Sondag 19 Mei 2013

Leiers moet as voorbeeld dien

D’Var Torah 
Wanneer jy aanspraak maak – Beha’alotecha 




Númeri / Bamidbar {8:9} “En jy moet die Leviete voor die tent van samekoms laat nader kom en die hele vergadering van die kinders van Israel versamel. {8:10} Dan moet jy die Leviete voor die aangesig van die HERE laat nader kom, en die kinders van Israel moet hulle hande op die Leviete lê. {8:11} En Aäron moet die Leviete as beweegoffer beweeg voor die aangesig van die HERE namens die kinders van Israel, sodat hulle daar kan wees om die dienswerk van die HERE te verrig.” 

Op grond van die vorige sensus, weet ons dat daar meer as ses-honderd duisend manne onder die kinders van Israel was en twee-en-twintig duisend Leviete. Die binnehof van die tent van samekoms (Ohel Moed) was sekerlik nie groot genoeg om soveel mense te huisves nie – hoe was dit dus moontlik dat elke person onder die kinders van Israel hul hande op die Leviete kon lê? Beslis onmoontlik! Dit is dus voor die hand liggend dat dit nie God se bedoeling was dat elke indiwiduele Israeliet sy hande op die Leviete lê nie, maar wel slegs die leiers van elke stam. Ongeag hierdie feit, is ek egter seker dat al die kinders van Israel rondom die tabernakel vergader het om die geleentheid te aanskou of ten minste net te kon sê dat hulle teenwoordig was, aangesien die werklike seremonie beswaarlik deur die skare mense aanskou sou kon word. Die lang gordyne rondom die tent van samekoms, sou meeste mense se uitsig belemmer het, selfs indien die ingange oopgelaat is. Daarbenewens sou die verrigtinge op grondvlak plaasgevind het aangesien daar geen verhoog in die tent van samekoms was nie. 

Beslis nie elke persoon sou sy hande op die Leviete kon lê nie. Ek is oortuig daarvan dat wat God daarmee bedoel het, was dat ‘n verteenwoordiger uit elke stam, hulle prins, as ‘n groep hulle hande op die Leviete sou lê en hulle sodoende aan God voorstel. 

Dit benadruk vir my die belangrikheid wat God aan leierskap heg. Baie mense probeer die rol van leierskap binne ‘n gemeente geringskat, wat God oënskynlik nie so ag nie. Dit bring dus geweldige implikasies ook vir leiers mee. In die lig hiervan, wil ek graag hierdie kommentaar (drash) aan alle gemeenteleiers rig. 

Sommige leiers voel miskien dat hulle iets besonders is, in soverre hulle aan die gemeente kan voorskryf wat om te doen maar hulleself daarvan uitsluit. Met inagneming van die verantwoordelikheid wat God aan leierskap heg en die feit dat leiers hulle hele stam verteenwoordig, beteken dat dit vir ons iets baie belangrik inhou. Op leiers rus daar ‘n geweldige verantwoordelikheid: hulle optrede en die wyse waarvolgens hulle lewe, sal die hele gemeente beïnvloed; trouens, die leiers moet as voorbeeld dien vir diegene wat deur hulle gelei word. Indien hulle verwag dat die gemeente skenkings doen of geldelik bydra tot iets, móét hulle dieselfde doen. Indien hulle die aanvangstye van dienste of ‘n ander geleentheid bepaal, moet hulle vroegtydig reeds dáár wees om diegene wat betyds is, te groet. Indien die leierskap van die gemeente verwag om tiendes te gee, moet die leiers dit ook doen. Indien die leier van die gemeente verwag om in ‘n bediening te dien, moet hy ook in bedienings dien. Van leiers word verwag om deur hulle voorbeeld te lei. 

Johannes / Yochanan {13:4} van die maaltyd opgestaan en sy bo-klere uitgetrek en ‘n doek geneem en dit om Hom vasgemaak. {13:5} Daarna het Hy water in ‘n bak gegooi en die voete van die dissipels begin was en afdroog met die doek wat Hy omgehad het. {13:3} Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. {13:14} As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was. {13:15} Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen. {13:16} Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, ‘n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en ‘n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie. {13:17} As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen. 

 Dáár het jy dit, duidelik uit die mond van God! 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking