Korag / Korach | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link
27 Junie 2009 / Tammuz 5th 5769
Numeri / BaMidbar 16:1-18:32
1 Samuel / Sh'muel Aleph 11:14-12:22
Romeine / Romim 13:1-7
Numeri / Bamidbar {16: 1} "En Korag, die seun van Jishar, die seun van Kehat, die seun van Levi, saam met Datan en Abíram, seuns van Elíab, en On, die seun van Pelet, seuns van Ruben, het manne geneem, {16:2} en hulle het opgestaan voor die oë van Moses saam met twee honderd en vyftig man uit die kinders van Israel, owerstes van die vergadering, manne wat opgeroep was vir die volksvergadering, manne van naam. {16:3} En hulle het bymekaargekom teen Moses en Aäron en aan hulle gesê: Dit is nou genoeg; want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die HERE is in hulle midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die HERE? {16:4} Toe Moses dit hoor, het hy op sy aangesig geval; {16:5} en hy het met Korag en sy hele bende gespreek en gesê: Môre vroeg, dan sal die HERE bekend maak wie Hom toebehoort en wie die heilige is, en wie Hy na Hom laat nader kom: wie Hy uitkies, sal Hy na Hom laat nader kom. {16:6} Doen dit: Neem vir julle vuurpanne, Korag en sy hele bende, {16:7} en gooi daar môre vuur in en lê daar reukwerk op voor die aangesig van die HERE; dan sal die man wat die HERE uitkies, die heilige wees. Dit is nou genoeg, kinders van Levi! {16:8} Verder het Moses vir Korag gesê: Luister tog, kinders van Levi! {16:9} Is dit julle nie genoeg dat die God van Israel julle uit die vergadering van Israel afgeskei het om julle na Hom te laat nader kom, om die dienswerk van die HERE se tabernakel te verrig en te staan voor die vergadering om hulle te dien nie, {16:10} en Hy jou laat nader kom het en al jou broers, die kinders van Levi, saam met jou—dat julle nou ook die priesteramp begeer? {16:11} Daarom, jy en jou hele bende is mense wat teen die HERE vergader; want Aäron, wat is hy, dat julle teen hom murmureer? {16:12} En Moses het gestuur om Datan en Abíram, die seuns van Elíab, te laat roep; maar hulle het gesê: Ons sal nie opkom nie. {16:13} Is dit nie genoeg dat jy ons uit ‘n land wat oorloop van melk en heuning laat optrek het om ons in die woestyn om te bring, dat jy ook gedurig oor ons die baas wil speel nie?"
Toe die bogemelde gebeurtenis plaasgevind het, het Moses reeds jare lank die kinders van Israel deur die wildernis gelei. Wat het dan skielik, skynbaar uit die niet, gebeur dat hierdie leiers besluit het om in opstand te kom? Waarom het hulle hierdie besonderde tyd gekies om dit te doen? Verstaan mooi, dit was nie 'n oproer deur gewone manne nie; hierdie was owerstes van die vergadering, of volgens die Skrifgedeelte "manne van aansien". Dit beteken dat hulle deel van die leierskap was en hooggeag in Edah. Hoe het dit dan gebeur dat hulle hierdie spesifieke tyd gekies het om 'n kragmeting met Moses en Aäron te hê?
Soos dit vir my lyk, was daar skynbaar 'n toename van gebeure op dié tydstip wat tot hierdie oproer gelei het. Eerstens, moet ons onthou dat Korag 'n lid van die Levi-stam was, waartoe Moses en Aäron ook behoort het. Uit Korag se redes, kan ons aflei dat hy Moses en Aäron geensins beter of meer bekwaam as hyself beskou het nie. Nogtans was Moses die één wat opdragte gegee het en nie hy nie. Toe het Moses sy broer, Aäron gekies om hoëpriester te wees - 'n keuse wat duidelik Korag se vermoede van nepotisme laat onstaan het. Boonop het Moses verklaar dat die hoëpriesterlike posisie uitsluitlik tot die afstamming van Aäron beperk sou wees; al Aäron se kinders sou nou vir ewig 'n bevoorregte posisie onder die Levitiese priesterskap geniet. Hule sou voorrang geniet en feitlik soos koninklikes behandel word, terwyl, soos ons uit die Oordenking Naso van drie weke gelede gesien het, die ander Levitiese families al die hande-arbeid moes verrig. Hulle sou die mense wees wat verantwoordelik was vir die oppak van die tabernakel, om al die toebehore daarvan deur die woestyn te dra en die opslaan daarvan elke keer wat hulle kamp opgeslaan het. Hulle sou die offerhandes moes behartig asook ander pligte uitvoer om die tabernakel in stand te hou, terwyl Moses, Aäron en al die seuns van Aäron slegs die opdragte sou gee. Tweedens, was dit 'n ideale geleentheid vir 'n rebellie. Die voorval van die spioene was nog vars in almal se geheue. Laat ek dus julle geheue ook verfris. Die kinders van Israel was ongehoorsaam aan God deurdat hulle die land nie wou binnegaan nie. Toe hulle hul fout besef, het hulle besluit om te doen wat God oorspronklik vir hulle gesê het om te doen en die land in te neem. Dit het hulle egter gedoen ten spyte van Moses se waarskuwing dat God nie met hulle sou wees nie. Gevolglik is hulle behoorlik deur die Amalekiete verslaan. Ek is dus seker dat hulle Moses blameer het vir hul nederlaag. Watter meer geleë tyd was dit nie om díe situasie te benut en vir Korag om 'n opstand aan te hits nie?
Waarom sou die leierskap van die stam van Reuben dan betrokke geraak het? Hulle het niks meer met die priesterskap te doen gehad nie en was dus maar 'n gewone stam. Wag 'n bietjie; daar is dit! Kon dit gewees het dat hulle by die opstand aangesluit het juis omdat hulle as 'n gewone stam beskou is? Onthou dat die stam van Reuben die aansienlikste stam van Israel moes wees. Hulle het egter hul posisie as hoof onder die stamme verbeur omdat Reuben, die eersgeborene van Jakob, sy vader se bed besoedel het omdat hy met een van sy vader se vrouens geslaap het.
Dus, sou die leier van die stam van Reuben dit as 'n geleë oomblik vir 'n opstand beskou het. 'n Perfekte geleentheid om die stam van Reuben hoofstam onder die stamme van Israel te hervestig.
Wat die oproer dus eintlik op daardie besonderde tydstip aangevuur het, was hoogmoed en jaloesie: twee sinnelike sondes wat tot vandag toe nog ons lewens teister.
Spreuke / Mishlei {8:13}”Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en ‘n slegte wandel en ‘n huigelagtige mond haat ek."
Congregation Melech Yisrael All rights Reserved
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking