D’Var Torah
In die Wildernis – Bamidbar
Númeri / Bamidbar {3:25} “En die seuns van Gerson moet by die tent van samekoms versorg: die tabernakel en die tent, sy dekkleed en die bedekking vir die ingang van die tent van samekoms; {3:26} en die behangsels van die voorhof en die bedekking vir die ingang van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar is, en sy lyne—alles wat by sy bediening behoort. {3:27} En aan Kehat het behoort die geslag van die Amramiete en die geslag van die Jishariete en die geslag van die Hebroniete en die geslag van die Ussiëliete. Dit is die geslagte van die Kehatiete. {3:28} Volgens die getal van almal wat manlik is, van ‘n maand oud en daarbo, was daar agt duisend ses honderd wat die diens van die heiligdom waargeneem het. {3:29} Die geslagte van die seuns van Kehat moet laer opslaan aan die kant van die tabernakel, aan die suidekant. {3:30} En owerste oor die familie vir die geslagte van die Kehatiete moet wees Elísafan, die seun van Ussiël. {3:31} En hulle moet versorg: die ark en die tafel en die kandelaar en die altare en die gereedskap van die heiligdom waarmee hulle diens doen, en die voorhangsel en alles wat by die bediening daarvan behoort.”.
Wat leer ons met die lees van hierdie parasha? Wat my veral opgeval het was hoe elke gemelde familie vanuit die Leviete (Leviim), hulle eie besondere verantwoordelikheid met die opbreek en opslaan van die tabernakel (Mishkan) gehad het. Het jy al ooit gewonder waarom God die keuses gemaak het oor wie watter taak moes verrig? Die proses het ongetwyfeld God se opperheerskappy bewys omdat daar skynbaar geen logiese rede vir Sy keuses was nie – ten minste wanneer dit by ons beperkte begrip kom nie. Dit is egter interessant dat die Kohatiete deur God aangewys is om die gewyde (kadosh) voorwerpe van die tabernakel te dra. Daarbenewens ook, anders as enige ander lede van die stam van die Leviete, was hulle die enigste familie aan wie geen vervoermiddel gegee is waarop hulle vragte gelaai kon word nie – hulle moes alles met die pale wat voorsien is, op hul skouers dra.
Waarom was dít vir my interessant? Korag, wat een van die leiers van die opstand teen Moses was, was van die seuns van Kohat. Daar mag moontlik geen verband tussen hulle taak en die feit dat hulle eindelik in opstand gekom het, bestaan nie maar dan weer kon daar tog ‘n rede gewees het.
Númeri / Bamidbar {4:4} “Dit sal die dienswerk van die seuns van Kehat by die tent van samekoms wees, naamlik die hoogheilige dinge. {4:5} By die opbreek van die laer moet Aäron en sy seuns kom en die voorhangsel tot bedekking afneem en daarmee die ark van die Getuienis bedek. {4:6} En hulle moet ‘n dekkleed van robbevelle daarop sit en ‘n doek, heeltemal van pers stof, daar bo-oor uitsprei en sy draaghoute insteek. {4:15} En eers nadat Aäron en sy seuns, by die opbreek van die laer, klaar is met die toemaak van die heiligdom en van al die gereedskap van die heiligdom, moet die seuns van Kehat kom om te dra; maar hulle mag nie aan die heilige dinge raak nie, sodat hulle nie sterwe nie. Hierdie dinge is dit wat die seuns van Kehat moet dra van die tent van samekoms.”.
Nadat hierdie gedeelte gelees is, sou iemand wat op die fisiese en nie op die spirituele ingestel is, maklik die gevolgtrekking maak: “O, ek is goed genoeg om die heilige voorwerpe te dra, maar nie om die tabernakel binne te gaan nie en dit te bedek nie.”. Ons kan dus aflei hoedat die gegriefdheid teen Moses en Aaron moontlik hieruit gespruit het. Hulle kon ook maklik aanstoot geneem het aangesien almal vervoermiddels gehad het om hulle vragte mee te vervoer, maar húlle dit op hul skouers moes dra.
Hoe maklik is dit vir wêreldse mense of selfs wêreldse gelowiges – dié wat meer op die fisiese as die spirituele ingestel is – om ‘n gegriefdheid te ontwikkel omdat hulle voel dat dít waarvoor hulle aangewys is, nie aan hulle verwagtings voldoen nie.
Dit sou vir ons maklik kon wees om ‘n vinger na die Kohatiete te wys en te sê dat óns nooit só ’n iets sou doen nie, maar die feit is dat ons nie net in staat daartoe is nie, maar dit inderdaad doen! Ons is gegriefd teen ons leiers wanneer óns aangewys word om iets te doen, wat ons as minderwaardig beskou in vergelyking met iemand wat wel gekies is om dit te doen. Ons voel gegriefd wanneer óns nie gekies word vir ‘n bepaalde projek nie maar iemand anders wat na ons mening minder gekwalifiseerd as ons is, daarvoor gekies word. Die gevolg is dat ons ‘n gegriefdheid begin opbou. Kom ons wees nou eerlik: baie van ons is geensins beter as Korag nie, selfs al noem ons onsself gelowiges.
Matthëüs / Mattityahu {7:5} “Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal. ”.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking