Sondag 12 Mei 2013

Kom Ons Maak Ons Lewens Skoon!

D’Var Torah 
Neem – Naso 


Numeri {5:1} “En die HERE het met Moses gespreek en gesê: {5:2} Gee bevel aan die kinders van Israel dat hulle uit die laer wegstuur al die melaatse mense en almal wat ‘n vloeiing het, en almal wat deur ‘n lyk onrein is. {5:3} Man sowel as vrou moet julle wegstuur; buitekant die laer moet julle hulle wegstuur, sodat hulle nie hul laer verontreinig waar Ek in hulle midde woon nie. {5:4} En die kinders van Israel het so gedoen en hulle buitekant die laer gestuur; soos die HERE met Moses gespreek het, so het die kinders van Israel gedoen.” 

Wanneer ‘n mens hierdie vier verse lees, is ek oortuig daarvan dat meeste van ons – indien nie almal nie – ons skaars weer daaraan steur. Dink egter daaroor! Die laer van Israel het bestaan uit nagenoeg twee miljoen mense! Dit is groter as meeste stede in Kanada en selfs groter as baie stede oor die wêreld heen. Kan jy jou die enorme taak voorstel van wat dit sou behels om deur die hele laer te gaan en vas te stel wie melaats (tzara’at) was, ‘n vloeiing gehad of aan ‘n lyk geraak het? Probeer jou voorstel wat dit sou behels om so iets te onderneem in die stad waarin jy woon – dan sal jy ongetwyfeld verstaan waaroor ek praat. Dit moes ‘n haas onmoontlike taak gewees het, maar dit is presies wat God vereis en presies wat die kinders van Israel gedoen het. 

God woon vandag nie meer fisies tussen ons nie, altans, nie op dieselfde wyse as wat Hy in die laer van die kinders van Israel gewoon het nie. Tόé het Sy fisiese teenwoordigheid in die vorm van die Shekinah die tempel (Mishkan) gevul. Die teenwoordigheid van God woon vandag egter ín ons, deur die onsigbare vorm van die Heilige Gees (Ruach Hakodesh). Ek vind dit ontstellend dat baie gelowiges God se teenwoordigheid in hulle as vanselfsprekend aanvaar. In die betrokke verse lees ons hoedat God geweier het om te woon tussen melaatses, mense met ‘n vloeiing of persone wat aan ‘n lyk geraak het maar vandag verontreinig baie gelowiges hulself op soveel ander wyses en traak dit hulle geensins nie. 

1 Korinthiërs (Korintim Alef) {3:16} “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?” 

Ons Skrifgedeelte uit vandeesweek se Tora-deel beklemtoon die feit van God se heiligheid. Dit verduidelik aan ons, sonder omhaal van woorde, dat God se heiligheid baie beslis nie vanselfsprekend aanvaar mag word nie. Dit bewys aan ons dat ons tot die alleruiterste moet gaan om in ons lewens ontslae te raak van enigiets wat ons mag besoedel, en gevolglik όns “laer” in ‘n omgewing skep waarin die Heilige Gees hoegenaamd nie kan woon nie. 

Om deur ‘n laer van bykans 2 miljoen mense te gaan ten einde van die teenwoordigheid van God te verwyder enigiets wat onrein kon wees, was ongetwyfeld nie ‘n maklike taak nie. Ek meen dat ek in alle eerlikheid mag sê dat dit nie in ‘n dag, ‘n week of selfs ‘n maand kon geskied het nie, maar dit is nietemin uitgevoer. Netso kan iets wat ons besoedel nie in ‘n oogwink uitgeskakel word nie, maar móét ontslae van geraak word indien die Gees van God vreedsaam ín ons kan woon. 

Let wel, uit ons Skrifgedeelte, dat sodra God die kinders van Israel beveel het om die laer skoon te maak, het hulle dit dadelik gedoen. In die bovermelde Skrifgedeelte in 1 Korinthiërs {3:16} het God ons uitdruklik beveel om ons lewens skoon te maak. Kom ons doen dit sonder verdere versuim! 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking