Saterdag 13 Junie 2009

Laste en Vermoëns van Leierskap

In Jou Opset / BeHa'Alotecha | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link


13 Junie 2009 / Sivan 21st 5769

Númeri / BaMidbar / 8:1-12:16

Sagaría / Zecharyah 2:14-4:7

1 Korinthiërs / Korintim Aleph 10:6-13


Númeri / Bamidbar {8:6} "Neem die Leviete onder die kinders van Israel uit en reinig hulle. {8:7} En so moet jy met hulle doen om hulle te reinig: Sprinkel op hulle water van ontsondiging; en hulle moet ‘n skeermes oor hulle hele liggaam laat gaan en hulle klere was en hulleself reinig {8:8} Daarna moet hulle ‘n jong bul neem en die spysoffer wat daarby behoort: fynmeel met olie gemeng; en ‘n ander jong bul moet jy as sondoffer neem. {8:9} En jy moet die Leviete voor die tent van samekoms laat nader kom en die hele vergadering van die kinders van Israel versamel. {8:10} Dan moet jy die Leviete voor die aangesig van die HERE laat nader kom, en die kinders van Israel moet hulle hande op die Leviete lê. {8:11} En Aäron moet die Leviete as beweegoffer beweeg voor die aangesig van die HERE namens die kinders van Israel, sodat hulle daar kan wees om die dienswerk van die HERE te verrig. {8:12} En die Leviete moet hulle hande op die kop van die bulle lê; en berei jy een as sondoffer en een as brandoffer vir die HERE, om vir die Leviete versoening te doen. {8:13} Dan moet jy die Leviete stel voor Aäron en sy seuns en hulle as beweegoffer aan die HERE beweeg. {8:14} En jy moet die Leviete onder die kinders van Israel uit afsonder, dat die Leviete myne kan wees. {8:15} En daarna moet die Leviete inkom om die tent van samekoms te bedien. So moet jy hulle dan reinig en hulle as beweegoffer beweeg."


Terwyl ek vandeesweek se oordenking oorweeg en bepeins het, het ek besef dat alles wat Moses as leier moes doen, ook op my betrekking het. Hierdie oordenking behels die take wat hy, as deel van sy posisie as leier, moes verrig. Aanvanklik is die taak van wyding van die Leviete aan God, aan hom opgedra.

Dit opsigself was 'n aansienlike taak en ek is oortuig dat dit buitengewone bestuurs-en administratiewe vaardighede vereis het. Laat ons van één ding seker wees: Daar was hoegenaamd geen kans om foute te begaan met dít wat hy moes uitvoer nie.

Dit het my daaraan laat dink dat ofskoon ek die geestelike leier van ons gemeente is, daar ook van my verwag word om allerlei administratiewe en bestuursfunksies - wat nie deel van my geestelike bediening uitmaak nie - te verrig. Tog hét dit betrekking daarop, want die geestelike sy kon nie reg gewees het sonder dat die administratiewe-en bestuursgedeelte van my werk, ook reg is nie: Dit is algeheel toepaslik. Bediening behels meer as die geestelike, alhoewel die geestelike by uitstek belangrik is; bediening is ook bestuur en administrasie.

Moses het onder 'n swaar las gebukgegaan, sowel geestelik as fisies, maar oënskynlik het God hom met die nodige vaardigheded toegerus om sy werk uit te voer. Waarvandaan het Moses hierdie vaardighede ontvang? Die geestelike het voortgevloei uit 'n omskepte lewe: Moses deur God! Ek bedoel dat hy waarlik 'n onmoeting met God gehad het, nie slegs fisies vanuit 'n brandende bos nie, maar hy het God ook ontmoet op 'n persoonlike en verhoudingswyse, wat sy lewe vir ewig verander het. Maar, soos ons Moses ken, om 'n goeie leier te wees, het hy meer as bloot geestelik - vervul te wees, nodig gehad: Hy moes 'n goeie bestuurder en administrateur wees. Wanneer hierdie vaardighede met die Gees gekombineer word, het dit al die eienskappe van 'n goeie leier. Dus verstaan ons waar en hoe Moses die geestelike ontvang het, maar wat van die fisiese?

Moses het grootgeword as 'n prins in Egipte. As sulks is hy opgelei om 'n leier van manne, 'n krygsman en 'n staatsman te wees. Te oordeel aan die wyse waarop hy opgetree het om bykans 'n miljoen mense in die woestyn te beheer, kan 'n mens ekerlik aflei dat hy in Egipte deeglik onderrig is. Daarbenewens het hy veertig jaar lank in Midian skape opgepas. Ek besef dat ek Moses se jare as skaapherder dikwels voorgestel het asof hy net rondgesit het, met een oog op die skape en die ander op die groeiende weiding.

Ja, in die verlede het ek die indruk geskep dat Moses sy tyd bloot nutteloos verwyl het, maar moontlik het ek 'n valse indruk geskep. Ek is oortuig dat Moses veel meer as 'n skaapherder was. Hy was, trouens, saam met sy skoonvader, in die veebedryf. Om skape op te pas is maar 'n deel van die pligte van 'n herder. Deur die besit van hierdie skape, het Moses tog sekerlik skape gekoop en verkoop asook op die plaaslike markte met skaapprodukte soos melk, kaas en wol handel gedryf. Benewens die skape, het die kudde ook bokke behels, wat ook vir finansiële gewin geteël is. Moses was 'n entrepeneur, en indien julle enige kennis van die Midde-Oostelike kultuur het, sou julle besef dat hy ook 'n bedrewe onderhandelaar was en oor vaardige bedingingsvermoëns beskik het.

Oorweeg gerus ook hierdie verdere aspek van Moses se leierskapvermoë: Hy moes met mense se aanhoudende klagtes, negatiwiteit en valse beskuldigings opgeskeep sit. Dít is waar die geestelike en genade van God ter sprake kom.


Númeri / Bamidbar {11:1} "En die volk het hulle voor die ore van die HERE beklaag dat dit sleg gaan. En toe die HERE dit hoor, het sy toorn ontvlam, en die vuur van die HERE het onder hulle gebrand en het gewoed aan die kant van die laer. {11:2} Toe het die volk na Moses geroep, en Moses het tot die HERE gebid; en die vuur het doodgegaan. {11:3} Daarom het hulle die plek Tabéra genoem, omdat die vuur van die HERE onder hulle gebrand het. {11:4} En die gemengde bevolking wat onder hulle was, is met lus bevang. Toe het die kinders van Israel ook weer geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet? {11:5} Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel. {11:6} Maar nou is ons siel dor; daar’s glad niks nie: net die manna is voor ons oë."


Waarheen gaan ek hiermee? Wel, ek het die gelentheid gehad om met baie messiaanse rabbi's te gesels en is dikwels vertel dat mense hul werk ligtelik opneem en slegs twee dae per week (Vrydag en Saterdag) werk. Niks kan egter verder van die waarheid wees nie! Gemeenteleiers moet - en dis nie ongewoon nie - 60 tot 70 uur per week werk, wat nodig is om alles te doen wat van hulle vereis word. So, volgende keer as julle dink dat julle moeg is vir jul sekulêre werk en verkieslik jul rabbi's se werk sou wou hê, dink aan Moses en ook aan wat ek sopas gesê het!


Congregation Melech Yisrael All rights Reserved

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking