29 Mei 2010 / Sivan 16 5770
Uitnodiging van die GerBeHa'Aalotecha / In Julle Opset (Congregation Melech Yisrael)
1 Korinthiërs / Korintim Aleph 10:6-13
Eksodus / Shemot {12:43} “Verder het die HERE aan Moses en Aäron gesê: Dit is die insetting van die pasga: Géén uitlander mag daarvan eet nie. {12:44} Maar elke slaaf wat ‘n man met geld gekoop het, dié moet hy besny; dan kan hy daarvan eet. {12:45} Geen vreemde inwoner of huurling mag daarvan eet nie. {12:46} In een huis moet dit geëet word; jy mag niks van die vleis uit die huis buitentoe bring nie; en julle mag geen been daarvan breek nie. {12:47} Die hele vergadering van Israel moet dit hou. {12:48} En as ‘n vreemdeling by jou vertoef en tot eer van die HERE die pasga wil vier, moet by hom almal wat manlik is, besny word; en dan mag hy nader kom om dit te vier, en hy sal soos ‘n kind van die land wees. Maar géén onbesnedene mag daarvan eet nie.”
Ons gemeente vier elke jaar 'n groot Paasfees. Dit word gevier met 'n behoorlike spysenier-voorbereide maaltyd, waarheen almal – sonder voorbehoud – genooi word om dit by te woon. Baie van die genooides is nie-Jode of nie lede van 'n Messiaanse gemeente nie. Sommige is selfs nie wedergebore in Jesus die Messias nie en die mans dus nie besny nie. Nietemin laat ons hulle toe want in werklikheid benut ons Paasfees ook as 'n geleentheid om gemeentelede te leer aangaande hul Bybelse Joodse oorsprong en diegene – sowel Jode as nie-Jode – wat nie wedergebore is nie, te vertel van die redding wat deur Jesus die Messias gebied word, soos bewys deur die Pesach Seder (Paasorde).
Op grond van die bovermelde Skrifaanhaling, is ek dikwels reeds gevra waarom ons onbesnede mans toelaat om ons Paasfees by te woon. Hierdie week se Parasha beantwoord dié vraag vir ons, maar voordat ons dit behandel, is daar tog iets wat ek graag wil meld.
Lamsvleis word nie meer by 'n Paasfeesmaaltyd bedien nie. Dit is hoofsaaklik omrede daar geen tempel is waarheen die Paaslam gebring kan word om geslag te word en nie 'n Levitiese priesterdom is om die slagting te behartig nie. Beide is Tora-vereistes. Daarbenewens is Jesus die Messias die Lam wat reeds geoffer is; om dus met Paasfees lamsvleis te eet, sou byna daarop kom dat Jesus 'n tweede maal geoffer word, wat na my mening, inderdaad, heiligskennend sou wees.
In antwoord op die vraag waarom onbesnedenes dan toegelaat word om ons Paasfeesviering by te woon, verwys ek na die Skrifgedeeltes van vandeesweek se Parasha.
Númeri / BaMidbar {9:1} ”En die HERE het met Moses gespreek in die woestyn Sinai—in die tweede jaar nadat hulle uit Egipteland uitgetrek het, in die eerste maand—en gesê {9:2} dat die kinders van Israel die pasga op die bepaalde tyd moet hou. {9:3} Op die veertiende dag in hierdie maand, teen die aand, moet julle dit op die bepaalde tyd hou; volgens al sy insettinge en al sy verordeninge moet julle dit hou. {9:4} Toe het Moses met die kinders van Israel gespreek dat hulle die pasga moet hou. {9:5} En hulle het die pasga gehou op die veertiende dag van die eerste maand, teen die aand, in die woestyn Sinai; net soos die HERE Moses beveel het, so het die kinders van Israel gedoen. {9:6} En daar was manne wat deur die lyk van ‘n mens onrein geword het en op dieselfde dag die pasga nie kon hou nie. Daarom het hulle nader gekom voor Moses en Aäron op dieselfde dag, {9:7} en dié manne het vir hom gesê: Ons is onrein deur die lyk van ‘n mens; waarom moet ons te kort gedoen word, dat ons die offer van die HERE nie op die bepaalde tyd onder die kinders van Israel sou bring nie? {9:8} En Moses het vir hulle gesê: Bly staan, dat ek kan hoor wat die HERE julle sal beveel. {9:9} Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê: {9:10} Spreek met die kinders van Israel en sê: As iemand van julle of van julle geslagte deur ‘n lyk onrein word of op ‘n ver reis is, moet hy tog die pasga vir die HERE hou. {9:11} In die tweede maand, op die veertiende dag, teen die aand, moet hulle dit hou; met ongesuurde brode en bitter kruie moet hulle dit eet. {9:12} Hulle moet daarvan niks laat oorbly tot die môre toe of ‘n been daaraan breek nie; volgens die hele insetting van die pasga moet hulle dit hou.“
Ek het 'n lang gedeelte aangehaal omdat ek wil hê ons moet die volle konteks van wat gesê is, verstaan. Die eintlike vers wat ons moet verstaan en ook ons vrae sal beantwoord, is egter die laaste een:
Númeri / BaMidbar {9:12} “Hulle moet daarvan niks laat oorbly tot die môre toe of ‘n been daaraan breek nie; volgens die hele insetting van die pasga moet hulle dit hou.“
Indien julle die konteks van wat God vir Moses gesê het, lees en verstaan, dan sal julle sien dat die Paasfees, waarna God verwys, eintlik die ware Lam en nie die Paas-seremonie as sulks is nie. Daarom deel God ons in die eerste Skrifgedeelte (hierbo aangehaal) mee dat geen onbesnede man van die Paaslam mag eet nie. Aangesien daar nou nie langer 'n tempel of Levitiese priesterdom bestaan nie, wat ek verduidelik het, die rede is waarom ons nie langer lamsvleis met Paaasfees eet nie, eet die onbesnedene dus nie van die Paaslam nie, wat natuurlik Jesus die Messias verteenwoordig. Omdat geen lamsvleis met Paas geëet word nie, raak die hele vraagstuk van die besnedene of onbesnedene, dus irrelevant.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking