VaYikra
(En Hy Het Geroep)
Levitikus / VaYikra 1:1-5:26
Jesaja / Yeshayahu 43:21-44:23
Hebreërs / Ivrim 10:1-18
Levitikus / Vayikra {1:1} “En die HERE het Moses geroep en
met hom gespreek uit die tent van samekoms en gesê: {1:2} Spreek met die
kinders van Israel en sê vir hulle: As iemand van julle aan die HERE ‘n offer
wil bring, kan julle jul offer bring van vee—van beeste of van kleinvee. {1:3}
As sy offer ‘n brandoffer is van beeste, moet dit ‘n bul sonder gebrek wees wat
hy bring. By die ingang van die tent van samekoms moet hy dit bring, sodat hy
welgevalle voor die aangesig van die HERE kan vind. "
Nadat ek hierdie week se oordenking gelees het, is ek so
dankbaar vir wat Jesus die Messias vir my gedoen het. Ek kan my beswaarlik
voorstel dat ek diere sou moes koop en dit as brandoffer na die tempel bring
sodat ek weereens in die regte verhouding met God kon verkeer. Om die waarheid
te sê, vanweë al die sondes (met opset en onbewustelik) wat ek doen deur wat ek
sê, hoor en dink, weet ek nie wat eerste sou gebeur nie: óf ek sou finansieel
bankrot raak óf die wêreld sou leegloop van rein diere wat ek kan offer. Dan
sou ek die onkoste van 'n vliegkaartjie moes aangaan en die spanning verduur om
heen en weer tussen Kanada en Israel te reis, waar die tempel nog bestaan en
Jesus die Messias nog nie gekom het nie. Dit op sigself sou dodelik wees! Dink
daaroor na: as ons al ons sondes bymekaartel, dié wat ons as gelowiges doen
(met opset onbewustelik, deur wat 'n mens sê, hoor en dink), slegs vandag, sou
die totale aantal sondes verstommend wees. Verder, indien elkeen van ons 'n
gepaste offer vir elke spesifieke sonde moes bring, sou 'n mens kon praat van
bedreigde spesies!
Ek dink soms dat ons dít wat God vir ons gedoen het, ver te
ligtelik opneem! Indien Jesus nooit vir die sonde van die wêreld kom sterf het
nie - eens en vir altyd - sou die wêreld feitlik op 'n daaglikse basis heen en
weer na Israel moes reis, want soos ons uit die Skrif weet, sondig ons almal.
Prediker / Kohelet {7:20} "want daar is geen regverdige
mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie."
Daarbenewens, kan brandoffers nêrens anders as in die tempel
in Jerusalem gebring word nie.
Deuteronomium / Devarim {12:13} "Neem jou in ag dat jy
jou brandoffers nie bring op elke plek wat jy sien nie. {12:14} Maar op
die plek wat die HERE in een van jou stamme sal uitkies, daar moet jy jou
brandoffers bring en daar alles doen wat ek jou beveel."
Die feit dat Jesus vir die sonde van die wêreld gesterf het,
was geen onbeduidende gebeurtenis nie. Ons weet egter, uit die Skrif, dat sonde
alleenlik deur bloedvergieting versoen kan word.
Levitikus / Vayikra {17:10} “En elkeen uit die huis van
Israel en uit die vreemdelinge wat onder hulle vertoef, wat maar enigsins bloed
eet teen die een wat die bloed eet, sal Ek my aangesig rig en hom uitroei onder
sy volk uit.”
Waarom was God so onversetlik dat Sy volk nie mag bloed eet
nie?
Levitikus / Vayikra {17:11} “Want die siel van die vlees is
in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele
versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.”
Jesus (God wat as mens na die aarde gekom het) het aan die
kruis gesterf en Sy bloed vir die sonde van die wêreld gestort, so het Hy
voldoen en is Hy steeds besig om te voldoen aan God se straf vir sonde, wat die
dood is. Dit is dus nie langer vir enigeen nodig om 'n brandoffer na die tempel
in Jerusalem te bring nie. Dit is waarom dit nie langer bestaan nie en vir
nagenoeg tweeduisend jaar nie bestaan nie.
Maar, indien jy nie 'n gelowige is nie en hierdie gedeelte
van die Tora lees, weet dit dat Jesus die Messias vir jou sonde gesterf het. Hy
is jou brandoffer, netsoos Hy myne is. Die enigste verskil tussen jou en my is
dat ek glo; daardeur het ek versoening vir my sonde, maar jy het nie! Jy kan
egter ook glo en vergifnis vir jou sonde ontvang. Vra net vir Jesus die Messias
om die Heer en Redder van jou lewe te wees en Hy sal vir jou doen wat Hy vir my
gedoen het.
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2009-03-28
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking