Maandag 14 November 2022

Parasha Lech-Lecha (Gaan Uit) - Volg Hom

Genesis {12:1} “EN die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys.”

In Bybelse tye was dit nie ‘n algemene gebruik vir ‘n familie om hulself te ontwortel en om geen rede na ‘n ander gebied te trek nie. Meeste mense se rykdom en sosiale status het afgehang van hoeveel grond hulle besit het en die grootte van hulle kudde. Vir Terach (Abram se vader) om op te pak en met sy familie uit Ur te trek, wat ‘n stad van grootte en aansien was, na Haran - ‘n betreklik onbekende verafgeleë stad - verleen aan ‘n mens ‘n geringe aanduiding van die sosio-ekonomiese status van Abram se familie. Hulle was óf behoeftig en het nie hulle eie grond besit nie óf hulle was nomadies met ‘n minimum kudde. Nogtans het hulle lank genoeg in Ur van die Chaldeërs (die huidige Irak) gewoon, waar Abram groot geword en met Sarah getroud is. Terwyl hulle in Haran gewoon het, het daar nou van nêrens af ‘n Stem vir Abram beveel om sy besittings op te pak, sy lewe dáár agter te laat, uit sy vader se huis en familie weg te gaan na ‘n onbekende plek, ‘n vreemde onbekende land. Abram is beveel om te gaan maar was geheel en al onbewus van waarheen hy moes gaan. Wat sou julle in sy situasie gedoen het? Meeste van ons sou twyfel oor wat ons besig was om te hoor; ons sou selfs gedink het dat ons nie reg gehoor het nie en nie verder daarop ag geslaan en nie getrek het nie. Dit was egter nie die geval met Abram nie. Hy het sy besittings bymekaar gemaak en sondermeer die instruksies van die Stem gevolg en weggetrek.

Ons moet nou onthou dat Abram nie Joods was nie en heelwaarskynlik soos almal in Ur, ‘n afgod aanbid het. Ur was ‘n stad wat daarop geroem het dat die maangod aldaar aanbid is, met die gevolg dat dit onwaarskynlik was dat Abram enige vorige verhouding of selfs kennis van die God van Israel sou gehad het. Nietemin het hy, nadat hy die Stem van God gehoor het, dit gehoorsaam en ‘n God gevolg wat hy nooit eers geken het nie en ‘n Stem - die God van Israel -  wat hy nog nooit voorheen gehoor het nie.

Daar is ’n Skrifgedeelte, wat anti-sendelinge soos “Jode vir Judaisme”, gebruik om die Brit Chadasha (Nuwe Testament) te kritiseer. Hulle gebruik dit ten opsigte van onvermoedende en marginale gelowiges om te bewys dat Jesus nie die beloofde Messias was nie; trouens, hulle gebruik hierdie gedeelte as bewys dat die Nuwe Testament nie deur God geïnspireer kon gewees het nie omdat, volgens hulle “God nooit van ‘n persoon sou verwag om so ’n meedoënlose, wrede ding te doen nie.” Daardie Skrifgedeelte is:

Matthéüs {10:37} “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. {10:38} En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.”

Daar is geen manier dat Abram die God van Israel meer kon liefgehad het as sy moeder en vader nie, omdat hy Hom nie eers geken het nie. Wat sou julle dink van ‘n God, Wie julle nie geken het nie; ‘n God wat so’n onredelike opdrag vereis het? Sou julle van Hom gedink het as gevoelloos en meedoënloos en Hom geïgnoreer het? Wel, Abram het nie! Hy het homself net met oortuiging en almal na aan hom verlaat en God gevolg. Ek meen dit kon van Abram gesê word dat hy sy kruis (die kruis om alles waarmee hy vertroud was te verlaat, alles wat gerieflik was, agter te laat) opgeneem en God na die onbekende gevolg het.

In ruil vir die feit dat hy geluister het na die Stem van God en gehoorsaam was aan die aan die opdrag, het die Here ‘n baie besondere belofte aan Abram gemaak.

Genesis {12:2} “En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. {12:3} En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”

Is dit nie interessant nie, want kyk wat Jesus die Messias vir almal wat Hom meer liefhet as vir ‘n vader of moeder; sê:

Matthéüs {19:29} “En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërwe.”

Wat Jesus in die Nuwe Testament sê, is basies dieselfde as wat die Tanach (Hebreeuse Skrifte) in B’reshet sê. Dit is omdat dit dieselfde God is wat dit in beide gevalle sê. Ja, die God van die Tanach en die God van die Brit Chadasha is dieselfde God. Enigeen wat deur die teendeel beïnvloed word deur anti-sendelinge of enigiemand anders wat dit betref, word mislei. Jesus het ‘n teregwysing gehad vir organisasies soos die “Jode vir Judaïsme”, ons hedendaagse eiewyse Fariseërs. Hy het gesê : 

Matthéüs {23:15} “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ’n kind van die hel, twee maal erger as julle self.”

Ek dink dit is die anti-sendelinge vir wie ons moet versigtig wees en nie die Messiaanse Jode nie. Sou julle nie saamstem nie? In elkgeval, Jesus het nie haat teenoor ouers bepleit nie; Hy het bloot feite gestel. Enigeen of enigiets wat tussen ons en ons verhouding met God kom, sal uiteindelik veroorsaak dat daardie verhouding skipbreuk lei en ons onwaardig maak vir ‘n verhouding met Hom. Ons kan nie verdeelde lojaliteite hê wat God betref nie; Hy moet eerste in ons lewens wees en alles anders tweede. Die feit is dat hierdie één van die vernaamste beginsels van die Tanach en Juadisme is.

Deuteronomium {6:5} “Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.”

Ek meen hierdie gedeelte kwalifiseer as ‘n opdrag van God om niemand vóór Hom te stel nie; nie vader, nie moeder, selfs nie eers kinders nie. Kyk gerus daarna! Ons kan ook dieselfde teks (Matthéüs 10:37) gebruik om te verifieer dat Jesus aanspraak maak om God te wees, iets wat die anti-sendelinge ontken dat Hy ooit daarop aanspraak gemaak het!

Kom gou Jesus!


PDF weergawe

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking