Donderdag 03 April 2014

Siek en ontneemde mense

D’Var Torah
Na die dood – Acharei Mot


Levitikus / Vayikra {18:1} “VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê: {18:2} Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Ek is die HERE julle God. {18:3} Volgens die werke van die land van Egipte waar julle in gewoon het, mag julle nie doen nie; en volgens die werke van die land Kanaän waarheen Ek julle bring, mag julle nie doen nie, en julle mag in hulle insettinge nie wandel nie. {18:4} My verordeninge moet julle doen en my insettinge hou om daarin te wandel. Ek is die HERE julle God. {18:5} Hou dan my insettinge en my verordeninge wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe. Ek is die HERE.”.

In hierdie inleidende Skrif, verstrek God ‘n lys van gruwels wat deur Egiptenaars (Mitzrim), Kanaäniete (Kena’anim) sowel as in die res van die heidense wêreld gepleeg is.

Ek het berou dat ek in my jeug nie reeds gered is nie; gevolglik het ek tydens my eerste veertig jaar ‘n lewe van promiskuïteit en losbandigheid gelei. Moontlik oordryf ek dit ietwat, want ek skat dat die eerste tien jaar van my lewe ‘n tydperk van onskuld was, waarna die duiwel behoorlik los was! Ek moet dus eerlik erken dat ek besonder verleë en beskaamd gevoel het toe ek die betrokke lys van sondes gelees het van mense (Egiptenaars) wat deur God veroordeel is asook diegene (Kanaäniete) wat Hy op die punt gestaan het om te oordeel en van hulle land te ontneem. Voordat ek gered is, het ek ook al vele van daardie sondes gepleeg.

Wat werklik onstellend is, is dat hierdie seksuele sondes vandag nog in elke land – Israel ingesluit – plaasvind. Boonop lees ons dat in baie lande ‘n aansienlike deel van die betrokke sondes, waarvan ons in hierdie parasha lees, reeds gewettig is. Homoseksualiteit is ‘n voorbeeld hiervan; trouens, laasgenoemde is nie net gewettig nie, maar word selfs as sosiaal aanvaarbaar in die samelewing beskou. Aborsie, wat vergelykbaar is met die offer van kinders aan Moleg, is ‘n verdere sonde wat in meeste wêrelddele wettiglik beoefen word en ek is oortuig, dat waar dit nie wettig is nie, dit onwettig plaasvind. Volgens statistieke, is bykans 98 000 aborsies in 2009 in Kanada uitgevoer.

Levitikus / Vayikra {18:24} “Verontreinig julle nie deur al hierdie dinge nie, want deur al hierdie dinge is die heidene verontreinig wat Ek voor julle uit verdryf. {18:25} So het die land dan onrein geword; en Ek besoek sy ongeregtigheid daaraan, sodat die land sy inwoners uitspuug.”.

Dink net daaraan, dat elke denkbare seksuele misdryf en, ek sou my voorstel, selfs sommige wat nooit in die gedagte van God opgekom het nie, vandag dwarsoor die wêreld gepleeg word. Enigeen, ongeag sy / haar ouderdom en welke perversiteit hulle wil ervaar, het op die internet toegang daartoe. Dink jy nie die wêreld is gereed om geoordeel te word nie?

Deuteronomium / Devarim {9:4} “As die HERE jou God hulle voor jou uit verjaag, moet dan nie in jou hart spreek en sê: Die HERE het my ter wille van my geregtigheid ingebring om hierdie land in besit te neem nie; want weens die goddeloosheid van hierdie nasies verdryf die HERE hulle voor jou uit.{9:5} Nie ter wille van jou geregtigheid en die opregtheid van jou hart kom jy in om hulle land in besit te neem nie, maar weens die goddeloosheid van hierdie nasies verdryf die HERE jou God hulle voor jou uit, en om die woord te vervul wat die HERE vir jou vaders, Abraham, Isak en Jakob, gesweer het.”.

Al die nasies van die wêreld is gered vir die oordeel; trouens, ons ervaar nou reeds ‘n deel van daardie oordeel: die ongekende onstuimige weerpatrone, die verskynsel van wêreldwye terrorisme en die voortdurende bedreiging van oorlog (veral nou met Rusland). Dit is egter slegs die begin  - die grootste finale oordeel, moet nog aanbreek. Is dit te laat vir die wêreld om na God terug te keer? Nee, dit is nooit te laat nie maar die moontlikheid van ‘n wêreldwye herlewing raak toenemend onwaarskynlik; trouens, indien die oordele van God op aarde toeneem in plaas daarvan dat mense na God terugkeer, sal hulle, volgens die Bybel, Hom begin vervloek.

Openbaring / Hitgalut {16:21} “en groot hael, omtrent ’n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was.”.

Hoe siek en ontneem is ons mense tog nie! Is dit nie ‘n wonder dat ons ‘n Redder nodig het nie? KOM SPOEDIG, HERE JESUS!


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking