Saterdag 24 Desember 2011

Bely en Aanvaar Verantwoordelikheid

26 Desember 2011 
D’Var Torah 
En Hy Het Nadergekom / Vayigash 


Genesis / Bereshit {44:30} “As ek dan nou by u dienaar, my vader, kom en die seun nie by ons is nie—terwyl sy siel innig aan hom verkleef is— {44:31} sal hy sterwe as hy sien dat die seun daar nie is nie; en u dienaars sal die grys hare van u dienaar, ons vader, met kommer in die doderyk laat afdaal. {44:32} Want u dienaar het die seun deur borgskap van my vader verkry deurdat hy gesê het: As ek hom nie na u bring nie, sal ek lewenslank teenoor my vader skuldig staan. {44:33} Laat u dienaar dan nou tog in die plek van die seun my heer se slaaf bly, en laat die seun saam met sy broers optrek. {44:34} Want hoe kan ek na my vader optrek as die seun nie by my is nie? Mag ek maar net die ellende nie aansien wat my vader sal tref nie! ”. 

Dit het veel van Juda vereis om uiteindelik te bely en verantwoordelikheid vir wat hy gedoen het, te aanvaar. Ja, hy bely nie spesifiek sý sonde en dié van sy broers nie, maar deurdat hy die blaam op homself geneem het om sy broer Benjamin te red – wat hy nie in Josef se geval gedoen het nie – bewys aan ons dat Juda en sy broers inderdaad berouvol was. 

Josef en sy nege broers moes werklik veel verduur het om hierdie punt van belydenis en berou te bereik. Hulle het vir twintig jaar lank met ‘n skuldgevoel geleef. Hulle het terdeë besef dat hulle hul vader bedrieg het deur hom te laat glo dat Josef dood is – deur ‘n wilde dier verskeur. Daarna was daar die pynlike eerste ontmoeting met Josef, waar hy hulle herken het, maar hulle nie vir hóm nie. Josef het hulle deur ‘n ontsettende moeilike tyd laat gaan. Soos ons bewus is, het hy hulle getoets deur ‘n dreigement om hulle almal te laat arresteer vir spioenasie. Eindelik het hy slegs vir Simeon in die gevangenis laat agterbly, terwyl hy daarop aangedring het dat sy broers met Benjamin terugkeer as bewys dat hulle nie spioene was nie. Dit was vir hulle ‘n uiterste beproewing. Toe hulle onderweg terug, boonop die geld wat hulle vir die graan aan Josef betaal het, in hul sakke ontdek, kan ek myself net voorstel hoedat hierdie manne moes gevoel het. Hulle stresvlak moes onbeskryflik hoog gewees het! 

Hier, met een broer in die gevangenis, die geld wat hulle betaal het in hul sakke, wat hulle soos diewe laat lyk het en die blote gedagte om na hierdie magtige, onvriendelike Egiptiese heerser met hul broer Benjamin terug te keer, moes ongetwyfeld geweldig stresvol vir hulle gewees het. Boonop, die feit dat hulle vader, Jakob, geweier het om Benjamin saam met hulle na Egipte te laat teruggaan. Toe Jakob uiteindelik toestemming verleen het om Benjamin te laat gaan, het hy dit gedoen deur verdere skuldgevoelens op sy oorblywende seuns te laai. Dit het ook nie dáár vir hulle geëindig nie! Met hulle terugkeer na Egipte, het Josef steeds druk op sy broers uitgeoefen. Ek is oortuig daarvan dat onbeskryflike vrees hul harte beetgepak het toe die onderkoning se drinkbeker, met hul terugtog, in Benjamin se sak ontdek is! Kan jy jouself dit alles indink? Probeer om jouself in hierdie verhaal voor te stel – dink net hoedat jy sou gevoel het! 

Kan jy jouself voorstel onder soveel druk en vrees, wat hierdie berouvolle broers moes verduur? 

Dit is onteenseglik duidelik dat Josef doelbewus besig was om sy broers deur al hierdie stres te laat gaan. Dit was immers hy wat hulle herken het en indien hy wou, kon hy homself tydens hul eerste ontmoeting reeds aan hulle bekendgestel het. Die feit is egter dat hierdie hele episode, van begin tot einde, die beskikking van God was. Hy was besig om hulle te bring tot erkenning van hulle sonde en hulle te beweeg van skuld na belydenis na berou. 

Baie van ons voel skuldig oor ons sondes, maar dring daardie skuldgevoel ons enigsins daartoe om dit te bely en berou daaroor te hê, of “begrawe” ons dit doodeenvoudig, net soos Josef se broers en gee voor dat dit nie bestaan nie? Gaan ons ook maar aan met ons lewens asof niks gebeur het nie? 

Ek vertrou dat jy hierdie volle verhaal as ‘n beeld, ‘n prent van Jesus en Sy broers – die Joodse volk – sal beskou. Wat ek egter wil hê waarna ons vandag moet kyk, is die eenvoudige betekenis in hierdie verhaal vervat en die les wat ons daaruit kan leer. 

God het Josef se broers tot die uiterste beproef sodat hulle uiteindelik hul skuld bely en berou gehad het. Vir twintig jaar lank het hulle dié skuld binne-in hulle gedra en ek is oortuig dat dit vir hulle veel leed, lyding en selfs siekte meegebring het – om nie eers van die gevolglike gespanne verhouding onderling asook met hulle vader te praat nie. Hoe kon hulle hom ooit weer eerlik in die oë kyk ná wat hulle gedoen het? 

Dink vir ‘n oomblik na oor jou lewe. Het jy die afgelope jare angs, leed en lyding verduur? Voel dit vir jou asof jy, ten spyte van die teëspoed, geen voorspoed ooit sou beleef nie? Is daar enige skuldgevoel wat jy in jou onderbewussyn weggebêre het, wat moontlik tot jou angs en selfs siekte aanleiding kan gee? Miskien is dit ‘n bestiering van God dat Hy jou tot erkenning van jou skuld, belydenis en berou wil bring. Meen jy dat jy God kan uitoorlê en Hy jou eindelik in vrede sal laat? Hy sal beslis nie! Wees verseker dat Hy die druk op jou sal handhaaf, jou uit die één beproewing in die ander laat beland totdat jy óf bely en berou het óf in jou sonde sterf. Indien jy egter verkies om God te trotseer en in jou sonde te sterf, onthou die hel is ‘n werklikheid! 

Markus / Mordechai {9:43} “En as jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om vermink die lewe in te gaan, as om twee hande te hê en in die hel te gaan in die onuitbluslike vuur, {9:44} waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie. {9:45} En as jou voet jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om kreupel die lewe in te gaan, as om twee voete te hê en in die hel gewerp te word in die onuitbluslike vuur, {9:46} waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie. {9:47} En as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit. Dit is beter vir jou om met een oog die koninkryk van God in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word, {9:48} waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie. ”. 

Aanvaar Jesus as jou Here en Redder. Toon nóú berou en waarborg sodoende vir jou ‘n plek by Hom in die hiernamaals. 


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking