feesdag. Dit is nou die jaar 5770 - volgens die rabbis is die aarde nou vyfduisend sewehonderd een-en-tagtig jaar oud, wat natuurlik korrek of nie mag wees nie.

So, waarom word Genesis 21 tydens Yom Teruah, die fees van Trompette dan gelees? Soos hierbo gemeld, word Yom Teruah deur die rabbis as die geboortedag van die planeet Aarde, geag; Genesis 21 handel oor die geboorte van Isak en vir Judaïsme is dit die "geboortedag" van die volk Israel.

Genesis {21:33} "En hy het ‘n tamarisk in Berséba geplant en daar die Naam van die HERE, die ewige God, aangeroep. {21:34} En Abraham het baie dae as vreemdeling in die land van die Filistyne vertoef. "

Hierdie Skrifgedeelte van ons Parasha is nogal vreemd want waarom sou God ons nou wou laat weet dat Abraham 'n tamariskboom in Beer-Sheva geplant het? Watter geestelike betekenis kon dit moontlik inhou? Daar is werklik niks besonders aan 'n tamariskboom, wat hierdie spesiale vermelding regverdig nie, behalwe dat dit 'n boom is wat goed aangepas is om in dié gedeelte van die land te groei.

Elke jaar, in die maand wat lei tot Tu Beshvat ("Boomdag" in Israel), wat gewoonlik in Februarie val, moedig ek ons gemeentelede aan om 'n boom aan te koop en plant in Israel. Oor die jare heen het ek 'n slagspreuk - "Skiet wortel in Israel" - ontwikkel, om die aankoop van bome te bevorder.

Gevolglik het ons deur die jare 'n ontelbare aantal bome in Israel geplant en is ek oortuig daarvan dat honderde teen hierdie tyd reeds baie groot is, wat beteken dat ons wortels in hierdie land diep lê.

Ek glo dat dit soortgelyk is aan wat God in hierdie gedeelte aan ons sê. Ek meen dat God hiermee bedoel dat Abraham homself in die land van Israel ingewortel het, wat juis deur die plant van 'n boom gesimboliseer is; hy het Homself as't ware geplant, soos wat ons in Genesis {21:34} lees:

Genesis {21:34} "En Abraham het baie dae as vreemdeling in die land van die Filistyne vertoef."

Abraham het sy plek gevind: hy het nou sy eie put gehad en dit was hier waar hy sou woon en hier waar hy die Here, die ewige God, sou aanbid. Ek is seker Abraham se tamariskboom het in 'n groot boom ontwikkel, waarvan die wortels diep in die Israeli-aarde gegroei het.

Abraham se put is tot vandag toe, een van die stad, Beer-sheva, se besienswaardighede. Wie weet of een van die vele tamariskbome, wat daardie put nou omring, nie miskien dié een is wat Abraham geplant het, óf dalk 'n afstammeling van die oorsponklike boom is nie!

Nog iets is, volgens Genesis 21, was in Israel "gebore" en dit was nie slegs Isak nie. In Isak was die "geboorte" van die vervulling van die belofte van God:

Genesis {12:1} "En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. {12:2} En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees."

God het ook aan ons 'n belofte gedoen - één wat vandag in julle "gebore" kan word as julle, soos Abraham, wil tot stilstand kom en julleself plant as deel van die koningkryk van God:

Psalm {1:1} "Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; {1:2} maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag. {1:3} En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit."

Kom gou Jesus!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking