Saterdag 13 September 2008

Jesus (Yeshua) Handhaaf Die Voorskrifte Van Die Torah

Wanneer jy uitgaan / Ki Teitzei | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link

13 September 2008 / Elul 13 5768

Deuteronomium (Devarim) 21:10-25:19

Jesaja (Yeshayahu) 54:1-10

1 Korinthiërs (Korintim Aleph) 5:1-5

Johannes / Yochanan {8:3} “En die skrifgeleerdes en die Fariseërs het ‘n vrou wat in egbreuk betrap was, na Hom gebring. {8:4} En toe hulle haar tussen hulle in laat staan het, sê hulle vir Hom: Meester, hierdie vrou is op ‘n daad van egbreuk betrap; {8:5} en Moses het ons in die wet bevel gegee om sulke vroue te stenig; maar U, wat sê U? {8:6} En dit het hulle gesê om Hom te versoek, sodat hulle iets kon hê om Hom te beskuldig; maar Jesus het neergebuk en met die vinger op die grond geskrywe. {8:7} Maar toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy Hom opgerig en vir hulle gesê: Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste ‘n klip op haar gooi. {8:8} En weer het Hy neergebuk en op die grond geskrywe. {8:9} En toe hulle dit hoor, het hulle, deur hul gewete bestraf, een vir een weggegaan, van die oudste af tot die laaste toe; en Jesus het alleen agtergebly, en die vrou wat daar tussen hulle in gestaan het. {8:10} En toe Jesus Hom oprig en niemand sien behalwe die vrou nie, sê Hy vir haar: Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie? {8:11} En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.”

Julle wonder miskien waarom ek hierdie D’var Torah met 'n Skrifgedeelte uit die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) begin het. Die eerste rede is dat een van die verse wat deur Jesus (Yeshua) gespreek is, verwys na ons oordenking (Parasha) vir hierdie week. Die tweede rede is dat hierdie gedeelte dikwels verkeerdelik aangehaal word deur nie-Messiaanse gelowiges om te bewys dat die Wet herroep is en ons nou onder genade in plaas van die Wet, verkeer. Hieronder volg dus die Skrifgedeelte van ons oordenking vandeesweek, waarna ek verwys:

Deuteronomium / Devarim {22:22} “As ‘n man betrap word terwyl hy met ‘n getroude vrou gemeenskap het, moet hulle altwee sterwe: die man wat met die vrou gemeenskap gehad het, en die vrou. So moet jy dan die kwaad uit Israel uitroei.”

So, het Jesus (Yeshua) dan inderdaad die Torah oortree deurdat Hy nie die vrou wat in egbreuk betrap is, veroordeel het nie? Volgens dié verhaal uit Johannes (Yochanan), kon die afleiding gemaak word dat Jesus (Yeshua) voorkeur verleen het aan genade bo die Wet. Na alles het Hy vir die vrou se beskuldigers gesê: "Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste 'n klip op haar gooi". Dit kon die indruk skep dat Jesus (Yeshua) genade bo die Wet verdedig. Nietemin, die feit is egter dat Jesus (Yeshua) geensins, deur wat Hy gesê of gedoen het, die Torah oortree het nie. Hoegenaamd nie! Laat my toe om dit te verduidelik.

Die skrifgeleerdes en Fariseërs het, soos vertel word, die vrou (in ons Skrifgedeelte) daadwerklik betrap in egbreuk. Dit beteken natuurlik dat sowel die man as die vrou albei op daardie tydstip teenwoordig was en beide betrap is in die daad van geslagsgemeenskap. Dit dien daarop gelet te word dat die skrifgeleerdes en Fariseërs slegs die vrou na Jesus (Yeshua) gebring het. As hulle egter wel so gesteld was op Jesus (Yeshua) se nakoming van die Torah en hoe Hy hierdie vrou in verhouding tot die Wet sou veroordeel, waarom het hulle dan nie ook - soos, trouens, deur die Torah voorgeskryf - die skuldige man ook gebring nie? Albei moes, na alles, saam gewees het toe hulle op heterdaad betrap is. Die rede is voor-die-hand-liggend en word aan ons verstrek in die Skrifgedeelte uit Johannes (Yochanan):

Johannes / Yochanan {8:6} "En dit het hulle gesê om Hom te versoek, sodat hulle iets kon hê om Hom te beskuldig..."

Die Torah vereis dat beide die man en die vrou gestenig word, indien hulle in die daad van owerspel betrap word. Tog, het die skrifgeleerdes en Fariseërs slegs die vrou na Jesus (Yeshua) gebring. Derhalwe was hierdie voorval nie 'n daad van Jesus (Yeshua) om voorkeur aan genade bo die Wet te verleen nie. Inteendeel, dit was 'n poging van die skrifgeleerdes en Fariseërs om die voorskrifte van die Torah omver te werp en Jesus (Yeshua) te laat sondig. Ons Here het egter dwarsdeur hulle gesien: Aangesien die vrou op heterdaad betrap is, waar was die man dan? Die feit is dat Jesus (Yeshua) inderdaad die voorskrifte van die Torah verdedig. Gevolglik kan hierdie gedeelte nie vertolk word as bewys dat die Hebreeuse Geskrifte (Tanach), geskrifte van die Wet is, terwyl die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) geskrifte van genade is nie.

Daar is egter iets anders wat ek graag, na aanleiding van ons skrifgedeelte uit Johannes (Yochanan) hoofstuk agt, aan die hand wil doen. Mense vra dikwels: Wat was Jesus (Yeshua) besig om op die grond te skrywe wat veroorsaak het dat die skrifgeleerdes en Fariseërs, een vir een, die toneel verlaat het?

Johannes / Yochanan {8:7} “Maar toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy Hom opgerig en vir hulle gesê: Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste ‘n klip op haar gooi. {8:8} En weer het Hy neergebuk en op die grond geskrywe. {8:9} En toe hulle dit hoor, het hulle, deur hul gewete bestraf, een vir een weggegaan, van die oudste af tot die laaste toe; en Jesus het alleen agtergebly, en die vrou wat daar tussen hulle in gestaan het.”

Uit die verband van dié gedeelte sou ons kon veronderstel dat wat Jesus (Yeshua) ookal besig was om op die grond te skrywe, iets te doen gehad het met die sonde van hulle wat hierdie vrou van owerspel beskuldig het. Indien dit waar was, waarom sou dit wat Jesus (Yeshua) geskryf het, hulle laat weggaan het? Die moontlike antwoord daarop, so glo ek, word vir ons gegee in hierdie Skrifgedeelte uit die Hebreeuse Geskrifte (Tanach):

Jeremia / Yirmeyahu {17:13} “O HERE, Verwagting van Israel! almal wat U verlaat, sal beskaamd staan; wie van My afwyk, sal op die aarde geskryf word; want hulle het die HERE, die fontein van lewende water, verlaat.”

Die manne wat hierdie vrou beskuldig het, en in die proses vir Jesus (Yeshua) op die proef gestel het, was wel deeglik in die Torah onderrig. Toe Jesus (Yeshua) egter neergebuk het, het Hy moontlik begin om hulle sondes in die grond te skryf en toe, die tweede keer, hul name naas hul sonde, en hulle sodoende beskaamd laat weggaan. Vanselfsprekend was hierdie beskuldigers nie sonder sonde nie; dus het hulle, een vir een stadig begin weggaan, soos hul name deur die vinger van Jesus (Yeshua) (God in die vlees) in die grond geskryf is.


Congregation Melech Yisrael All rights Reserved

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking