Saterdag 20 November 2010

Die Rede Waarom Edom Behoue Bly

20 November 2010 / Kislev 13 5771

En Hy Het Gestuur / VaYislach

Genesis / BeReshit 32:3-36:43

Obadja / Ovadyah 1:1-21

Matthéüs / Mattityahu 26:36-46

Genesis (BeReshit) {36:9} “Dit is dan die geskiedenis van Esau, die vader van die Edomiete, in die gebergte Seïr. {36:10} Dit is die name van die seuns van Esau: Élifas, die seun van Ada, die vrou van Esau; Réhuel, die seun van Basmat, die vrou van Esau. {36:11} En die seuns van Élifas was: Teman, Omar, Sefo en Gáetam en Kenas. {36:12} En Timna was ‘n byvrou van Élifas, die seun van Esau; en sy het vir Élifas gebaar Amalek. Dit is die seuns van Ada, die vrou van Esau. {36:13} En dit is die seuns van Réhuel: Nahat en Serag, Samma en Missa. Dit was die seuns van Basmat, die vrou van Esau. {36:14} En dit was die seuns van Oholibáma, die dogter van Ana, die dogter van Síbeon, die vrou van Esau—sy het vir Esau gebaar Jehus en Jáelam en Korag.”


Dit het my veral geïnteresseer dat hierdie Parasha met ‘n gedetaileerde beskrywing van die geskiedenis, afstammelinge en geslagsregister van Esau eindig. Esau, soos ons bewus is, is die vader van Edom, wat volgens oorlewering, gewoon het in die gebied Seir, wat vandag as Jordanië bekend staan. Ofskoon die Edomiete regstreeks verwant was aan Israel, was daar nooit juis goeie betrekkinge met Israel nie; trouens, toe die Assiriërs besig was om die noordelike ryk van Israel aan te val, het Edom in die middel stelling ingeneem en elkeen wat die Assiriese inval probeer ontvlug het, vermoor. Om hierdie rede het God die volgende oordeel oor Edom uitgespreek:


Esegiël (Ezekiel) {25:12} “So sê die Here HERE: Omdat Edom wraaksugtig gehandel het teen die huis van Juda en hom baie skuldig gemaak het en hom op hulle gewreek het— {25:13} daarom, so sê die Here HERE: Ek sal my hand uitstrek teen Edom en daaruit mens en dier uitroei; en Ek sal dit ‘n puinhoop maak van Teman af, en tot by Dedan sal hulle deur die swaard val.


Joël (Yoel) {3:19} “Egipte sal ‘n woesteny word, en Edom ‘n woeste wildernis wees, weens die geweld wat hulle die kinders van Juda aangedoen het, dat hulle onskuldige bloed in hul land vergiet het.”

Konings Saul, Dawid en Salomo het almal tydens hul onderskeie regerings Edom verslaan en ingeneem. Nietemin het God, toe Hy Sy belofte om die land Kanaän aan Israel te gee, hulle uitdruklik beveel om Edom alleen te laat. Waarom sou Hy dit gedoen het?

Deuteronomium (Devarim) {2:2} “Toe het die HERE met my gespreek en gesê: {2:3} Julle het lank genoeg om hierdie gebergte getrek. Draai noordwaarts weg {2:4} en gee aan die volk bevel en sê: Julle gaan trek deur die grondgebied van julle broers die kinders van Esau wat in Seïr woon, en hulle sal vir julle vrees; pas dan goed op; {2:5} begeef julle nie in die oorlog teen hulle nie, want Ek sal julle van hulle land selfs nie ‘n voetbreed gee nie; want Ek het aan Esau die gebergte Seïr as ‘n besitting gegee.”


Dit is wat God aan Esau belowe het, selfs al het Saul, Dawid en Salomo die Edomiete verslaan. Uiteindelik het Edom in opstand gekom en hulself van Israel bevry.


Na verloop van ‘n paar duisend jaar, vind ons dat Jordanië wel ‘n vredesooreenkoms met Israel aangegaan het; dit was egter ‘n baie twyfelagtige vrede. Dit laat ‘n mens wonder waarom God aan die nageslag van Edom soveel ruimte in Sy Woord afgestaan het. Ek dink die antwoord kan in die volgende Skrifgedeelte gevind word. (Dié Skrifgedeelte het betrekking op die einde van die verdrukkingstydperk, wanneer die Antichris en sy leërmagte Israel sal binneval):

Daniël {11:40} “Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei. {11:41} Hy sal ook kom in die Pragtige Land, en baie sal struikel; maar hierdie volke sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon.”


Waarom sal Edom ontkom aan die hand van die Antichris? Daar word geglo dat in die eindtye wanneer die Antichris aanval, die Israelse vlugtelinge vir veiligheid na Petra in Jordanië sal vlug en die Jordaniërs hulle sal aanvaar.

Na bewering was die hoofstad van Edom, die hedendaagse Petra. Die Skrif meld dit egter nie by daardie naam nie, maar wel as Bosra (Bozrah). Bosra, die koningstad van Edom, word as Petra beskou omdat die beskrywings so volkome ooreenstem.

Openbaring (Hitgalat) {12:14} “maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ‘n tyd en tye en ‘n halwe tyd.”

Dit is dus my afleiding: Met die aanvang van die aanval van die Antichris se leërmagte, vlug die Israelse vlugtelinge die wildernis in, wat veronderstel word om Petra te wees, oftewel Bosra, volgens die Skrif. Op grond hiervan deel Jesaja (Yeshayahu) die volgende mee:

Jesaja {63:1} “Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag? Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos. {63:2} Waarom is u gewaad so rooi, en u klere soos dié van een wat die wynpers trap? {63:3} Ek het die pers alleen getrap, en van die volke was niemand by My nie; en Ek het hulle getrap in my toorn en hulle vertrap in my grimmigheid, sodat hulle lewensap op my klere gespat en Ek my hele gewaad bevlek het. {63:4} Want die dag van wraak was in my hart, en die jaar van my verlossing het gekom. {63:5} En Ek het uitgekyk, maar daar was geen helper nie; en Ek het My verbaas, maar daar was niemand wat ondersteun nie. Toe het my arm My gehelp en my grimmigheid het My ondersteun. {63:6} En Ek het volke vertrap in my toorn en hulle dronk gemaak in my grimmigheid; en Ek het hulle lewensap op die aarde laat afloop.”

Jesus sal nie éérs die Olyfberg opgaan, soos wat baie glo en leer nie. Hy kom wel eers na Bosra, waar die kinders van Israel deur die Jordaniese magte teen dié van die Antichris beskerm word. Jesus kom dus na Bosra, bevry die Israelse vlugtelinge wat daar skuil en voer met Sy leërmag al vegtend die stryd onderweg na Jerusalem, terwyl die magte van die Antichris tog verslaan word. Daarna sal Hy die Olyfberg opgaan, soos in die volgende Skrifgedeelte beskrywe:

Obadja {1:21} “Dan sal daar verlossers die berg Sion opgaan om die gebergte van Esau te oordeel, en die koninkryk sal aan die HERE toebehoort.”


Die sogenaamde gebergte van Esau is nie letterlik ‘n berg in Edom nie – dit is egter ‘n verwysing na die heidense nasies van die wêreld. Dit verwys ons na die volgende Skrifgedeelte:


Matthéüs {25:31} “En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; {25:32} en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei;”


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking