26 Junie 2010 / Tammuz 14 5770
Balak / Balak (Congregation Melech Yisrael)
1 Korinthiërs / Korintim Aleph 1:20 - 31
Numeri / BaMidbar {22:2} "Toe Balak, die seun van Sippor, sien alles wat Israel die Amoriete aangedoen het, {22:3} het Moab baie bang geword vir die volk, want hulle was talryk; en Moab het beangs geword vanweë die kinders van Israel. {22:4} Toe sê Moab vir die oudstes van Mídian: Nou sal hierdie menigte opeet alles wat rondom ons is, soos ‘n bees die groenigheid van die veld opeet. En Balak, die seun van Sippor, was dié tyd koning van Moab. {22:5} Daarop het hy boodskappers gestuur na Bíleam, die seun van Beor, in Petor wat by die Eufraat is, in die land van die kinders van sy volk, om hom te roep en te sê: Kyk, daar het ‘n volk uit Egipte getrek; kyk, hulle het die oppervlakte van die land oordek en staan gelaer teenoor my. {22:6} Kom dan tog nou, vervloek hierdie volk vir my, want hulle is magtiger as ek. Miskien sal ek onder hulle ‘n slag kan slaan en hulle uit die land verdrywe. Want ek weet, die een wat jy seën, is geseënd; en die een wat jy vervloek, is vervloek."
Numeri {23:7} "En hy het sy spreuk aangehef en gesê: Uit Aram laat Balak my haal, die koning van Moab—uit die berge van die Ooste: Kom vervloek Jakob vir my, en kom, verwens Israel. {23:8} Hoe sal ek vloek wie Gód nie vloek nie? En hoe sal ek verwens vir wie die HERE nie verwens nie?"
Deur die hele parasha, parasha Balak, te lees, verneem ons dat ofskoon die inhalige Bileam sy uiterste bes probeer het, was dit vir hom onmoontlik om die kinders van Israel te vervloek; trouens, volgens vers 8 hierbo, het hy sy onvermoë om te vervloek wat God geseën het, erken. Ek dink dit is 'n les wat elkeen van ons moet te harte neem en verstaan. Die satan is nie in beheer van wie vervloek word of nie vervloek word nie! Vanselfsprekend is God in volkome beheer van wie geseën en wie vervloek word. Dit is 'n feit dat, sonder God se vooraf-goedkeuring, die satan onmagtig is. As julle vir 'n enkele oomblik dink dat iemand te eniger tyd 'n vloek oor 'n wedergebore kind van God kan uitspreek, is julle ongetwyfeld op 'n dwaalspoor! Gedurende die jare wat ek 'n Messiaanse leier was, het ek tot my grootste ontsteltenis, mense teëgekom wat beweer het dat 'n mens vervloek kan word, maar, soos ek gesê het, slegs onder sekere voorwaardes. Wat is daardie voorwaardes? Die eerste en vanselfprekende rede is indien 'n mens nie in Jesus die Messias glo nie en Hom nog nie as jou Here en Redder aangeneem het nie. Die tweede is indien jy wel in Jesus die Messias glo, maar doelbewus of onwetend gesondig het, sonder om dit te berou.
Daar is slegs één van twee kampe waarin 'n mens kan verkeer: óf in God s'n óf in die satan s'n!
Die satan is heerser oor die magte en vorstedom van die aarde, met ander woorde, hy beheer die algehele wêreldstelsel, soos ons dit vandag ken. Juis om hierdie rede is daar soveel boosheid op aarde.
Met die val van die mens, toe Adam en Eva aan God ongehoorsaam was, het sonde die wêreld binnegekom en daardeur die mensdom in slawerny onder die satan, heerser oor sonde, gedompel. God, wat sonde nie kan duld nie, omdat Hy self sondeloos is, het gevolglik die mensdom die rug gekeer en die mens was nie langer onder God se beskerming nie – hulle was vervloek. Die korban (toenaderingsoffer)–stelsel, soos deur God ingestel en in die Boek van Levitikus (Vayikra) uiteengesit, het daardie situasie herstel deur die gebruik van plaasvervangende offerandes. Deur belydenis en berou is iemand se sonde oorgedra op 'n sondelose dier en daardie dier se bloed gestort, in plaas van die sondaar s'n.
Levitikus / YaYikra {17:11} "Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel."
Hierdie korban-stelsel was 'n skadubeeld van die korban waardeur God uiteindelik Homself voorsien het deur as mens na die aarde toe te kom. Slegs God kon die vereistes van Sy eie wet van sonde wat die dood meebring, vervul deur vir ons te sterf. Wie dit aanvaar en homself vereenselwig met wat God vir óns gedoen het, deur Jesus die Messias as Lam van God, wat ons sondes wegneem, te voorsien, word 'n kind van God en is gevolglik onder Sy beheer en beskerming.
Die kinders van Israel was deur die Korban-stelsel beskerm terwyl hulle op die vlaktes van Moab was. Vir solank as wat hulle in 'n voortdurende ingesteldheid van belydenis en berou verkeer het, was hulle onder God se beskerming en kon hulle dus nie vervloek word nie. Sodra hulle egter die terrein van sonde betree het – soos ons in aanstaande week se parasha sal sien – het God Sy beskerming onttrek en het hulle die gebied van die bose binnegegaan, waar God toegelaat het dat hulle vervloek word. Dit het die dood van duisende tot gevolg gehad. Let gerus op die volgende Skrifgedeelte:
1 Samuel / Shmuel Aleph {18:9} "En van dié dag af en verder het Saul die oog op Dawid gehad. {18:10} Die volgende dag het die bose gees van God oor Saul vaardig geword, sodat hy rasend was binne-in die huis terwyl Dawid soos elke dag met sy hand speel, en Saul ‘n spies in sy hand hou."
Koning Saul was vroeër 'n gelowige en dus onder God se beskerming maar sodra hy begin sondig het, is die beskerming van God onttrek en het hy onder invloed van die satan verval. Die bose gees, waarna in die bovermelde aanhaling verwys word, was egter van God afkomstig! Dit bevestig wat ek reeds gesê het, dat die satan tot niks in staat is, sonder dat God dit toelaat nie. God sal die satan ook nie toelaat om mense wat in Jesus die Messias glo, te vervloek nie, op voorwaarde dat hulle in 'n voortdurende ingesteldheid van belydenis en berou verkeer.
Hoe kan jy vermy om vervloek te word? Neem Jesus die Messias aan as jou Here en Redder, leef dan voortdurend in 'n voortdurende gesindheid van belydenis en berou en word sodoende van 'n sondaar tot 'n heilige omskep.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking