Saterdag 09 Oktober 2021

Nature

Noach
(Noag)

Genesis {8:6} “Toe het Noag aan die end van veertig dae die venster oopgemaak van die ark wat hy gebou het, {8:7}  en ‘n kraai uitgestuur wat gedurig heen en weer gevlieg het totdat die waters weggedroog het van die aarde af. {8:8}  Daarop laat hy ‘n duif van hom af wegvlieg om te sien of die waters oor die aarde verminder het. {8:9}  Maar die duif het geen rusplek vir die holte van sy voet gevind nie en na hom teruggekeer in die ark; want die waters was oor die hele aarde. So het hy dan sy hand uitgesteek en hom gegryp en in die ark by hom gebring. {8:10}  Daarna het hy weer sewe dae gewag. Toe stuur hy die duif weer uit die ark. {8:11}  En die duif het teen die aand na hom gekom, en daar was ‘n groen olyfblad in sy bek! Toe merk Noag dat die waters oor die aarde verminder het. {8:12}  Daarna wag hy weer sewe dae en stuur die duif uit. Maar hy het nie weer na hom teruggekeer nie.”

Ek het iets baie interessant ontdek toe ek die bovermelde gedeelte gelees het. Soos ons lees, het Noag ‘n kraai uitgestuur voordat hy die duif losgelaat het. Let egter daarop dat die kraai nie teruggekeer het nie maar eerder heen en weer oor die aarde gevlieg het totdat waters weggedroog het. Volgens wat ek uit die geskrewe gedeelte aflei, kon hierdie kraai vir ten minste sewe dae rondgevlieg het sonder voedsel en sonder om te gaan sit.

Kraaie is onrein voëls, dus was daar slegs twee in die ark. Noag het net één losgelaat. Ten einde voort te plant, sou die een wat losgelaat is, een of ander tyd, die ander een wat nog in die ark was, moes teëkom?. Die kraai, soos ek gemeld het, is ‘n onrein voël; trouens ‘n aasvreter en as sulks sou hy voedsel gevind het. Boonop sou die kraai plek gevind het om te gaan sit op die duisende karkasse van dooie diere en opgeblaaste lyke, wat op die waters gedryf het. As gevolg daarvan, was dit nie nodig om na die ark terug te vlieg nie.

Duiwe, daarenteen is rein voëls en dus nie aasvreters nie. Daarom sou die duif wat Noag losgelaat het, nie kon oorleef nie. Daar was geen voedsel of rusplek vir die holte van sy voet nie en hy moes noodwendig terugkeer na die ark.

Hieruit blyk ‘n groot geestelike les om geleer te word. Ons moet onthou dat daar sowel rein as onrein diere in die ark was – hulle is saam aangehou. Ons moet ook daaraan dink dat God alles op aarde in een van twee kategorieë of nature verdeel het, naamlik rein of onrein. Ongelukkig beskik ons as gelowiges in Jesus die Messias ook oor hierdie twee nature.

Romeine {7:18} “Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie.”

Paulus het hier ons twee nature beskryf, wat konstant in stryd met mekaar verkeer. Die stryd wat binne-in ons woed. Is tussen ons ou natuur (ons vlees) en ons nuwe natuur (of wedergebore gees). Die kraai het uitgegaan in ‘n wêreld vol dood, maar vir hom ‘n fees. Hy het heen en weer oor die aarde gevlieg, op karkasse en lyke gaan sit en dit verslind. Dit is ‘n beeld van ons ou natuur. Die ou natuur hunker na die dinge van die wêreld en wil daarop teer, maar al wat die wêreld kan bied, is slegs die dood. Die duif verteenwoordig egter ons nuwe natuur. Hy het niks in die wêreld gevind wat die moeite werd was om op neer te stryk nie – niks aanloklik of aptytwekkend nie en gevolglik na die veiligheid en beskerming van die ark (Jesus die Messias!) teruggevlieg.

As gelowiges, is ons in dié wêreld maar nie van die wêreld nie. Daar behoort niks van hierdie wêreld te wees wat ons aanstaan nie. Die wêreld het groter behoefte aan ons as wat ons die wêreld nodig het. Daarom behoort ons hierdie wêreld as ‘n geleentheid te gebruik om dié wat verlore (ongered) is, te wen vir Jesus die Messias, uit ‘n wêreld van leuens tot waarheid.

Vir die kraai was ‘n dooie en sterwende wêreld aanloklik; hy wou daaraan gebonde bly. Die duif, daarenteen, het besef dat daar niks in die wêreld vir hom was nie en het dus slegs in die ark rus gevind.

Met watter voël sou jy graag jóú lewe wou vereenselwig?

Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking