D’Var Torah
Wanneer jy gaan – KeTetze
Deuteronomium / Devarim {21:18} “As iemand ‘n koppige en wederstrewige seun het, wat nie luister na die stem van sy vader en na die stem van sy moeder nie, en hulle hom tugtig, maar hy na hulle nie luister nie, {21:19} dan moet sy vader en sy moeder hom neem en hom uitbring na die oudstes van sy stad en na die poort van sy woonplek, {21:20} en hulle moet aan die oudstes van sy stad sê: Hierdie seun van ons is koppig en wederstrewig, hy luister nie na ons stem nie, hy is ‘n deurbringer en dronkaard. {21:21} Dan moet al die manne van sy stad hom stenig, dat hy sterwe. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei, en die hele Israel sal dit hoor en vrees.”.
Toe ek hierdie Skrifgedeelte gelees het, het ek onwillekeurig gedink aan die gelykenis van die verlore seun in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha), Lukas (Uri) 15:24. Jesus die Messias vertel vir ons die verhaal van ‘n rebelse seun, wat vir sy vader sý erfporsie gevra het nog voordat sy vader gesterf en dit op ‘n losbandige lewe verkwis het. Wanneer die geld egter opraak en hy gebrek ly, dink hy aan die oorvloed wat sy vader se huurlinge geniet het, terwyl hy sonder ordentlike voedsel was. Die jongman keer dan terug na sy vader en vra dat hy soos ‘n huurling vir hom mag werk. Ons sou verwag dat die vader die vereistes van die Tora sou nakom en sy seun na die oudstes neem om hom te laat stenig maar hy doen dit nie. In plaas daarvan verwelkom hy hom terug, herstel sy volle regte as sy seun en vier selfs fees tot sy eer.
Sommige mense gebruik dié gelykenis om die wet van die “Ou Verbond” as’t ware tot niet te maak en selfs op grond van hierdie gelykenis, uit te roep “Is jy nie bly dat ons nie langer onder die Wet leef nie!”.
Die feit is egter dat die Tora-wet, wat ons hierbo aangehaal het, geensins gebruik mag word as Wet teenoor genade nie; trouens, kom ons beskou dit, wat in ons Skrifgedeelte van hierdie week se parasha gesê word, van naderby: {21:20} “en hulle moet aan die oudstes van sy stad sê: Hierdie seun van ons is koppig en wederstrewig, hy luister nie na ons stem nie, hy is ‘n deurbringer en dronkaard.”. Ek wil graag fokus op die woorde: “hy luister nie na ons stem nie; …”. Die jongman wat in die gelykenis vermeld word, was oënskynlik sonder berou en het alle versoeke van sy ouers om sy lewenswyse te verander, geïgnoreer. Derhalwe sou hulle, in ‘n poging om in gehoorsaamheid aan God se opdrag boosheid uit die land uit te roei, hom na die oudstes geneem het om veroordeel en gestenig te word. Dit was egter nie die geval in die gelykenis van die verlore seun nie. Hy was enigiets behalwe onberouvol; inteendeel hy het in nederigheid na sy vader teruggekeer en gesê:
Lukas / Uri: {15:18} “Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, {15:19} en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge.”.
Daar is wel vergifnis vir berou in sowel die Hebreeuse Skrifte (Tanach) en die Hernieude Verbond (Brit Chadasha). Die gebod, in hierdie parasha vermeld, en die gelykenis van die verlore seun, is nie in konflik met mekaar nie, want in beide gevalle is daar sprake van genade en vergifnis. Die Hebreeuse Skrifte is vol voorbeelde van genade, waarvan God se belofte om ‘n Verlosser te stuur, die vernaamste is.
Ons kan en mag nooit genade teenoor die Tora stel nie – ons kan selfs nie beweer dat die Tora genade bevat, maar die Hernieude Verbond groter genade inhou nie. Albei bevat ‘n gelyke mate van genade omrede beide deur die God van genade beskik is. Die volgende Skrifgedeelte geld vir albei verbonde.
1 Johannes / Yochanan Aleph {1:9} “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. {1:10} As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.”.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking