Saterdag 09 Januarie 2010

Min in getal oorgelaat

Name / Shemot |Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel


9 Januarie 2010 / Tevet 23 5770

Eksodus / Shemot 1:1-6:1

Jesaja / Yeshayahu 27:6-28:13

Handelinge / Mas'asei Talmidim 7:17-29


Eksodus / Shemot {1:8} “Toe staan daar ‘n nuwe koning oor Egipte op wat niks van Josef geweet het nie. {1:9} Dié het aan sy volk gesê: Kyk, die volk van die kinders van Israel is meer en magtiger as ons. {1:10} Kom, laat ons ‘n slim plan teen hulle beraam, sodat hulle nie kan vermeerder nie, en as ons in oorlog geraak, hulle ook nie by ons vyande aansluit en teen ons veg en uit die land optrek nie. {1:11} Daar is toe opsigters van dwangarbeid oor hulle aangestel om hulle met harde arbeid te verdruk. En hulle het vir Farao die voorraadstede Pitom en Raämses gebou. {1:12} Maar hoe meer hulle verdruk is, hoe meer het hulle vermenigvuldig en hulle uitgebrei, sodat hulle bang geword het vir die kinders van Israel.


Ek glo die rede waarom God die kinders van Israel na Egipte gelei het, was in die eerste plek, om hulle te beskerm teen ondertrouery met die Kanaäniete. Die kinders van Israel was gedurende daardie tyd in die geskiedenis nomadies en dus was die hoofbron van hul bestaan, merendeels skape. Die Kanaäniete het geen probleem met hierdie beroep gehad nie, maar die Egiptenare wel. Hulle het dit as 'n minderwaardige werk beskou en, daarbenewens, in hul pantheon van gode, ook 'n skaapgod gehad. Die slag en eet van skape was dus vir hulle 'n gruwel en daarom was die kinders van Israel se teenwoordigheid in Egipte ideaal vir God se doel met hulle. Eerstens, sou die Egiptenare nie met hulle ondertrou nie vanweë hul beroep en, tweedens, ook op grond van hul werk, sou hulle afgesonder word in die mees afgeleë provinsie van Egipte, naamlik Gosen, wat vermoedelik naby die Kanaänitiese grens geleë was. Klaarblyklik het God se wil dus geskied en die kinders van Israel het so aansienlik vermeerder, dat dit 'n bron van kommer vir die Egiptenare geword het.


Julle mag moontlik onbewus daarvan wees dat my eggenote en ek baie betrokke is by lewensbehoud; trouens, dit was een van ons bedienings sedert ons bekering en daarom probeer ons om op datum te bly met wat aborsies betref asook lewensbehoud in Israel.


Tot ons ergste onsteltenis en afkeur, het Israel ook aborsie gewettig. Die jongste beskikbare syfers toon dat ongeveer 40 000 aborsies jaarliks in Israel uitgevoer word. Vyftig persent van hierdie swangerskappe word beëindig omdat dit as gevolg van buitehuwelikse konsepsie, bloedskande of statutêre verkragting was. Agtien persent is beëindig vanweë 'n gesondheidsrisiko vir die moeder en / of vermoedelike fetusdefekte. Die res – twee-en-dertig persent – is hoofsaaklik op versoek uitgevoer. Volgens my oortuiging, is die enigste regverdigbare rede vir 'n aborsie, wanneer die moeder se lewe in gevaar verkeer. Dit is gegrond op die Bybelse beginsel om alles moontlik te doen om 'n lewe te red.


Johannes / Yochanan {15:13} “ Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.


Die totale Israelse bevolking vandag – volgens die mees onlangse demografiese gegewens – is 7 465 500, waarvan naastenby vyf-en-sewentig persent of 5 636 400 Jode is. Nagenoeg drie-en-twintig persent of 1 739 500 is Moslem-Arabiere. Die balans word beskryf as “ander”. In 2000 het die Moslem-Arabiere sowat 17 persent van Israel se bevolking uitgemaak en in 2009 het hulle vermeerder tot ongeveer drie-en-twintig persent ('n toename van ongeveer ses-en-'n-half persent) terwyl die Joodse bevolking oor dieselfde tydperk met nagenoeg nege persent toegeneem het. Indien aborsies in Israel teen dieselfde koers voortgaan en Joodse immigrasie laag bly, soos wat tans die geval is, dan is daar 'n potensiële probleem. Die Moslemgeloof verbied aborsie en met hul beleid van groot gesinne (6-20 kinders), vergeleke met die gemiddelde Joodse gesin van twee tot drie kinders, word gevrees dat binne 'n honderd jaar van nou af, die Moslem-Arabiese bevolking in Israel in 'n invloedryke politieke mag in die land kan ontwikkel. Hierdie mag sou besluitneming in die parlement aansienlik wysig.


Hoe het dit tog nie verander nie! Wat duisende jare gelede vir die Farao 'n bron van kommer was oor die toename van die Joodse bevolking, isnou vir die kinders van Israel 'n bekommernis oor die aansienlike bevolkingstoename van die Moslem-Arabiere.


Waarom gebeur dit met Israel noudat hulle in die land is wat God aan hulle beloof het? Is dit omdat hulle 'n sekulêre land geskep het, wat nie meer die Tora-beginsels handhaaf nie? Toe hulle deur God na Egipte gestuur is, was dit met die doel om 'n nasie te bou wat die Tora sou navolg. Nou verminder God hul getal, soos wat Hy hulle gewaarsku het, indien hulle nie die Tora sou onderhou nie.


Deuteronomium / Devarim {28:58} “As jy nie sorgvuldig al die woorde van hierdie wet hou wat in hierdie boek geskryf is, om hierdie heerlike en gedugte Naam, die HERE jou God, te vrees nie, {28:62} En julle sal met min mense oorbly, in plaas dat julle gewees het soos die sterre van die hemel in menigte, omdat jy nie geluister het na die stem van die HERE jou God nie.”


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking