Na die Dood Afgesonderdes / Acharei Mot-Kedoshim | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link
Levitikus / VaYikra 16:1-20:27
Amos / 'Amos 9:7-15
1 Korinthiërs / Korintim Aleph 6: 9-20
Matthéüs / Mattityahu 5:43-48
Vandeesweek se torah-lesing is 'n dubbele gedeelte. Eerstens sal ek oor "Na die Dood" kommentaar lewer en daarna oor die "Afgesonderdes" (Kedoshim).
Levitikus / VaYikra {18:1}” Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {18:2} Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Ek is die HERE julle God. {18:3} Volgens die werke van die land van Egipte waar julle in gewoon het, mag julle nie doen nie; en volgens die werke van die land Kanaän waarheen Ek julle bring, mag julle nie doen nie, en julle mag in hulle insettinge nie wandel nie. {18:4} My verordeninge moet julle doen en my insettinge hou om daarin te wandel. Ek is die HERE julle God. {18:5} Hou dan my insettinge en my verordeninge wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe. Ek is die HERE. “
God gaan voort met 'n lys van afskuwelikhede, wat in die land van die Egiptenare en die land Kanaän plaasgevind het. Dit is inderdaad ontnugterend om dit deur te lees, want ek dink ons kan almal toegee dat alles wat in die lys vermeld word, ongeag waar ons woon, vandag steeds in ons land plaasvind.
Die ergste is dat dit ook in die land Israel plaasvind. Kom ons wees eerlik, die wêreld is ryp (gereed) vir oordeel en niemand weet werklik wanneer en hoe rampspoed ons land, ons stad of ons tuisdorp gaan tref nie.
Jesaja / Yeshayahu {49:22} “So sê die Here HERE: Kyk, Ek sal my hand ophef na die nasies en my banier opsteek na die volke; dan sal hulle jou seuns aan die boesem bring, en jou dogters sal op die skouer gedra word; {49:23} en konings sal jou oppassers wees, hulle vorstinne jou pleegmoeders; hulle sal voor jou neerbuig met die aangesig na die aarde toe en die stof van jou voete lek; en jy sal weet dat Ek die HERE is, dat hulle nie beskaamd staan wat My verwag nie. “
As dit nie was vir beloftes soos hierdie, wat God aan die kinders van Israel gemaak het nie, dan sou ons met die lees van ons oordenking, dink dat God die ganse aarde sou uitwis en weer van vooraf begin. Ons het egter hierdie beloftes en veel meer soortgelyke, wat aan ons bevestig dat God 'n plan het en daardie plan 'n herstelde Israel en herstelde wêreldnasies, wat almal Hóm aanbid, insluit.
Ons hoor vandag dat die president van die Verenigde State praat van 'n kernbom -vrye wêreld. Kan iemand so naïef wees om te glo, dat in 'n wêreld soos ons s'n, 'n wêreld so deurdrenk van sonde (soos hierbo vermeld), so iets moontlik kan wees? Selfs indien dit wel moontlik was en toevallig deur 'n ooreenkoms bekragtig word, kan 'n mens beswaarlik glo - gegewe die boosheid van die mens se hart - dat dit ooit sou voortduur?
Die Skrif vertel ons, in albei boeke van Joël en Maleági, dat groot verwoesting oor die aarde gaan kom. Beide boeke verwys na 'n toekomstige tyd, wat hulle "die grote en deurlugtige dag van die Here" en "die grote en vreeslike dag van die Here" onderskeidelik noem.
Joël / Yoel {2:31} “Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die HERE kom. “
Maléagi / Malachi {4:5} “Kyk, Ek stuur julle die profeet Elía voordat die groot en vreeslike dag van die HERE aanbreek. “
Is dat dan geen wonder nie, wanneer ons dié week se oordenking lees en die gedeelte oor die afskuwelike praktyke van die lande van Egipte en Kanaän lees, dat ons tragedies en die oordeel van God oor ons lande moet verwag nie? Wanneer 'n mens, trouens, die toestand van ons eie lande beskou, dink ek "die grote en deurlugtige dag van die Here" is aan die kom. Meen dit dat ons bekommerd hoef te wees? Bedoel dit dat ons solank voedsel en water moet opgaar? Ofskoon dit 'n goeie idee is om 'n voorraad voedsel en water vir ten minste drie dae beskikbaar te hou, vir ingeval 'n natuurlike ramp of noodtoestand ontstaan, glo ek nie dit is nodig om paniekerig of oormatig bekommerd te wees nie. God sal beskerm; Hy sal almal wat Syne is beskerm, net soos Hy vir Noag, tydens die sonvloed, beskerm het. Trouens, die enigste waaroor ons, as gelowiges in Jesus die Messias, bekommerd moet wees en ons gedagtes mee moet besighou, is die redding van ons geliefdes en vriende.
1 Thessalonicense / Tesolonikim Alef {5:3} “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.”
Nou, vir my kommentaar oor afgesonderdes "Kedoshim", dit is kort want ek meen hierdie oordenking is selfverduidelikend.
Levitikus / Vayikra {19:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {19:2} Spreek met die hele vergadering van die kinders van Israel en sê vir hulle: Heilig moet julle wees, want Ek, die HERE julle God, is heilig.”
Die woord "kadosh" word in ons Afrikaanse Bybels as "heilig" vertaal, maar dit is nie die beste vertaling nie. "Kadosh" beteken afgesonderd of opsy sit. In die "Oordenking Afgesonderdes" word ons vertel dat God wil hê dat dié wat aan Hom behoort, 'n opsygesette of afgesonderde lewe moet lei. Ons hoef nie te ver in die oordenking te lees om te verneem wat dit behels om 'n "Kadosh" of afgesonderde lewe te lei nie. God verduidelik dit vir ons baie duidelik en daar is geen twyfel oor wat dit is wat van ons verwag word nie. Die enigste probleem is dat nie elkeen gereed of bereid is om "Kadosh" te wees nie.
Congregation Melech Yisrael All rights Reserved
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking