4 September 2010 / Elul 15 5770
Deutoronomium / Devarim 29:9 - 31:30
Jesaja / Yeshayahu 61:10 - 63:09
Deuteronomium / Devarim {29:10}” Julle staan vandag almal voor die aangesig van die HERE julle God: julle hoofde, julle stamme, julle oudstes en julle opsigters—al die manne van Israel; {29:11} julle kinders, julle vroue en jou vreemdeling wat binne-in jou laer is, jou houtkapper sowel as jou waterputter, {29:12} om oor te gaan in die verbond van die HERE jou God—en in sy eedswering—wat die HERE jou God vandag met jou sluit; {29:13} sodat Hy jou vandag vir Hom as volk kan bevestig en vir jou ‘n God kan wees soos Hy jou beloof het, en soos Hy aan jou vaders Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het. {29:14} En nie met julle alleen maak ek hierdie verbond en hierdie eedswering nie, {29:15} maar met die wat vandag hier saam met ons voor die aangesig van die HERE onse God staan, én met die wat hier vandag nie saam met ons is nie. {29:16} Want julle weet self hoe ons in Egipteland gewoon en hoe ons dwarsdeur die nasies getrek het waardeur julle getrek het. {29:17} En julle het hulle verfoeisels en hulle drekgode, hout en klip, silwer en goud, by hulle gesien, {29:18} sodat daar onder julle geen man of vrou of geslag of stam mag wees wat sy hart vandag van die HERE onse God afwend om die gode van dié nasies te gaan dien nie, sodat daar onder julle geen wortel mag wees wat gif en wilde-als dra nie, ”
Indien julle wedergebore gelowiges in Jesus die Messias is, dan behoort julle tot die Verbond wat God met Abraham, Isak en Jakob gesluit het. Aangesien julle tot die verbond behoort, behoort julle ook tot die volk en land Israel. As gelowiges is ons woning in die hemel, maar ons tuisland is Israel. Waarom is Israel dan ons tuisland? Dit is omdat Jesus die Messias vanuit Israel vir ‘n duisend jaar sal heers en regeer en aan ons gesê het dat waar Hy ookal is, ons sal wees.
Openbaring / Hitgalut {20:6}” Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank. ”
Dit maak nie saak in welke land van die wêreld julle nou woon nie. Elke keer wanneer julle die Tora (die eerste vyf boeke van Moses) lees en dit op julle self toepas, soos dit op jul lewe vandag toepaslik is, word julle herhinner aan julle verbintenis aan die Verbond, volk en land van Israel. Israel is jul tuisland! Moontlik mag julle tans nie welkom wees om julle dáár te vestig nie, veral as julle nie-Jode is of indien julle Joodse gelowiges in Jesus die Messias is, maar dit sal alles verander wanneer Jesus die Messias weer kom.
Ons behoort almal tot die Verbond omdat ons dáár by die kinders van Israel gestaan het toe hulle die Goddelike Verbond van God by berg Sinaï ontvang het, soos in die eerste Skrifaanhaling hierbo vermeld word. Ons behoort tot die volk omdat julle Jode is of as julle nie-Jode is nie, sal julle eendag kan kies aan watter stam julle wil behoort en ‘n erfdeel in daardie stam ontvang:
Esegiël / Yechekiel {47:23}” En in die stam waar die vreemdeling by vertoef, daar moet julle hom sy erfdeel gee, spreek die Here HERE. ”
Laastens, behoort ons tot die land omdat daar in die Skrifgedeelte uit Openbaring (20:6) hierbo, geskryf staan dat ons saam met Hom vir ‘n duisend jaar in Jerusalem sal heers en regeer.
Deuteronomium / Devarim {31:28}” Laat al die oudstes van julle stamme en julle opsigters by my vergader, dat ek voor hulle ore hierdie woorde kan spreek, en teen hulle die hemel en die aarde as getuies kan neem. {31:29} Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van die HERE om Hom deur die werk van julle hande te terg. {31:30} Toe het Moses voor die ore van die hele vergadering van Israel die woorde van hierdie lied tot die einde toe uitgespreek. ”
Dit is behoorlik asof ‘n mens die pyn in Moses se hart kan aanvoel toe hy gespreek en hierdie woorde geskryf het. Hy sou sterf maar God het hom toegelaat om te weet dat die kinders van Israel, na sy dood, ‘n afvallige nasie sou word. Moses het lank en hard gestry om die kinders van Israel op die regte weg te hou en ek is oortuig dat hy baie slapelose nagte in gebed vir hulle deurgebring en namens hulle by God voorspraak gedoen het, al sy gebede, al sy onderrig en al sy onderhandelinge met God sou eindig met die afvallig-wording van die kinders van Israel. Dit moes inderdaad vir hom ontmoedigend gewees het!
Jesus, aan ons bekend as die tweede Moses, het ‘n baie soortgelyke belewenis gehad met diegene vir wie Hy Sy lewe opgeoffer het:
Mattheüs / Mattityahu {26:31}” Toe sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word. {26:32} Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan. {26:33} Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie. {26:34} Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, in hierdie nag, voordat die haan gekraai het, sal jy My drie maal verloën. ”
Ek veronderstel dat dit die geval is wanneer enige leier te sterwe kom of weggaan. Daar is nooit werklik ‘n ononderbroke oordrag van gesag nie. Aan Moses is dit egter gegun om die wederkoms van Jesus te “sien”: Die saad van herstel van Israel.
Die mens is feilbaar, maar God nooit!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking