Geslagte / Toldot |Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel
21 November 2009 / Kislev 4 5770
Genesis / BeReshit 25:19 - 28:9
Maleagi / Mal'achi 1:1 - 2:7
Romeine / Romim 9:6 - 13
Genesis / BeReshit {25:27} "En die seuns het opgegroei: Esau het ‘n ervare jagter geword, ‘n man van die veld; maar Jakob was ‘n vredeliewende man wat in tente gewoon het. {25:28} En Isak het Esau liefgehad, want wildsvleis was na sy smaak; maar Rebekka het Jakob liefgehad. {25:29} En Jakob het ‘n kooksel klaargemaak en Esau het moeg uit die veld gekom. {25:30} Toe sê Esau vir Jakob: Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg. Daarom het hulle hom Edom genoem. {25:31} En Jakob antwoord: Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my. {25:32} En Esau sê: Kyk, ek gaan sterwe, en wat baat die eersgeboortereg my dan? {25:33} Toe antwoord Jakob: Sweer eers vir my. En hy het vir hom gesweer en sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop. {25:34} En Jakob het aan Esau brood en die kooksel lensies gegee; en hy het geëet en gedrink en opgestaan en weggegaan. So het Esau dan sy eersgeboortereg verag."
Hoe honger kon Esau gewees het dat hy op die punt was om te sterwe? Daar word nie vertel dat hy van sy jagtog af op 'n draagbaar deur paramedici teruggebring is nie; inteendeel, dit word gemeld dat hy op eie krag teruggekeer het. Hoe naby aan die dood kon hy dan gewees het? Nietemin sê Esau vir Jakob dat hy só honger is dat hy kan sterwe.
Ek weet egter nie hoe lank Esau op sy jagtog sonder voedsel was nie, maar my eggenote en ek het al vir veertig dae gevas. Ons het ookal dikwels op één, twee en drie-week vastye gegaan en was sekerlik nooit as gevolg daarvan, naby aan doodgaan nie. Ek sou dit inderdaad verstaan het indien Esau vir 'n onbepaalde tyd sonder water was, want selfs drie dae sonder water kon, onder normale omstandighede, ernstige nagevolge gehad het; maar wat voedsel betref sou Esau beslis vir veertig dae daarsonder sou oorleef het.
Daar is dus geen twyfel nie dat bovermelde gedeelte waarin ons vertel word dat hy sy eersgeboortereg vir voedsel verruil het om sy honger te stil, hy inderdaad sy geboortereg verag het. Nadat hy egter besef het wat hy gedoen het - toe die werklikheid van wát hy verkoop het, hom tref - beskuldig hy sy broer Kakob van bedrog.
Genesis / BeReshit {27:34} Toe Esau die woorde van sy vader hoor, skreeu hy met ‘n baie groot en bitter geroep, en hy sê vir sy vader: Seën my ook, my vader! {27:35} En hy antwoord: Jou broer het gekom met bedrog en jou seën weggeneem. {27:36} Daarop sê hy: Sou hulle hom Jakob noem, omdat hy my nou twee keer onderkruip het? My eersgeboortereg het hy geneem, en daar het hy nou my seën geneem! Verder vra hy: Het u vir my geen seën oorgehou nie?
Maar die vraag bly steeds: Hoe honger kon Esau dan werklik gewees het? Ek dink Esau se verklaring dat hy tot die dood toe honger was, was 'n oordrywing. Ek is seker dat julle ookal, soos ek, hierdie woorde in jul lewe uitgespreek het. Julle was nie regtig op die punt om te sterwe nie, maar julle het dié woorde gebruik om uit te druk hoe vreeslik honger julle was. Ek aanvaar dat dit met Esau dieselfde was. Dit is verstommend wat 'n mens alles sal doen om jou honger te stil, as jy nie gedissiplineerd is nie. Wanneer ek vas, verg dit baie dissipline, selfbeheersing en 'n sterk geloof in God om daarmee vol te hou. Waarom dan geloof? Omdat ek altyd vir 'n bepaalde doel vas, óf om 'n persoonlike behoefte of 'n gebedsversoek óf voorbidding namens iemand anders. Sonder die geloof dat wát ek doen, God sal beweeg om my te verhoor, sou ek nooit behoorlik kon vas nie, want my aptyt en vlees sou altyd die oorhand oor my gekry het!
As ons vandag dink aan geboortereg, dink ons aan iets soos 'n erflating, moontlik van geld of eiendom, maar alhoewel God finansieel vir ons voorsien, is Hy meer begaan oor ons geestelike welsyn en ons verhouding met hom. Wanneer die Bybel dus spreek van 'n geboortereg, soos vandeesweek se Parasha, word daar eintlik verwys na Esau se geestelike toestand en sy persoonlike verhouding met God. Jakob was miskien 'n knoeier, maar hy was darem spiritueel en het 'n verhouding met God gehad, wat die Skrif bedoel met "Jakob was 'n vredeliewende man wat in tente gewoon het." Esau daarenteen was Godloos en dít was sy probleem.
God is 'n gelowige se erfenis, Hy is ons geboortereg. Toe Esau sy geboortereg verwerp het, het hy inderwaarheid God verwerp - iets wat selfs vandag nog vir ons duidelik is soos ons ondervind hoedat sy nageslag 'n vreemde God aanbid. Die skrywers van Hebreërs stel dit baie duidelik wanneer hy sê:
Hebreërs / Ivrim {12:15}en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie. {12:16} Laat niemand ‘n hoereerder wees nie, of ‘n onheilige soos Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het.
Vra julle self vandag af: "Hoe belangrik is God vir jóu en teen watter prys sal jy Hom uit jou lewe uitverkoop!"
Congregation Melech Yisrael all rights reserved
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking