Saterdag 03 Desember 2011

Bejeën Alle Mense As Merkwaardig


4 Desember 2011
D’Var Torah
EN HY HET GESTUUR / VAYISHLACH

Genesis / Bereshit {32:3} “En Jakob het boodskappers uitgestuur voor hom uit na sy broer Esau in die land Seïr, die landstreek van Edom, {32:4}  en aan hulle bevel gegee met die woorde: So moet julle aan my heer, aan Esau, sê: So sê Jakob, u dienaar—ek het as vreemdeling vertoef by Laban en daar gebly tot nou toe; {32:5}  en ek het beeste en esels, kleinvee en slawe en slavinne verwerf, en my heer dit laat weet, sodat ek guns mag vind in u oë. ”.

Ek dink ons is besig om effens meer insig te verkry in Jakob se karakter, geestesgesteldheid en waar sy prioriteite gelê het. Skynbaar is Jakob deur welvaart beïndruk anders sou hy nooit sy broer prober beïndruk het met sy rykdom nie. Hy het baie gemanipuleer om sy welvaart te bekom en nou sien ons waarin dit hom laat beland het; hy verkeer onder die indruk dat welvaart invloed meebring en dit mens uit die moelikheid kan “koop”. Hy reken dat welgesteldes anders as behoeftiges behandel word. Dit is dus geen wonder dat God hom ietwat verneder om sy heup aan te tas nie! Om deur welvaart en welgesteldes beïndruk te word, is ‘n strik wat deur gelowiges in Jesus die Messias teen alle koste vermy moet word. Mense – veral ongelowiges – kan maklik deur die invloed van geld verlei word. Daar heers ‘n natuurlike neiging in ons wêreldse samelewing om welvarendes meer respekvol en eerbiedig te behandel as iemand uit ‘n gemiddelde inkomstegroep of ‘n minderbevoorregte person. In ‘n sekere opsig kan ‘n mens verstaan waarom: Kyk maar na die dagblaaie waarin die mistiek van die rykes en vernames beskrywe word. Wie word deur hulle verheerlik? Gewis nie armes en onbekendes nie!

Die waarheid is egter dat rykes ook maar net mense is! Slegs geld onderskei ‘n ryke van armoede. Ek het al baie aangename rykes ontmoet maar ongelukkig ook minder aangenames. Terloops, ek het ook aangename en onaangename arm mense ontmoet. Omdat mense ryk is, maak dit hulle geensins besonders nie en dus moet ons hulle hoegenaamd ook nie met voorkeur behandel nie. Elke mens met wie ons in aanraking kom, behoort met dieselfde respek, eerbied en waardigheid bejëen te word.

Ongelukkig is dit in baie van God se gemeentes nie die geval nie. Die meer welgesteldes geniet voorkeur behandeling, hoofsaaklik omdat hulle groter bydraers is. Juis om hierdie rede vermy my eggenote en ek om betrokke te raak by wat mense bydra. Volgens statistieke, wat ek al gelees het, bestaan die meerderheid bydraes om gemeentes te ondersteun grootliks uit klein bedrae en nie noodwendig groot bedrae nie – persentasie-gewys 20/80.

Jakobus / Ya’acov {2:2} “Want as daar in julle vergadering ‘n man inkom met goue ringe aan die vingers, met ‘n pragtige kleed aan, en daar kom ook ‘n arm man in met vuil klere aan; {2:3}  en as julle opsien na hom wat die pragtige kleed dra, en vir hom sê: Gaan u op hierdie goeie plek sit, en vir die arme sê julle: Gaan jy daar staan of hier onder my voetbank sit— {2:4}  het julle dan nie by julleself onderskeid gemaak en regters met verkeerde oorlegginge geword nie”.

Begunstiging van welgesteldes kom ook neer op begerigheid. Om te begeer is ‘n sonde, wat in die tien gebooie verbied word. Daarbenewens blyk welvaart ook ‘n beletsel te wees, wanneer dit op geestelike aangeleenthede neerkom, soos in die volgende Skrifgedeelte uiteengesit:

Matthéüs / Mattityahu {19:23} “En Jesus sê vir sy dissipels: Voorwaar Ek sê vir julle dat ‘n ryk man beswaarlik in die koninkryk van die hemele sal ingaan. {19:24}  En verder sê Ek vir julle, dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.”.

Lukas / Uri {1:53} “Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes met leë hande weggestuur.”.
Lukas / Uri {6:24} “Maar wee julle, rykes, want julle het jul troos weg.”.

Lukas / Uri {18:22} “En toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom: Nog een ding ontbreek jou—verkoop alles wat jy het, en verdeel dit onder die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê; kom dan hier, volg My. {18:23}  Toe hy dit hoor, het hy diep bedroef geword, want hy was baie ryk.”.

Ek vertrou dat ek my standpunt gestel het en indien jy dit nog nie toepas nie, dat jy van vandag af alle mense – ongeag hul finansiële status – as gelykwaardig sal bejeën. Jy mag nie begeer nie!!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking