Sondag 08 April 2012

Paasfees (Pesach) en die Heilige Tempel

8 April 2012 
D’Var Torah 

Paasfees (Pasga) – (Pesach) – Die Agste Dag 


Deuteronomium / Devarim {16:5} “Jy mag die pasga nie slag in een van jou poorte wat die HERE jou God aan jou gee nie. {16:6} Maar op die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, moet jy die pasga slag, in die aand teen sononder, op die tyd van jou uittog uit Egipte. {16:7} Dan moet jy dit kook en eet op die plek wat die HERE jou God sal uitkies; daarna moet jy in die môre omdraai en na jou tente gaan. ”. 

Ons vier gewoonlik nie die agste dag van Paasfees nie, maar vanjaar is egter ‘n uitsondering. Die agste dag val op ‘n Sabbat en daarom het die Joodse gemeenskap ‘n spesiale Parasha-lesing vir dié dag. Die Messiaanse Joodse lesing vir hierdie week is parasha-lesing Shemini, maar indien ons egter by die Messiaanse Joodse kalender hou, sou dit later nie langer met dié van die breër Joodse gemeenskappe oor die wêreld heen saamval nie – iets wat ons beslis wil verhoed. 

Volgens die bovermelde Skrifgedeelte, bevat vandeesweek se parasha die opdrag met betrekking tot die offer van die paaslam. Oënskynlik kon die lam, in tempeltye, alleenlik by die tempel geslag word, met die gevolg dat dit slegs in Jerusalem geëet is. Dit is heelwaarskynlik die rede waarom Paasfees een van die Shalosh Regalim (Drie Pelgrimfeeste) was. 

Lukas / Uri {2:41} “En sy ouers was gewoond om elke jaar met die paasfees na Jerusalem te gaan.”. 

Dit was klaarblyklik die eerste maal ooit wat Jesus tydens paasfees van die lam geëet het. Hy sou dit nie tuis kon geëet het nie omdat die paaslam uitsluitlik by die tempel in Jerusalem geslag moes word. Om hierdie rede eet Joodse mense, wat die Wet streng nakom, tot vandag toe nie lamsvleis tydens Pasga nie – daar bestaan nie meer ‘n tempel waar dit geslag moet word nie. Selfs indien daar tog vandag nog ‘n tempel bestaan het, sou hulle met paasfees na Jerusalem toe moes gaan om dit dáár te eet, omdat dit die enigste plek was waar die paaslam geslag kon word. Om hierdie rede het Jesus gesê: 

Lukas / Uri {13:32} “En Hy het vir hulle gesê: Gaan vertel daardie jakkals: Kyk, Ek dryf duiwels uit en maak gesond, vandag en môre, en op die derde dag is Ek klaar. {13:33} Maar Ek moet vandag en môre en die volgende dag verder gaan, want dit kan nie gebeur dat ‘n profeet buitekant Jerusalem omkom nie. ”. 

Jesus, óns Paaslam, soos die gebruiklike paaslam, kon nêrens anders as in Jerusalem geoffer word nie. Hier volg ‘n verdere voorskrif met betrekking tot die paaslam: 

Eksodus / Shemot {12:48} “En as ‘n vreemdeling by jou vertoef en tot eer van die HERE die pasga wil vier, moet by hom almal wat manlik is, besny word; en dan mag hy nader kom om dit te vier, en hy sal soos ‘n kind van die land wees. Maar géén onbesnedene mag daarvan eet nie. ”. 

Hierdie vers het alreeds tot veel verwarring onder onbesnede nie-Joodse gelowiges gelei, wanneer dit by die viering van die Paasmaal (Pesach Seder) kom. Hulle afleiding uit hierdie Skrifgedeelte is dat indien hulle nie besny is nie, hulle nie aan hierdie viering kan deelneem nie. Dit is egter nie wat hierdie gedeelte bedoel nie – verwys gerus na ons Skrifgedeelte aan die begin van hierdie kommentaar: 

Deuteronomium {16:5} “Jy mag die pasga nie slag in een van jou poorte wat die HERE jou God aan jou gee nie. ”. 

Die Pesach is die lam en daarom kan ‘n onbesnede persoon nie aan die lam deel hê nie. Dit was omrede ‘n onbesnede man nie die tempel kon betree nie. Sedert die tempel egter vernietig is, was daar geen paaslam meer nie – gevolglik is hierdie Tora-opdrag vandag nie meer van toepassing nie. 

Verder was die lam wat in tempeltye vir die Pesach Seder geslag is, ‘n simbool of sinnebeeld van Jesus die Messias. Vandag is Jesus óns Paaslam en hy is 2000 jaar gelede vir altyd aan God geoffer. Om dus op Paasfees van ‘n lam – wat Jesus verteenwoordig – te eet, is volgens my mening, ontheiligend. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking