Saterdag 06 November 2010

2010-11-06 Toldot Afrikaans

6 November 2010 / Chesvan 29 5771

Om Mysself met Ander Te Vergelyk

Geslagte / Toldot

Genesis / BeReshit 25:9 – 28:9

1 Samuel / Sh’muel Aleph 20:18 - 42

Romeine / Romim 9:1 – 13

Genesis {26:6} “So het Isak dan in Gerar gebly. {26:7} En toe die manne van die plek hom na sy vrou vra, antwoord hy: Sy is my suster. Want hy was bang om te sê: My vrou—anders sal die manne van die plek, so het hy gedink, my miskien doodmaak ter wille van Rebekka; want sy was mooi van aansien. {26:8} En toe hy al ‘n lang tyd daar was, kyk Abiméleg, die koning van die Filistyne, deur die venster uit en sien hoe Isak speel met Rebekka, sy vrou. {26:9} En Abiméleg het Isak geroep en gesê: Kyk, sy is dan tog jou vrou! Hoe kon jy dan verklaar: Sy is my suster? En Isak antwoord hom: Ja, ek het gedink ek kan miskien om haar ontwil my lewe verloor! {26:10} En Abiméleg sê: Wat het jy ons nou aangedoen? Hoe maklik kon een van die mense met jou vrou gemeenskap gehad en jy ‘n skuld oor ons gebring het!

Ons leef sonder twyfel in ‘n bose en immorele wêreld, maar dit was van die begin af reeds so; trouens, op ‘n bepaalde tyd was die wêreld so geweldadig, dat God die ganse mensdom – met die uitsondering van ses persone – deur ‘n vloed vernietig het. Ons weet nie welke mate van goddeloosheid daar in die wêreld geheers het nie, maar as God so ‘n drastiese stap geneem het, moes dit ongetwyfeld veel erger gewees het in vergelyking met dít waarin ons vandag lewe.

Volgens die Skrif, sal die sondigheid in hierdie omvang weer op aarde plaasvind – ‘n sondigheid waardeur God die hele wêreld in geheel sal vernietig, maar hierdie keer deur vuur.

2 Petrus / Kefa Bet {3:10}” Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand. {3:11} Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? — {3:12} julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt.

Die punt wat ek graag wil maak, is dat ten spyte van die feit dat die mensdom vanaf die tyd van Adam en Eva sondig was, daar tog altyd in die één of ander vorm, ‘n wet en ‘n skyn van moraliteit bestaan het.

Koning Abiméleg was ‘n Filistyn en het sekerlik nie in die God van Israel geglo nie; trouens, die Filistyne was afgodsaanbidders, maar in hierdie Parasha, vind ons tog dat hy vir Isak die volgende sê:

Genesis {26:10} ” En Abiméleg sê: Wat het jy ons nou aangedoen? Hoe maklik kon een van die mense met jou vrou gemeenskap gehad en jy ‘n skuld oor ons gebring het! ”

Ek onthou dat, alvorens ek in Jesus die Messias geglo het, ek in allerlei sondige praktyke betrokke was: moreel, finansieel en spiritueel (met laasgenoemde bedoel ek dat ek by die okkult betrokke was). Nietemin, ten spyte van my ontneemde geaardheid was daar dinge – sekere sondige praktyke (waarmee my vriende gemoeid was), waartoe ek myself nooit sover sou kon bring om mee te doen of selfs oorweeg om te doen nie. Ek was immoreel, oneties en sondig, maar het juis neergesien op mense wat dinge gedoen het, ofskoon ekself dit nooit sou doen nie. Eindelik, so ontneem as wat ek in sekere gevalle was, het ek besef dat ek tog maar ook dieselfde gedoen het.

Die Filistyne was ‘n sondige, wreedaardige, immorele nasie. Nietemin lees ons van iets wat hulle nie sou gedoen het nie of wat koning Abiméleg nie sou oorweeg het nie.Hy het naamlik ‘n grens gestel om nie by ‘n ander man se vrou te slaap nie.

Is dit nie maar net soos ons is om ons eie morele, etiese en spirituele perke te kies nie? “Ek sal dít doen, maar nooit dát nie. Ek sal só teenoor ander mense optree, maar hulle nie só behandel nie. Ek sal nooit soos so-en-so wees nie of doen wat hulle doen nie”. Die probleem is egter dat ‘n jaar of twee later, besef ons dat ons presies dieselfde doen wat ons in die verlede as ondenkbaar beskou het! Dit is die wyse waarop sonde te werk gaan – dit is hoe die satan met ons werk!

Die enigste uitweg om hierdie kringloop van sonde te verbreek (dit het vir my geslaag), is om Jesus die Messias as jou Here en Redder aan te neem, om jou lewe aan hom toe te vertrou en in Hom te glo as die Redder van jou siel. Dit is die enigste hoop wat jy het om van ‘n lewe van morele, etiese en spirituele sondigheid verlos te word.

Beskou jy jouself miskien nie as so ‘n slegte person nie? Moontlik is dit omdat jy jouself met ander slegte persone vergelyk in plaas daarvan om jouself met God en Sy maatstaf soos in Sy Bybel uiteengesit, te vergelyk. In die verlede het ek myself ook met ander mense vergelyk en ek voel geneë om te dink dat dit juis dít is, wat Abiméleg ook gedoen het.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking