Saterdag 06 September 2008

Nie Onopgelos of Ongewreek (Onversoen)

Rigters / Shoftim | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link

6 September 2008 / Elul 6 5768

Deuteronomium / Devarim 16:18-21:9

Jesaja / Yeshayahu 51:12-52:12

Johannes / Yochanan 1:19-27

Deuteronomium / Devarim {21:1} “As hulle in die land wat die HERE jou God jou sal gee om dit in besit te neem, een vind wat dood in die veld lê, sonder dat dit bekend is wie hom gedood het, {21:2} dan moet jou oudstes en jou regters uitgaan en die afstand meet na die stede wat rondom die een lê wat gedood is. {21:3} En die stad wat die naaste lê aan hom wat gedood is—die oudstes van dié stad moet ‘n jong koei neem waarmee nie gewerk is nie, wat nie in ‘n juk getrek het nie. {21:4} En die oudstes van dié stad moet die koei afbring in ‘n dal met standhoudende water waarin nie gewerk of gesaai word nie; en hulle moet daar in die dal die koei se nek breek. {21:5} Dan moet die priesters, die seuns van Levi, aankom; want die HERE jou God het hulle uitverkies om Hom te dien en om in die Naam van die HERE te seën, en volgens hulle uitspraak moet elke saak van twis en verwonding afgehandel word. {21:6} En al die oudstes van dié stad wat die naaste woon aan hom wat gedood is, moet hulle hande was oor die koei waarvan die nek in die dal gebreek is; {21:7} en hulle moet verklaar en sê: Ons hande het hierdie bloed nie vergiet nie, en ons oë het dit nie gesien nie. {21:8} Doen versoening vir u volk Israel wat U, o HERE, verlos het, en laat geen onskuldige bloed op u volk Israel rus nie, en laat die bloedskuld vir hulle versoen word. {21:9} En jy sal die onskuldige bloed uit jou midde verwyder as jy doen wat reg is in die oë van die HERE.”

Uit hierdie skrifgedeelte lei ek af dat daar hoegenaamd geen onopgeloste of ongewreekte moorde in die land Israel (Eretz Yisrael) kon wees nie. Elke moord móés opgelos of versoen word, hetsy deur die dood van die moordenaar of 'n koei soos ons sopas in die Skrifgedeelte van ons weeklikse oordenking (Parasha) gelees het. 'n Onskuldige jong koei (m.a.w. 'n koei waarmee nog nooit gewerk is nie) moes dus vir die prys van enige onopgeloste moorde boet. Bloedvergieting is 'n ernstige oortreding in God (HaShem) se heilige samelewing. Ja, doodstraf is inderdaad 'n realiteit in die Koninkryk van God! Die rede daarvoor, vreemd genoeg, is vanweë die heiligheid van die lewe.

Die behoud van lewe is, trouens, 'n beginsel wat dwarsdeur die Torah geleer word. Die redding van 'n lewe, gaan selfs die onderhouding van die Sabbat (Shabbat) te bowe. Hierdie beginsel geld vandag nog in Judaïsme. Die vraag ontstaan egter: Waar het die Joodse rabbynse leermeesters hierdie beginsel geleer? Ek glo dat hulle dit oorspronklik by Jesus die Messias (Yeshua HaMashiach) geleer het, selfs al sou hulle dit nooit erken het nie.

Markus / Mordechai {3:4} “Daarop sê Hy vir hulle: Is dit geoorloof om op die sabbat goed of kwaad te doen, ‘n lewe te red of dood te maak? Maar hulle het stilgebly.”

Lukas / Uri {14:5} ”En Hy antwoord en sê vir hulle: Wie van julle se esel of os sal in ‘n put val, wat dit nie dadelik op die sabbatdag sal uittrek nie?”

Oënskynlik verklaar hierdie Skrifgedeeltes, wat Jesus (Yeshua) tot die Fariseërs en wetsgeleerdes gespreek het, die feit dat die godsdienstige leiers in die tyd van Jesus (Yeshua) nie Sy goeie dade op die Sabbat (Shabbat) goedgekeur het nie. Dit is, trouens, vandag nie meer die geval onder rabbis nie: Die bewaring van lewe is nou vir hulle van die uiterste belang.

Dood deur moord - dit is die opsetlike vergieting van onskuldige bloed aan die hand van 'n moordenaar met voorbedagte rade - móét gewreek word. Iemand of iets - 'n koei in hierdie Bybelse geval - moes doodgemaak word om vir 'n onopgeloste moord te versoen. Bedoel dit nou dat die moordenaar ongestraf gebly het? Ek betwyfel dat dit ten sterkste, want sou hy ooit gevang en skuldig bevind word, sou hy beslis ter dood veroordeel word.

In 1954 het die land Israel (Eretz Yisrael) die doodstraf afgeskaf, met uitsondering van 'n paar baie ernstige gevalle. In Kanada is die doodstraf in 1976 geheel-en-al afgeskaf; trouens, selfs 'n vreemdeling wat in sy land van herkoms 'n misdaad gepleeg het waarvoor hy dáár vir die doodstraf in aanmerking sou kom, word nie deur Kanada aan die betrokke owerheid uitgelewer nie. In meeste state van die Verenigde State van Amerika, is die doodstraf reeds afgeskaf en in die oorblywende state, waar die nog nie amptelik gedoen is nie, word gehuiwer om moordenaars tereg te stel.

Jesaja (Yeshuayahu) {5:20}” Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.”

Wat word hiermee bedoel? Ek verstaan hieruit dat die afskaffing van doodstraf net nog 'n spyker in die doodskis van hierdie wêreld is. Satan (HaSatan) was baie geslaagd in sy poging om die wêreld te bedrieg asook in sy poging om enige seëninge van God (HaShem) oor Israel (Yisrael) en die wêreld, teen te werk. Dit het hy verseker deur te sorg dat heirdie gebod, wat doodstraf vir moordenaars vereis, afgeskaf word.

Verbaas dit 'n mens? Beslis nie! Satan (HaSatan) het presies dieselfde taktiek toegepas op die kinders van Israel (bnei Yisrael) toe hulle op die vlaktes van Moab (Moav) tent opgeslaan het. Hy het by Bala'am die gedagte laat opkom om Moabitiese vroue in die kamp van die kinders van Israel (bnei Yisrael) in te stuur sodat Israel (Yisrael) moes sondig en sodoende God (HaShem) se seën verbeur. Dit het die kinders van Israel (bnei Yisrael) aan God se oordeel blootgestel.

Numeri (Bamidbar) {25:1} “Toe Israel in Sittim gebly het, het die volk begin hoereer met die dogters van die Moabiete— {25:2} dié het die volk na die offers van hulle gode uitgenooi; en die volk het geëet en hulle neergebuig voor hulle gode. {25:3} So het Israel hom dan gekoppel aan Baäl-Peor, en die toorn van die HERE het teen Israel ontvlam. {25:4} Toe sê die HERE vir Moses: Neem al die hoofde van die volk en hang die oortreders op in die volle son vir die HERE, sodat die toorngloed van die HERE van Israel afgewend kan word. {25:5} Daarop het Moses aan die rigters in Israel gesê: Slaan elkeen sy manne dood wat hulle aan Baäl-Peor gekoppel het.”

Het die oordeel vanweë hierdie sonde op die kinders van Israel (bnei Yisrael) neergekom?

Numeri (Bamidbar) {25:18} “want hulle het julle as vyand behandel deur hulle liste wat hulle teen julle bedink het in die saak van Peor en in die saak van Kosbi, die dogter van die vors van Mídian, hulle landgenoot, wat op die dag van die plaag weens Peor verslaan is.”

Volgens oordenking Balak en oordenking Pinchas is baie deur die swaard doodgemaak en het God (HaShem) ook 'n plaag onder hulle ingestuur om hulle uit te delg.

Meen jy dus dat Satan die volk van Israel (Eretz Yisrael), Kanada, die Verenigde State van Amerika en ander lande van die wêreld, waar die doodstraf afgeskaf is, blootgestel het aan die oordeel van God (HaShem)?

Congregation Melech Yisrael All rights Reserved

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking