12 November 2011
D’Var Torah
En Hy Het Verskyn / Vayera
Genesis / Bereshit {18:3] “En hy sê: My heer, as ek nou genade in u oë gevind het, gaan dan tog nie by u kneg verby nie. {18:4} Laat hulle tog ‘n bietjie water bring, en was u voete, en lê en rus onder die boom. {18:5} En laat ek ‘n stukkie brood gaan haal, en versterk u hart—daarna kan u verder gaan—want daarom het u by u kneg aangekom. En hulle antwoord: Doen soos u gesê het. {18:6} Toe loop Abraham haastig in die tent na Sara en sê: Maak gou, knie drie mate meel, die beste, en maak roosterkoeke. {18:7} Daarop loop Abraham na die beeste en vang ‘n jong, mooi kalf en gee dit aan die dienaar, wat dit gou klaargemaak het. {18:8} En hy neem dikmelk en soetmelk en die kalf wat hy klaargemaak het, en sit dit aan hulle voor, terwyl hy self by hulle onder die boom bly staan; en hulle het geëet. “
Ek weet nie van julle nie, maar wanneer ek ‘n gas nooi vir ete by ons aan huis, is dit raadsaam om my vrou vooraf te raadpleeg en haar goedkeuring daarvoor te verkry!
Baie mense beskou die Bybel as ‘n chauvenistiese boek. Ja, die Bybel is inderdaad geskryf en gerig aan manne, maar hoegenaamd nie bedoel om chauvenisties te wees nie! Die man word veronderstel om die hoof van sy gesin te wees en, as sulks, is hy daarvoor verantwoordelik om hulle te lei. Gevolglik het God die Bybel vir mans geskrywe, deur hulle verantwoordelik te hou vir die nakoming, onderrig, lewe deur – en volgens alles wat Sy Woord inhou. Let byvoorbeeld op die volgende:
Númerie / Bamidbar {30:6} “Maar as sy trou terwyl haar geloftes op haar rus of iets wat onverskillig uitgespreek is, waardeur sy haarself verbind het, {30:7} en haar man daarvan hoor, op watter dag ook al, en teenoor haar swyg, dan sal haar geloftes van krag wees, en elke onthouding waartoe sy haarself verbind het, sal van krag wees. {30:8} Maar as haar man op die dag dat hy daarvan hoor, haar terughou, dan maak hy haar gelofte tot niet wat op haar rus, en ook wat onverskillig uitgespreek is, waardeur sy haarself verbind het; en die HERE sal haar dit vergewe.”.
Aangesien die man die hoof van die huishouding is, het hy dus die God-gegewe gesag om by die aanhoor daarvan enige van sy vrou se geloftes te verwerp. Dít sou beslis ook op Adam en Eva (Chava) van toepassing gewees het. Al het Eva eerste van die vrug van die verbode boom van “Kennis van goed en kwaad” geëet en is sy deur Adam daaroor tereggewys, ofskoon hy self nie daarvan geëet het nie, sou ons almal nog in die Tuin van Eden (Gan Eden) gewoon het. Deurdat Adam egter ook daarvan geëet het, het hy sy vrou se optrede goedgekeur en is dus aanspreeklik gehou.
Die apostel Paulus het aan ons die Bybelse orde van gesinsgesag in sy sendbrief verstrek:
Efesiërs / Efesos {5:22} “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. {5:23} Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam.{ 6:1} Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg.” Jesus die Messias het nie net al die eienskappe van liefde, soos in Korinthiërs vers 13 beskrywe, verpersoonlik nie, maar ook Sy bruid (ons) só lief gehad, dat Hy gewilliglik Sy lewe vir ons opgeoffer het.”.
Basies is gesagsorde soos volg: Eerstens Jesus die Messias, tweedens die man, derdens die vrou en vierdens die kinders. Indien ‘n gesin volgens hierdie orde lewe en funksioneer, sal daar seën op die gesin rus. Sou die vrou egter die gesag en hoofskap wederregtelik vir haarself toe-eien, sal die gesin teenstrydig met God se gesagsorde en gevolglik disfunksioneel wees. Beteken dit dan dat die man oor sy vrou moet baasspeel? Beslis nie! Paulus deel ons verder mee:
Efesiërs {5:25} “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het."
Dit behoort vir ons as mans te toon hoedat óns veronderstel is om teenoor ons vroue op te tree.
Het Abraham dus nie teenoor sy vrou respek betoon nie en oor haar baasgespeel deurdat hy haar nie vooraf geraadpleeg het alvorens hy drie gaste vir ete genooi en haar verder beveel om roosterkoeke te maak? Volgens die teks, wil dit so voorkom, maar laat ons die teks as sulks verder ondersoek. Wat het Abraham gedoen nadat hy Sara beveel het om roosterkoeke te bak? Hy het na sy veekudde gehardloop, ‘n jong kalf uitgesoek en aan sy slawe gegee om dit voor te berei. Het Sara ook slawe gehad? Ons weet van één, naamlik die Egiptiese slavin Hagar. Sy kon moontlik die opdrag om roosterkoeke te bak, ook aan háár slawe gegee het. Let daarop dat die gaste, ofskoon hulle vernaam was, nie in die gesinstent geëet het nie, sodat Sara nie verontrief sou word nie. Die gaste is ongetwyfeld deur slawe bedien en het buite onder ‘n boom geëet.
Ek neem dus die vrymoedigheid om julle, vriendelike manne, aan te raai om nie gaste vir ete te nooi sonder dat julle jul vrouens vooraf daaroor geraadpleeg het nie: maak beslis ook seker dat sy bediendes het om die voorbereiding, kook en opruimwerk vir haar te doen!!
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking