✦

Uitnodiging

BeHa'Aalotecha
(In Julle Opset)
 
Eksodus / Shemot {12:43} “Verder het die HERE aan Moses en Aäron gesê: Dit is die insetting van die pasga: Géén uitlander mag daarvan eet nie. {12:44}  Maar elke slaaf wat ‘n man met geld gekoop het, dié moet hy besny; dan kan hy daarvan eet. {12:45} Geen vreemde inwoner of huurling mag daarvan eet nie. {12:46}  In een huis moet dit geëet word; jy mag niks van die vleis uit die huis buitentoe bring nie; en julle mag geen been daarvan breek nie. {12:47} Die hele vergadering van Israel moet dit hou. {12:48} En as ‘n vreemdeling by jou vertoef en tot eer van die HERE die pasga wil vier, moet by hom almal wat manlik is, besny word; en dan mag hy nader kom om dit te vier, en hy sal soos ‘n kind van die land wees. Maar géén onbesnedene mag daarvan eet nie.”
Ons gemeente vier elke jaar 'n groot Paasfees. Dit word gevier met 'n behoorlike spysenier-voorbereide maaltyd, waarheen almal – sonder voorbehoud – genooi word om dit by te woon. Baie van die genooides is nie-Jode of nie lede van 'n Messiaanse gemeente nie. Sommige is selfs nie wedergebore in Jesus die Messias nie en die mans dus nie besny nie. Nietemin laat ons hulle toe want in werklikheid benut ons Paasfees ook as 'n geleentheid om gemeentelede te leer aangaande hul Bybelse Joodse oorsprong en diegene – sowel Jode as nie-Jode – wat nie wedergebore is nie, te vertel van die redding wat deur Jesus die Messias gebied word, soos bewys deur die Pesach Seder (Paasorde).
Op grond van die bovermelde Skrifaanhaling, is ek dikwels reeds gevra waarom ons onbesnede mans toelaat om ons Paasfees by te woon. Hierdie week se Parasha beantwoord dié vraag vir ons, maar voordat ons dit behandel, is daar tog iets wat ek graag wil meld.
Lamsvleis word nie meer by 'n Paasfeesmaaltyd bedien nie. Dit is hoofsaaklik omrede daar geen tempel is waarheen die Paaslam gebring kan word om geslag te word en nie 'n Levitiese priesterdom is om die slagting te behartig nie. Beide is Tora-vereistes. Daarbenewens is Jesus die Messias die Lam wat reeds geoffer is; om dus met Paasfees lamsvleis te eet, sou byna daarop kom dat Jesus 'n tweede maal geoffer word, wat na my mening, inderdaad, heiligskennend sou wees.
In antwoord op die vraag waarom onbesnedenes dan toegelaat word om ons Paasfeesviering by te woon, verwys ek na die Skrifgedeeltes van vandeesweek se Parasha.
Númeri / BaMidbar {9:1} ”En die HERE het met Moses gespreek in die woestyn Sinai—in die tweede jaar nadat hulle uit Egipteland uitgetrek het, in die eerste maand—en gesê {9:2} dat die kinders van Israel die pasga op die bepaalde tyd moet hou. {9:3} Op die veertiende dag in hierdie maand, teen die aand, moet julle dit op die bepaalde tyd hou; volgens al sy insettinge en al sy verordeninge moet julle dit hou. {9:4}  Toe het Moses met die kinders van Israel gespreek dat hulle die pasga moet hou. {9:5}  En hulle het die pasga gehou op die veertiende dag van die eerste maand, teen die aand, in die woestyn Sinai; net soos die HERE Moses beveel het, so het die kinders van Israel gedoen. {9:6}  En daar was manne wat deur die lyk van ‘n mens onrein geword het en op dieselfde dag die pasga nie kon hou nie. Daarom het hulle nader gekom voor Moses en Aäron op dieselfde dag, {9:7} en dié manne het vir hom gesê: Ons is onrein deur die lyk van ‘n mens; waarom moet ons te kort gedoen word, dat ons die offer van die HERE nie op die bepaalde tyd onder die kinders van Israel sou bring nie? {9:8} En Moses het vir hulle gesê: Bly staan, dat ek kan hoor wat die HERE julle sal beveel. {9:9} Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê: {9:10} Spreek met die kinders van Israel en sê: As iemand van julle of van julle geslagte deur ‘n lyk onrein word of op ‘n ver reis is, moet hy tog die pasga vir die HERE hou. {9:11} In die tweede maand, op die veertiende dag, teen die aand, moet hulle dit hou; met ongesuurde brode en bitter kruie moet hulle dit eet. {9:12} Hulle moet daarvan niks laat oorbly tot die môre toe of ‘n been daaraan breek nie; volgens die hele insetting van die pasga moet hulle dit hou.“
Ek het 'n lang gedeelte aangehaal omdat ek wil hê ons moet die volle konteks van wat gesê is, verstaan. Die eintlike vers wat ons moet verstaan en ook ons vrae sal beantwoord, is egter die laaste een:
Númeri / BaMidbar {9:12} “Hulle moet daarvan niks laat oorbly tot die môre toe of ‘n been daaraan breek nie; volgens die hele insetting van die pasga moet hulle dit hou.“

Indien julle die konteks van wat God vir Moses gesê het, lees en verstaan, dan sal julle sien dat die Paasfees, waarna God verwys, eintlik die ware Lam en nie die Paas-seremonie as sulks is nie. Daarom deel God ons in die eerste Skrifgedeelte (hierbo aangehaal) mee dat geen onbesnede man van die Paaslam mag eet nie. Aangesien daar nou nie langer 'n tempel of Levitiese priesterdom bestaan nie, wat ek verduidelik het, die rede is waarom ons nie langer lamsvleis met Paaasfees eet nie, eet die onbesnedene dus nie van die Paaslam nie, wat natuurlik Jesus die Messias verteenwoordig. Omdat geen lamsvleis met Paas geëet word nie, raak die hele vraagstuk van die besnedene of onbesnedene, dus irrelevant.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-05-29

Laste en Vermoëns van Leierskap

BeHa'Alotecha
(In Jou Opset)


Númeri / BaMidbar / 8:1-12:16
Sagaría / Zecharyah 2:14-4:7
1 Korinthiërs / Korintim Aleph 10:6-13

Númeri / Bamidbar {8:6}  “Neem die Leviete onder die kinders van Israel uit en reinig hulle. {8:7}  En so moet jy met hulle doen om hulle te reinig: Sprinkel op hulle water van ontsondiging; en hulle moet ‘n skeermes oor hulle hele liggaam laat gaan en hulle klere was en hulleself reinig {8:8}  Daarna moet hulle ‘n jong bul neem en die spysoffer wat daarby behoort: fynmeel met olie gemeng; en ‘n ander jong bul moet jy as sondoffer neem. {8:9}  En jy moet die Leviete voor die tent van samekoms laat nader kom en die hele vergadering van die kinders van Israel versamel. {8:10}  Dan moet jy die Leviete voor die aangesig van die HERE laat nader kom, en die kinders van Israel moet hulle hande op die Leviete lê. {8:11}  En Aäron moet die Leviete as beweegoffer beweeg voor die aangesig van die HERE namens die kinders van Israel, sodat hulle daar kan wees om die dienswerk van die HERE te verrig. {8:12}  En die Leviete moet hulle hande op die kop van die bulle lê; en berei jy een as sondoffer en een as brandoffer vir die HERE, om vir die Leviete versoening te doen. {8:13}  Dan moet jy die Leviete stel voor Aäron en sy seuns en hulle as beweegoffer aan die HERE beweeg. {8:14}  En jy moet die Leviete onder die kinders van Israel uit afsonder, dat die Leviete myne kan wees. {8:15}  En daarna moet die Leviete inkom om die tent van samekoms te bedien. So moet jy hulle dan reinig en hulle as beweegoffer beweeg.”

Terwyl ek vandeesweek se oordenking oorweeg en bepeins het, het ek besef dat alles wat Moses as leier moes doen, ook op my betrekking het. Hierdie oordenking behels die take wat hy, as deel van sy posisie as leier, moes verrig. Aanvanklik is die taak van wyding van die Leviete aan God, aan hom opgedra.

Dit opsigself was 'n aansienlike taak en ek is oortuig dat dit buitengewone bestuurs-en administratiewe vaardighede vereis het. Laat ons van één ding seker wees: Daar was hoegenaamd geen kans om foute te begaan met dít wat hy moes uitvoer nie.

Dit het my daaraan laat dink dat ofskoon ek die geestelike leier van ons gemeente is, daar ook van my verwag word om allerlei administratiewe en bestuursfunksies - wat nie deel van my geestelike bediening uitmaak nie - te verrig. Tog hét dit betrekking daarop, want die geestelike sy kon nie reg gewees het sonder dat die administratiewe-en bestuursgedeelte van my werk, ook reg is nie: Dit is algeheel toepaslik. Bediening behels meer as die geestelike, alhoewel die geestelike by uitstek belangrik is; bediening is ook bestuur en administrasie.

Moses het onder 'n swaar las gebukgegaan, sowel geestelik as fisies, maar oënskynlik het God hom met die nodige vaardigheded toegerus om sy werk uit te voer. Waarvandaan het Moses hierdie vaardighede ontvang? Die geestelike het voortgevloei uit 'n omskepte lewe: Moses deur God! Ek bedoel dat hy waarlik 'n onmoeting met God gehad het, nie slegs fisies vanuit 'n brandende bos nie, maar hy het God ook ontmoet op 'n persoonlike en verhoudingswyse, wat sy lewe vir ewig verander het. Maar, soos ons Moses ken, om 'n goeie leier te wees, het hy meer as bloot geestelik  - vervul te wees, nodig gehad: Hy moes 'n goeie bestuurder en administrateur wees. Wanneer hierdie vaardighede met die Gees gekombineer word, het dit al die eienskappe van 'n goeie leier. Dus verstaan ons waar en hoe Moses die geestelike ontvang het, maar wat van die fisiese?

Moses het grootgeword as 'n prins in Egipte. As sulks is hy opgelei om 'n leier van manne, 'n krygsman en 'n staatsman te wees. Te oordeel aan die wyse waarop hy opgetree het om bykans 'n miljoen mense in die woestyn te beheer, kan 'n mens ekerlik aflei dat hy in Egipte deeglik onderrig is. Daarbenewens het hy veertig jaar lank in Midian skape opgepas. Ek besef dat ek Moses se jare as skaapherder dikwels voorgestel het asof hy net rondgesit het, met een oog op die skape en die ander op die groeiende weiding.

Ja, in die verlede het ek die indruk geskep dat Moses sy tyd bloot nutteloos verwyl het, maar moontlik het ek 'n valse indruk geskep. Ek is oortuig dat Moses veel meer as 'n skaapherder was. Hy was, trouens, saam met sy skoonvader, in die veebedryf. Om skape op te pas is maar 'n deel van die pligte van 'n herder. Deur die besit van hierdie skape, het Moses tog sekerlik skape gekoop en verkoop asook op die plaaslike markte met skaapprodukte soos melk, kaas en wol handel gedryf. Benewens die skape, het die kudde ook bokke behels, wat ook vir finansiële gewin geteël is. Moses was 'n entrepeneur, en indien julle enige kennis van die Midde-Oostelike kultuur het, sou julle besef dat hy ook 'n bedrewe onderhandelaar was en oor vaardige bedingingsvermoëns beskik het.

Oorweeg gerus ook hierdie verdere aspek van Moses se leierskapvermoë: Hy moes met mense se aanhoudende klagtes, negatiwiteit en valse beskuldigings opgeskeep sit. Dít is waar die geestelike en genade van God ter sprake kom.

Númeri / Bamidbar {11:1} “En die volk het hulle voor die ore van die HERE beklaag dat dit sleg gaan. En toe die HERE dit hoor, het sy toorn ontvlam, en die vuur van die HERE het onder hulle gebrand en het gewoed aan die kant van die laer. {11:2}  Toe het die volk na Moses geroep, en Moses het tot die HERE gebid; en die vuur het doodgegaan. {11:3}  Daarom het hulle die plek Tabéra genoem, omdat die vuur van die HERE onder hulle gebrand het. {11:4}  En die gemengde bevolking wat onder hulle was, is met lus bevang. Toe het die kinders van Israel ook weer geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet? {11:5}  Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel. {11:6}  Maar nou is ons siel dor; daar’s glad niks nie: net die manna is voor ons oë. “

Waarheen gaan ek hiermee? Wel, ek het die gelentheid gehad om met baie messiaanse rabbi's te gesels en is dikwels vertel dat mense hul werk ligtelik opneem en slegs twee dae per week (Vrydag en Saterdag) werk. Niks kan egter verder van die waarheid wees nie! Gemeenteleiers moet - en dis nie ongewoon nie - 60 tot 70 uur per week werk, wat nodig is om alles te doen wat van hulle vereis word. So, volgende keer as julle dink dat julle moeg is vir jul sekulêre werk en verkieslik jul rabbi's se werk sou wou hê, dink aan Moses en ook aan wat ek sopas gesê het!     
         
Kom gou Jesus!



Voorheen uitgegee: 2009-06-13