VaYak’hel - Pekudei
(En Hy Het Laat Byeenkom - Rekenskap)
Eksodus / Shemot 35:1-40:38
Esegiël / Yechezekiel 45:16-46:18
Hebreërs / Ivrim 8:1-12; 9:1-11
Hierdie week het ons 'n dubbele lesing, soos van ons opskrif afgelei kan word. Ek het egter gekies om slegs kommentaar te lewer oor 'n gedeelte van die afrekening-oordenking.
Eksodus / Shemot {35:1} "Toe het Moses die hele
vergadering van die kinders van Israel bymekaar laat kom en aan hulle gesê: Dit
is die woorde wat die HERE beveel het, om dit te doen: {35:2} Ses dae lank kan
daar werk verrig word, maar op die sewende dag moet daar vir julle ‘n
heiligheid, ‘n dag van volkome rus wees tot eer van die HERE. Elkeen wat daarop
werk verrig, moet gedood word. {35:3} Julle mag op die sabbat geen vuur
aansteek in enigeen van julle woonplekke nie."
Baie Jode, beide streng ortodoks en messiaans, neem hierdie
gebod oor die aansteek van vuur baie ernstig op. Hulle kook nie op die Sabbat
nie, want dit vereis die aanskakel van die stoof. Hulle skakel nie ligte aan op
die Sabbat nie, omdat die skakelaar 'n vonk veroorsaak, wat die aansteek van
vuur beteken. Hulle bestuur nie op die Sabbat nie omdat die aanskakel van 'n
motor ontbranding vereis, wat op die aansteek van vuur neerkom. Verder doen
hulle niks anders wat vuur veroorsaak nie.
Danksy moderne tegnologie, omseil sommige van hierdie mense
egter hul interpretasie van die Skrif. Hulle laat byvoorbeeld
bewegingsdetektorskakelaars in hul huise installeer wat die ligte outomaties
aanskakel sodra 'n vertrek binnegegaan word. Selfs woonstelgeboue het
Sabbathysers wat vanself op elke verdieping stilhou sodat hysbakknoppes nie
gedruk hoef te word om die hysbak te gebruik nie. Met ander woorde, hierdie
gebod word so ernstig en letterlik opgeneem, maar tog word elke moontlike
moderne tegnologie tot hul voordeel aangewend om te verhoed dat hulle nie self
'n vuur / vonk veroorsaak nie. Selfs sinagoges kry op die Sabbat 'n nie-Jood om
ligte aan - en af te skakel sodat hulle dit nie hoef te doen nie. Hulle
redeneer dat indien hulle nie-Jode se dienste gebruik, hulle nogtans die gebod
gehoorsaam. Dit klink belaglik, maar is tog waar!
Ons moet onsself dus afvra: het God werklik bedoel dat ons
sover moet gaan? Na alles, het Jesus die Messias, God in die vlees, vir ons
gesê:
Markus / Mordechi{2:27} "En Hy sê vir hulle: Die sabbat
is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie."
Indien die Sabbat dan vir die mens gemaak is en nie die mens
vir die Sabbat nie, waarom knoei die mens so om God en Sy gebod te eerbiedig?
Dink ook hieroor na: Dit word snags bitter koud (selfs benede 0 °C) in die
wildernis; wat gebeur as die vuur doodgaan? Moes die kinders van Israel 'n
nie-Jood - miskien 'n Egiptenaar of Edomiet - vind om die vuur weer aan te
steek sodat die kinders nie aan blootstelling aan koue moes ly nie? Of was die
Tora slegs geskryf vir mense in warm klimate? Wat van die Eskimos in die
vriesende koue van die noorde? Indien hulle tot die geloof bekeer sou word, kon
hulle nie op die Sabbat 'n vuur aansteek om warm te bly nie?
Ek dink die eerste deel van die Skrif, wat ek vir ons
oordenking aangehaal het beantwoord hierdie vraag.
Eksodus / Shemot {35:2} "Ses dae lank kan daar werk
verrig word, maar op die sewende dag moet daar vir julle ‘n heiligheid, ‘n dag
van volkome rus wees tot eer van die HERE..."
Die konteks van ons gedeelte is Werk. Die kinders van Israel
word deur God gesê dat hulle ses dae het om te werk. Die sewende dag, die
Sabbat, moet 'n rusdag wees.
Terwyl hulle in slawerny in Egipte was, was hierdie beginsel
van 'n rusdag - 'n dag sonder om op te staan en te gaan werk - absoluut
ongehoord. Om te verneem dat hulle 'n dag nie hoef te werk nie, moes vir die
kinders van Israel moeilik gewees het om aan gewoond te raak.
Nietemin, was en is die Sabbat vir God nie om ligtelik opgeneem
te word nie. Op hierdie dag het God opgehou om te skep en netso moes die
skepsels, wat Hy geskep het, ook ophou werk op die Sabbat, en die straf
daarvoor was dat indien hulle daarmee sou volhou, dit die doodstraf sou
beteken. Dus, aan al julle werkverslaafdes daarbuite, indien julle voor die
moontlikheid gestel word om die doodstraf opgelê te word vir die konstante en
ononderbroke arbeid, sou hierdie erge straf bes moontlik 'n dryfveer wees om
ook op die Sabbat te rus.
Ons moet ook in oorweging te hou dat, toe die kinders van
Israel hierdie gebod ontvang het, niemand na die kantoor of fabriek gegaan het
om te werk nie. Besighede was woonplek gebaseer. Die grofsmid het buite sy tent
gewerk, netsoos alle ander ambagsmanne. Daarom die woord:"Julle mag op die
Sabbat geen vuur aansteek in enigeen van julle woonplekke nie." Dit pas
eenvoudig in die konteks van geen werk op die Sabbat nie!
Die aansteek van 'n vuur om warm te bly, is nie werk nie. Die aanskakel van ligte in jou huis sodat jy saans kan sien,
is nie werk nie. Die aanskakel van jou motor en bestuur daarvan sinagoge toe op
die Sabat, is nie werk nie. Kook, op die Sabat, is nie werk nie, tensy jy op
die Sabbat werk as 'n professionele sjef, maar jy sê:"Wat van 'n huisvrou
wat elke dag vir haar gesin moet kook - ongetwyfeld sal kook vir háár werk
wees? Of, wat van 'n man wat op die Sabbat betrap sou word terwyl hy stokkies
optel en deur Moses ter dood veroordeel word? Dit was nie werk nie - miskien
het hy die hout nodig gehad om sy kinders warm te hou".
In antwoord op daardie vrae: Vir 'n huisvrou is kook en
skoonmaak werk, omdat sy dit die ander ses dae van die week doen. Sekerlik moet
die huishouding 'n oplossing vind om haar tegemoet te kom sodat sy nie op die
Sabbat moet werk nie. My vrou kook vroegtydig sop, wat ons op die Sabbat
verhit. Sy berei ook van tyd tot tyd 'n bredie, wat sy op die stoof laat warm
bly óf wat ons verhit. Meestal nuttig ons slegs 'n koue ete, wat ons óf uit
papierborde eet, wat daarna weggegooi word óf ek help om die borde te was. Wat
die man betref wat op die Sabbat stokkies opgetel en ter dood veroordeel is,
kan ons nie bloot aanvaar dat hy dit gedoen het om sy kinders warm te hou nie -
moontlik het hy die hout gebruik om vuur in sy oond te maak. Dit is werk! 'n
Liefdevolle, genadige God sou niemand laat doodmaak, slegs omdat hy hout
opgetel het om sy woonplek te verwarm of sy kinders te voed nie. Indien dit wel
die geval was, waarom het hy nie vooruit beplan, soos ons met die sop of soos
die kinders van Israel, met die optel van manna nie? In elke geval, ons almal
behoort verantwoordelik genoeg te wees om te besef dat ons vooruit vir die
Sabbat voedsel moet voorberei. Die motor moet vol brandstof wees; die voedsel
moet vooraf gekoop en voorberei word, sodat die Sabat werklik onderhou word,
soos wat God dit as 'n rusdag vir Homself bedoel het.
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2009-03-21
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking