Saterdag 18 September 2010

‘n Verpligting en ‘n Seën

18 September 2010 / Tishrei 10 5770

Dag van Versoening / Yom Kippur (Congregation Melech Yisrael)

Levitikus / VaYikra 16:1 – 34

Numeri / Bamidbar 29:7 – 11

Jesaja / Yeshayahu 57:14 - 58:14

Romeine / Romim 3:21 – 26

Levitikus / VaYikra {16:1} En die HERE het met Moses gespreek ná die dood van die twee seuns van Aäron, wat gesterf het toe hulle voor die aangesig van die HERE nader gekom het; {16:2} en die HERE het aan Moses gesê: Spreek met jou broer Aäron dat hy nie te eniger tyd moet ingaan in die heiligdom nie, binnekant die voorhangsel, voor die versoendeksel wat op die ark is, sodat hy nie sterwe nie; want Ek verskyn in die wolk op die versoendeksel. {16:3} Hiermee moet Aäron in die heiligdom ingaan: met ‘n jong bul as sondoffer en ‘n ram as brandoffer. {16:4} Hy moet ‘n heilige linnerok aantrek en ‘n linnebroek moet oor sy vlees wees en met ‘n linnegordel moet hy hom gord en ‘n linnetulband moet op sy hoof wees. Dit is heilige klere; en hy moet sy liggaam in die water bad en dit aantrek.

Dit gebeur nie dikwels dat Yom Kippur op ‘n Sabbat val nie, maar wanneer dit wel gebeur, word die bogemelde Parasha in Levitikus gewoonlik voorgelees.

Dit bly vir my ‘n raaisel dat hierdie parasha nou juis met die dood van Aäron se twee seuns begin. Wat het dit met Yom Kippur te doen en die tema daarvan as “Die Dag van Versoening”?. Wel, ek meen dat hierdie Skrifgedeelte met die dood van Aäron se twee seuns begin omdat dit ons leer dat ons almal iets het om voor boete te doen, naamlik die sonde van ongehoorsaamheid! Hierdie sonde is juis wat tot die dood van Aäron se twee seuns gelei het en ongelukkig is dit nie net tot hulle beperk nie. Ons is almal op een of ander wyse ongehoorsaam aan God en gevolglik het ons almal versoening (boetedoening) nodig. Ongehoorsaamheid aan God is afgodsdiens deurdat die eie wil vóór God se Wil gestel word en dít is ‘n groot sonde; trouens, dit is wat die Skrif sê van iemand wat sondig:

Esegiël / Yechekiel {18:4}” Kyk, al die siele is myne; soos die siel van die vader, so die siel van die seun—hulle is myne; die siel wat sondig, dié moet sterwe.

Is dit nie wat met Aäron se seuns gebeur het nie, dat hulle juis daarom gesterf het nie? Met dít in gedagte, verklaar hierdie aanvangsgedeelte van ons parasha uitdruklik wat óns gedrag en houding teenoor God en die versoeningsproses moet wees, sodat die volk van God nie vanweë hule sonde sal sterf nie:

Levitikus {16:7} “Hy moet ook die twee bokke neem en hulle voor die aangesig van die HERE stel by die ingang van die tent van samekoms. {16:8} En Aäron moet oor die twee bokke die lot werp, een lot vir die HERE en een lot vir Asásel. {16:9} Dan moet Aäron die bok aanbring waar die lot vir die HERE op gekom het en hom as sondoffer berei; {16:10} maar die bok waar die lot vir Asásel op gekom het, moet lewendig voor die aangesig van die HERE gestel word, om oor hom versoening te bewerk deur hom vir Asásel in die woestyn te stuur.

Aangesien elkeen van ons sondaars is en die siel wat sondig dus sal sterf, sal geen mens vanweë God se geregtigheid uiteindelik bly lewe op die aarde nie. Om hierdie rede het God Sy volk van ‘n proses van versoening voorsien, soos ons hierbo gelees het.

Twee bokke moes in óns plek geneem word op die Dag van Versoening – hierdie besondere dag wat vir versoening opsy gesit is. Een bok is geslag as die vereiste versoening vir die sondes wat die volk gepleeg het, dit was hul doods-plaasvervanger, met ander woorde ‘n onskuldige dier wat in die plek van die volk doodgemaak moes word. Die tweede bok – die sondebok (of sondofferbok) genoem – is in die woestyn losgelaat, as teken dat die volk se sondes van hulle weggeneem en vergewe, vergete en ver weg van hulle af verdryf is. Die proses word ook in hierdie skrifgedeelte, soos volg aan ons verduidelik:

Miga / Micah {7:19} “Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.”

Op grond hiervan, kan ons die Versoeningsdag-proses maklik verstaan: ons is almal sondaars en verdien dus die dood, maar God het vir ons ‘n weg tot versoening voorsien. Wanneer die versoening nagekom is, belowe Hy om nooit meer daardie sondes in gedagte te hou of dit weer téén ons te hou nie.

Soos ons in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) inbeweeg, merk ons dat hoegenaamd niks verander het nie en die versoeningsproses steeds onveranderd is:

Romeine / Romim {6:23} “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.”

Paulus (Shaul) verduidelik in hierdie gedeelte dat Jesus die Messias ons Yom Kippur-versoening is. Wat ‘n verpligting en seën is dit tog nie, veral omdat daar nie ‘n tempel (Bet HaMikdash) is waar twee bokke geoffer moet word nie!


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking