Sondag 19 September 2021

Gekoop

Ha'Azinu
(Luister)


Deuteronomium {32:1} "Luister, o hemele, dat ek kan spreek, en laat die aarde hoor die woorde van my mond. {32:2}  Laat my leer drup soos die reën, my woord vloei soos die dou, soos reëndruppels op die grasspruitjies en soos reënbuie op die plante. {32:3}  Want die Naam van die HERE roep ek uit: Gee grootheid aan onse God! {32:4}  Die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ‘n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy. {32:5}  Hulle het verderflik teen Hom gehandel—die wat sy seuns nie was nie, maar hulle skandvlek—’n verkeerde en verdraaide geslag. {32:6}  Durf julle dit die HERE vergelde, o dwase en onwyse volk? Is Hy nie jou Vader wat jou geskape het nie; het Hy jou nie gemaak en jou toeberei nie?”   

Parasha Ha'Azinu is 'n lied wat Moses vir die kinders van Israel geskryf het, om te leer en voor te dra, maar hoe weet ons dit was 'n lied? Ons het dit in verlede week se parasha verneem:

Deuteronomium {31:22} "Toe het Moses hierdie lied op dié dag opgeskrywe en dit aan die kinders van Israel geleer. {31:23}  En Hy het aan Josua, die seun van Nun, bevel gegee en gesê: Wees sterk en vol moed, want jy sal die kinders van Israel inbring in die land wat Ek hulle met ‘n eed beloof het; en Ek sal met jou wees."

Die sesde vers van hierdie lied het my veral getref en wel waar Moses sê: "Is Hy nie jou Vader, wat jou geskape het nie; het Hy jou nie gemaak en jou toeberei nie?". Ek veronderstel dat hierdie woorde moontlik vreemd vir die kinders van Israel geklink het. Hulle het dalk gewonder: " Wat bedoel Moses deur te sê dat  God, ons Vader, ons gekoop het? "Die feit dat God hulle gevestig en bevry het van slawerny, sou nie vir hulle moelik gewees het om te verstaan nie, maar om deur God gekoop te gewees het, sou hulle beslis nie kon begryp nie.

Van kindsbeen af is die kinders van Israel, as deel van standaard-opvoeding ongetwyfeld geleer dat God hulle uit die stof van die aarde geskep het. Dus sou hulle waarskynlik nie kon verstaan waarom Hy hulle moes koop nie. Tog het Moses dit vir hulle in sy lied duidelik gemaak dat dit presies is wat gebeur het: God het die kinders van Israel gekoop! Ek is seker dat baie van ons - ten minste diegene wat nie in Jesus die Messias glo nie - hierdie konsep dat God mense koop, nie verstaan nie; trouens, dit sou klink soos uit slawerny tot slawerny! 
Die feit is dat God die kinders van Israel gekoop het. Moses se lirieke is korrek! Hy hét hulle gekoop, of meer spesifiek, verower soos buit in 'n oorlog. Die vyand - ongeag die semantiek - in hierdie geval, Egipte, het egter aanspraak gemaak op die volk wat God afgesonder het om Sy eie besondere eiendom te wees. Die Egiptenare het hulle as slawe behandel en God moes hulle terugwen - oftewel, hulle koop uit die slawerny.

Psalm {135:4} "Want die HERE het Jakob vir Hom uitverkies, Israel as sy eiendom."

Wat was die koopsom? Dit was die dood van Farao, wat op hulle aanspraak gemaak en as slawe vir sy eie doeleindes aangehou het. Indien julle hierdie dinge kan insien, aanvaar en ontvang, dan behoort julle te verstaan en aanvaar dat die Hernieude Verbond ons meedeel dat Jesus die Messias, oftewel God as mens, na die aarde gekom het om vir ons te sterf en ons terug te koop vir God. Hierdie keer, het God egter nie slegs die kinders van Israel teruggekoop nie, maar wel die ganse wêreld. Waarom sou Hy ons wéér koop as God ons reeds gekoop het? Die antwoord is dat ons in der waarheid onsself weer verkoop het, maar hierdie keer aan sonde. Ons het slawe van die sonde geword - in essensie het ons, ons siele aan die duiwel, die satan, verkoop en ons is in sy besit.

Johannes {8:34} "Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ‘n dienskneg van die sonde is."

Dan deel koning Salamo ons mee:

Prediker {7:20} "want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie."

Ons, deur ons eie toedoen, het onsself terugverkoop aan slawerny, oftewel die slawerny van die sonde, maar God wou ons terugkoop. Hy wou die mensdom, sowel Jode as as nie-Jode, verlos van die satan, wat hulle in die slawerny van hul sonde hou, maar om hierdie transaksie na te kom, moes daar 'n losprys wees: 'n uitruiling. Vir die kinders van Israel van ouds, was dit Farao en sy leërmag, maar vir die hedendaagse wêreld, is dit Jesus die Messias.

Hebreërs {2:14}  "Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel— {2:15}  en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was."

Jesus die Messias was die losprys: Hy was die verruiling vir ons siele. Sy sterwe het vir ons en ons sondes betaal, sodat die satan nie langer aanspraak op ons sou hê nie. God self - in die gedaante van Jesus die Messias - het die prys geword. Jesus was sowel die koper as die verkoper. Hy het ons verlos om God in gees en waarheid te dien.

Galasiërs {5:1} "Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie."

Indien jy nog nie Jesus die Messias as jou Verlosser aanvaar het nie, is jy nog steeds 'n slaaf van die sonde. Die betekenis van Sy dood en die losprys, wat dit verteenwoordig, is nie aan jou toegewys nie. Waarom ontvang jy nie vir Jesus as jou Saligmaker nie en word deel van die bevrydende transaksie wat God vir jou bewerkstellig het?

Kom gou Jesus!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking