En Hy het verskyn / VaYera | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link
Genesis / BeReshit 18:1-22:24
2 Konings / Melachim Bet 4:1-37
Lukas / Uri 1:26-38, 24:36-53
Genesis (Bereshit) {19:1} “En die twee engele het in die aand in Sodom aangekom, terwyl Lot in die poort van Sodom sit; en toe Lot hulle sien, het hy opgestaan om hulle tegemoet te gaan en hom gebuig met die aangesig na die aarde toe {19:2} en gesê: Kyk tog, my here, draai tog uit na die huis van u dienaar en bly die nag oor en was u voete; dan kan u vroeg opstaan en u reis voortsit. Maar hulle antwoord: Nee, ons sal op die plein vernag. {19:3} Maar hy het baie by hulle aangehou, sodat hulle na hom uitgedraai en in sy huis gekom het. En hy het vir hulle ‘n maaltyd berei en ongesuurde koeke gebak, en hulle het geëet. {19:4} Hulle het nog nie gaan slaap nie toe die manne van die stad, die manne van Sodom, die huis omsingel: jonk en oud, die hele bevolking, almal saam. {19:5} En hulle het na Lot geroep en aan hom gesê: Waar is die manne wat vannag na jou gekom het? Bring hulle na ons toe uit, dat ons hulle kan beken. {19:6} Daarop gaan Lot na hulle toe uit voor die ingang en sluit die deur agter hom toe {19:7} en sê: My broers, moet tog nie kwaad doen nie. {19:8} Kyk tog, ek het twee dogters wat geen man beken het nie; laat ek dié na julle uitbring, en doen met hulle soos dit goed is in julle oë. Net aan hierdie manne moet julle niks doen nie, want daarom het hulle onder die skaduwee van my dak ingekom. “
Ek het al dikwels gewonder waarom Abraham (Avraham) nie aangehou het om met God te onderhandel en die aantal regverdiges te vinde in Sodom en Gomora, na miskien een of selfs twee verminder het nie, maar ek veronderstel dat God (HaShem) vanuit die staanspoor bedoel het om slegs vir Lot en sy gesin te red en die goddeloses om te bring, soos wat God met Noag (Noach) se geslag gedoen het.
Was Lot werklik waardig om gered te word? Dit lyk beslis so, want volgens die bovermelde Skrifaanhaling, was hy inderdaad 'n eerbare man. Dit het duidelik geblyk uit die feit hoe hy sy besoekers beskerm het.
Ek is al dikwels gevra waarom Lot bereid was om sy maagdelike dogters aan die manne van Sodom uit te lewer om hierdie twee manne, vreemdelinge, te beskerm teen misbruik. Lot het immers nie geweet dat dit engele was nie, waarom het hy dit dan gedoen? Die antwoord, na my mening, is eer. Die Torah leer ons om ons naaste lief te hê soos onsself. Dit leer ons ook om vreemdelinge goed te behandel. Lot se oom, Abraham, was bekend vir sy gasvryheid en ek is seker dat Lot sy Torah-gebruike juis by hom geleer het. Nietemin, wat ons hier geleer word, gaan myns insiens veel verder as gasvryheid - dit handel allereers oor ons naasteliefde. Ek glo dat God ons deut Lot se bereidwilligheid om sy dogters in plaas van hierdie vreemdelinge op te offer, 'n gebaar is wat weinig, indien enige van ons, ooit sou oorweeg. Hy wys ons wat dit werklik inhou om jou naaste so lief te hê soos jouself. Watter liefde is bereid om iets op te offer wat 'n mens meer koester as enigiets in die wêreld? As ouer, is ek seker julle besef die tyd, liefde en aandag wat aan die grootmaak van kinders bestee word. Ons kinders is tog eintlik 'n verlengstuk van onsself. Lot se dogters was nie so jonk nie - hulle was reeds verloof; dus met inagneming van die ouderdom waarop dogters in daardie jare getrou het, moes albei ouer as dertien gewees. Vir 'n minimum van dertien jaar, het Lot en sy vrou ouerliefde aan hierdie twee dogters betoon. Dink dus baie versigtig na oor wat Lot bereid was om prys te gee ter wille van naasteliefde en oorweeg dan hoedat jy sou reageer het indien deur dieselfde situasie gekonfronteer. Het jy jou naaste inderdaad so lief soos vir jouself?
Jesaja (Yeshayahu) {55:7} “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik. {55:8} Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. {55:9} Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes. “
Verstaan julle dit? Ek dink nie Lot was - ten minste tot op hierdie punt - so regverdig nie. Die hele gebeurtenis is deur God beplan om Lot op die proef te stel. Kom ons kyk na die feite: Lot was geensins veronderstel om Ur saam met Abraham te verlaat nie. God het aan Abraham opdrag gegee om sy land, sy familie en sy vaderhuis te verlaat, wat hoegenaamd nie behels het dat hy hulle moes saam neem nie. Daar moes ongetwyfeld ';n goeie rede vir daardie opdrag gewees het en ek is oortuig daar was. Lot was nie juis 'n aanwins vir Abraham nie.
Lot se ware kleure en sy selfsug, selfgesentreerdheid het duidelik geblyk toe hy die beste deel van die land vir homself gekies het. Dit was sonder twyfel disrespekvol teenoor die senioriteit van Abraham. Maar, ek glo, dat deur hierdie finale daad van eer en onselfsugtigheid, Lot homself gered het en sy lewe asook dié van sy gesin. Indien Lot nie bereid was om sy dogters in plaas van die twee besoekers (engele) prys te gee nie, sou hy waarskynlik saam met al die ander goddeloses van Sodom en Gomorra omgekom het.
Ek hoop ons neem hierdie les van Lot ter harte want dit is 'n beginsel wat vir ons herhaal word deur Jesus (Yeshua) in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha).
Lukas (Uri) {9:24} “Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red. “
Congregation Melech Yisrael All rights Reserved
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking