19 Junie 2010 / Tammuz 7 5770
Statute / Chukat (Congregation Melech Yisrael)
Numeri / BaMidbar {20:1} ”En toe die kinders van Israel, die hele vergadering, in die woestyn Sin kom, in die eerste maand, het die volk in Kades gebly. En Mirjam het daar gesterwe en is daar begrawe. {20:2} En daar was geen water vir die vergadering nie. Toe het hulle teen Moses en Aäron saamgekom. {20:3} En die volk het met Moses getwis, en hulle het gespreek en gesê: Ag, het ons tog maar gesterwe toe ons broers voor die aangesig van die HERE gesterf het! {20:4} En waarom het julle die vergadering van die HERE in hierdie woestyn gebring, dat ons en ons vee daar sou sterwe? {20:5} En waarom het julle ons uit Egipte laat optrek om ons in hierdie slegte plek te bring? Dit is geen plek van graan of van vye of van wingerdstokke of van granate nie; ook is daar geen water om te drink nie.”
Kan dit moontlik dieselfde kinders van Israel wees wat, toe Moses hulle aangebied het om die Beloofde Land (‘n land wat vloei van melk en heuning, ‘n land waarvandaan ‘n druiwetros op ‘n paal tussen twee mans gedra moes word) binne te gaan geweier het? Waarom beskuldig hulle Moses en Aäron dan nou dat hulle hul na hierdie plek van verlatenheid gebring het en húlle aanspreeklik hou daarvaar dat hulle in die woestyn verkeer? Hierdie mense het die geleentheid gehad om die goeie en voorspoedige land wat God aan hulle beloof het, binne te gaan maar hulle was opstandig en het geweier om dit te doen. Ja, hulle het die geleentheid verwerp om ‘n oorvloed van vye, druiwe en granate te geniet aangesien ‘n paar negatiewe mense hulle vertel het van die reuse wat die land bewoon het.
As ‘n mens daaroor nadink, het daar in die afgelope vyfduisend jaar nie veel in die Beloofde Land verander nie. Dit is steeds ‘n skrikaanjaende plek want ofskoon Israel die grootste gedeelte daarvan besit, is daar nogtans vyandelike groepe wat nooit verdryf is nie.
Numeri / BaMidbar {33:55} ”Maar as julle die bewoners van die land nie voor julle uit verdrywe nie, sal die wat julle van hulle laat oorbly, soos dorings in julle oë wees en soos angels in julle sye, en hulle sal julle beveg in die land waar julle in woon. {33:56} En soos Ek gedink het om aan hulle te doen, sal Ek aan julle doen.”
Hierdie Skrifgedeelte is vandag nog netso ‘n realiteit soos op die dag waarop dit geskryf is. Dié inwoners van die land vertoorn Israel; hulle is vandag ‘n doring in hul vlees en prikkels in hul oë. Israel word tans nog netso omring deur vyande soos duisende jare gelede. Die bedreiging is nie slegs van binne nie maar ook van buite. Die enigste werklike oplossing, wat deur God voorgestel is, naamlik om hulle te verdryf, is vandag ondenkbaar. Dit is slegs moontlik indien Israel met die res van die sekulêre wêreld wil tredhou, wat wel die geval is. Maar God se Woord is waar en ons lees en hoor daagliks, oor en oor, in die media die gevolg van Israel se ongehoorsaamheid.
Wat selfs meer onstellend is, is dat meeste Jode wat in die Diaspora woon – wat in werklikheid méér is as diegene wat tans in die land Israel woon – onwillig is om na Israel te immigreer om redes wat maar alte bekend klink: “Dit is te gevaarlik dáár. Ek wil nie hê my kinders moet weermag toe gaan nie. Die land word omring deur vyandige nasies” ensovoorts. Wat is dit nou eintlik wat hulle sê? Dit is presies dieselfde as wat meer a vyfduisend jaar gelede gesê is: “Ons sal nie ingaan nie omdat daar reuse in die land is!”
Daarbenewens is Israel as ‘n volk uiters sekulêr. Hulle het ‘n vorm van Godsdiens, maar verloën die mag daarvan. Godsdiens is vir meeste Israeli’s bloot ‘n tradisie en allermins ‘n verhouding met hul God.
Rigters / Shoftim {2:21} ”sal Ek ook verder geeneen van die nasies wat Josua by sy dood laat oorbly het, voor hulle uit verdrywe nie— {2:22} om Israel deur hulle op die proef te stel, of hulle die weg van die HERE sal hou deur daarin te wandel soos hulle vaders dit gehou het, of nie. {2:23} Daarom het die HERE daardie nasies laat oorbly sonder om hulle dadelik te verdrywe, en hulle nie in die hand van Josua gegee nie.”
Ons sal sekerlik saamstem dat die kinders van Israel tot dusver hul toets jammerlik gedruip het!
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking