Saterdag 02 Januarie 2010

Aanvaar Vergifnis

En Hy Het Geleef / VaYechi |Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel


2 Januarie 2010 / Tevet 16 5770


Genesis / Bereshit 47:28-50:26

1 Konings / Melachim Aleph 2:1-12

1 Petrus / Kefa Aleph 1:3-9


Genesis / Bereshit {50:15} “Toe die broers van Josef sien dat hulle vader dood was, het hulle gesê: Sê nou Josef gaan ons as vyande behandel en hy gaan ons werklik vergelde al die kwaad wat ons hom aangedoen het! {50:16} Daarom het hulle hierdie boodskap na Josef gestuur: U vader het voor sy dood bevel gegee met hierdie woorde: {50:17} So moet julle vir Josef sê: Ag, vergewe tog die oortreding van jou broers en hulle sonde, want hulle het jou kwaad aangedoen. Maar nou, vergewe tog die oortreding van ons wat die God van u vader dien. En Josef het geween toe hulle met hom spreek. {50:18} En sy broers het ook self gegaan en voor hom neergeval en gesê: Kyk, ons is u slawe. {50:19} Maar Josef het hulle geantwoord: Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van God? {50:20} Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou. {50:21} Wees dan nou nie bevrees nie: ék sal julle en julle kinders onderhou. So het hy hulle dan getroos en na hulle hart gespreek.


Ek het hierdie gedeelte so tipies van hedendaagse gelowiges gevind! Vergun my omm dit te verduidelik. Ons almal behoort te besef dat Josef 'n sinnebeeld van Jesus was. Josef is deur sy broers verwerp, in slawerny verkoop, misbruik en mishandel, in die gevangenis gewerp, daaruit verlos en vernaam geraak onder die nie-Jode, oftewel die Egiptenare. Jesus is ook deur Sy broers, Sy eie volk verwerp. Hy is vir dertig silwerstukke deur één van Sy eie mense verloën. Hy het neergedaal na die hel, is opgewek uit die dood en verhewe geraak onder die nie-Joodse nasies. Die ooreenkomste tussen Josef en Jesus is egter geensins toevallig nie – die ooreenkomste eindig ook nie daar nie; trouens, dit is slegs die begin.

Julle sal onthou – in verlede week se Parasha (Parasha VaYigash) – hoedat Juda en die ander broers hul harte voor Josef uitgestort het en hul sonde teen hom erken het. Op hierdie stadium het Josef nog nie homself as hul broer bekendgestel nie. Later onthul hy sy identiteit en vergewe sy broers hul sonde en spreek hulle vry van wat hulle hom aangedoen het.


Genesis / Bereshit {45:4} “Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle nader kom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het. {45:5} Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur. {45:6} Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie. {45:7} Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing.


Josef se broers het vergifnis ontvang. Alles wat in die verlede gebeur het, is vergeet. Josef het in sy lewe opgang gemaak maar sy broers skynbaar nie. Selfs al het Josef hulle volkome vergewe, het hulle hulself ni vergewe nie en dus steeds met 'n skuldgevoel geleef.


Selfs indien ons voortgaan met die vergelyking tussen Josef, as 'n sinnebeeld van Jesus, is hierdie scenario nie skrikwekkend soortgelyk aan die lewens van vele gelowiges vandag nie? Alles wat met Josef gebeur het, was, soos hy self erken het, 'n bestiering van God, met die doel dat sy broers en toekomstige geslagte van die kinders van Israel, daarby sou baat. Die broers se belydenis aan Josef, sou hulle nou al die voordele laat geniet van om te leef onder beskerming van Josef, wat tot die magtige posisie van onder-koning in Egipte verhef is. Eweneens, was alles wat met Jesus gebeur het, deur die Vader beskik met die uitsluitlike doel dat die kinders van Israel en daarmee saam, die ganse wêreld, daarby sou baat. Wanneer ons ons sonde voor Jesus bely, naamlik die sonde teen Hom waardeur ons die gebooie van die Tora oortree het, vergewe Hy ons; trouens, ons word verseker:


Miga / Michah {7:19} “Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.


Maar, vergewe ons onsself? Baie van ons doen dit nie! Tenspyte daarvan dat ons vergifnis ontvang het, dra ons nog die skuldlas saam met ons rond. Laat hierdie week se Parasha en, in besonder die Skrifgedeeltes wat ek daaruit aangehaal het, julle in staat stel om nie soos Josef se broers te wees nie en dat julle Jesus se vergifnis sal aanvaar en met jul lewe voortgaan.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking