Sondag 07 Oktober 2012

Lig uit duisternis, dag uit nag.

7 Oktober 2012 
D’Var Torah 
In Die Begin / Bereshit (Genesis) 

Genesis / Bereshit 1:1 – 6:8
Johannes / Yochanan 1:1 – 5


Genesis / Bereshit {1:3} “En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. {1:4} Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; {1:5} en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag. ”. 

Daar heers by heelparty mense verwarring met betrekking tot hierdie vers, omdat dit spreeek van God wat om lig roep en dan die lig van die duisternis skei. Die vers gaan dan verder om te sê dat God die lig “dag” en die duisternis “nag” genoem het. Dit het alles, so word ons meegedeel, op die eerste van die skepping plaasgevind. Dit is egter nie die verwarrende deel nie. Die verwarring ontstaan, wanneer vers 14 gelees word: 

Genesis / Bereshit {1:14} “En God het gesê: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare. {1:15} Laat hulle ook dien as ligte aan die uitspansel van die hemel om lig te gee op die aarde. En dit was so. {1:16} God het toe die twee groot ligte gemaak: die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag; ook die sterre. {1:17} En God het hulle aan die uitspansel van die hemel gestel om lig te gee op die aarde {1:18} en om te heers oor die dag en oor die nag en om skeiding te maak tussen die lig en die duisternis. Toe sien God dat dit goed was. {1:19} En dit was aand en dit was môre, die vierde dag. ”. 

Hierdie verse blyk ‘n herhaling te wees van wat vantevore op die eerste dag plaasgevind het. Wat baie mense dus verwar, is die verband tussen die lig en duisternis van die eerste skepping dag en die lig en duisternis op die vierde dag. Dit blyk dieselfde te wees, maar vind op twee afsonderlike dae plaas, wat die vraag laat ontstaan of dit werklik dieselfde is? Die feit is egter dat dit hoegenaamd nie dieselfde is nie. Die verskil tussen die twee skeppingsdae word duideliker wanneer ons God se dubbele gebruik van die woorde “lig en duisternis”, “dag en nag” verstaan. 

Johannes / Yochanan {11:8} “Die dissipels sê vir Hom: Rabbi, die Jode het onlangs probeer om U te stenig, en gaan U weer daarnatoe? {11:9} Jesus antwoord: Is daar nie twaalf ure in die dag nie? As iemand in die dag wandel, stamp hy hom nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. {11:10} Maar as iemand in die nag wandel, stamp hy hom, omdat die lig nie in hom is nie. ”. 

Een van die sub-temas van Johannes se Evangelie is die begrippe van “lig en duisternis”, “dag en nag” en hy gebruik dit met betrekking tot “goed en kwaad”. Wat dus deur Johannes in die bovermelde verse gesê word, is dat as iemand in die dag wandel – dit wil sê geregtigheid – sal hy hom nie stamp nie, maar as iemand in ongeregtigheid, oftewel in die nag wandel, sal hy homself stamp. Dit word selfs duideliker wanneer ons lees wat Jesus ons vertel het. 

Johannes / Yochanan {8:12} “En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê. ”. 

Dit word nou meer klaarblyklik wat op die eerste skeppingsdag plaasgevind het. God, wat almagtig is en bewus was daarvan dat die wêreld wat Hy van voornemens was om te skep, in boosheid sou verval, het die konsep van Jesus die Messias (God wat die menslike gestalte aanneem) ingestel, waardeur “lig uit duisternis, dag uit nag” geskei is, terwyl beide “goed uit kwaad (= sonde)” verteenwoordig. 

In verse 14 tot 19 van Genesis {1}, het God die son, maan en sterre geskep. In effek, het God op die vierde dag tyd geskep en hierin lê die onderskeid tussen die eerste en vierde skeppingsdag. 



Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking