Mishpatim
(U Beveel)
Eksodus / Shemot {29:42} “Dit moet ‘n voortdurende brandoffer vir julle geslagte wees, by die ingang van die tent van samekoms, voor die aangesig van die HERE, waar Ek met julle sal saamkom om daar met jou te spreek. {29:43} En daar sal Ek met die kinders van Israel saamkom en die tent sal deur my heerlikheid geheilig word. {29:44} So sal Ek dan die tent van samekoms en die altaar heilig. Ek sal Aäron en sy seuns ook heilig om vir My die priesteramp te bedien. {29:45} En Ek sal onder die kinders van Israel woon en vir hulle ‘n God wees; {29:46} en hulle sal weet dat Ek die HERE hulle God is wat hulle uit Egipteland uitgelei het om in hulle midde te woon. Ek is die HERE hulle God.”
Waarom moes die altaar (mitzbe'ach) by die ingang van die deur vóór die Tent van Samekoms (Ohel Moed) geplaas word? Waarom kon dit nie daaragter of by enigeen van die kante geplaas word nie?
Soos uit hiedie parasha blyk, was daar ingewikkelde voorskrifte met betrekking tot die naderkomsofferande (korbanot), wat nagekom moes word alvorens Aaron en sy seuns toegelaat is om die Tent van Samekoms binne te gaan. Voordat hulle verder as die altaar beweeg het, moes hulle eers gewy word en van sonde gereinig wees ten einde in die teenwoordigheid van 'n heilige God en die altaar, waarop die naderkomsofferande geoffer is, te kom. Deur die Tent van Samekoms, het God vir Homself 'n plek geskep waar Hy te midde van Sy volk kon wees. Die rede hiervoor was dat 'n heilige God nie tussen onheilige mense kon verkeer nie. Wat was dan die doel daarvan dat God te midde van Sy volk sou wees? Dit was sodat hulle 'n persoonlike verhouding met Hom kon hê en volgens die Skrif hierbo, sodat hulle sou besef Hy is die God wat is, wat was en wat sal wees (Yud Hay Vav Hay), die God wat hulle uit die land van die Egiptenare gelei het.
God is nie 'n God van voorskrifte en regulasies nie – Hy is 'n God van verhoudings! Dit is egter onmoontlik vir onheilige mense om enige soort verhouding met 'n heilige God te hê, vandaar dus die altaar en die naderkomsofferande. Niks wat onrein is kon verder as die altaar kom nie omdat niks onheiligs ooit 'n verhouding met God kan hê nie. Die Skrif is baie uitdruklik dat om die Tora te gehoorsaam en die gebooie (mitzvoth) te onderhou, geen mens heilig maak nie. Wat 'n mens wel heilig maak, is vergifnis van sonde deur die plaasvervangende offer (korban).
Het julle met die lees van die parasha aftergekom dat Aaron en sy seuns hul hande op die offerdiere moes lê voordat dit doodgemaak is? Die handoplegging simboliseer die oordra van sonde op die offerdier. Die dier waarop hulle hul hande gelê het, is dan doodgemaak en aan God geoffer as plaasvervanger vir die dood van die menslike sondaar, in hierdie geval Aaron en sy seuns.
God is vandag nog netso heilig soos wat Hy in die Bybelse tye was en daarom het ons steeds 'n offerdier (korban) nodig, netsoos in die bybelse tye, indien ons 'n verhouding met Hom wil hê. Wat is die korban dan nou, aangesien daar nie meer 'n Tent van Samekoms (Ohel Moed) of 'n altaar (mitzbe'ach) is waarop 'n korbanot geoffer kan word nie? Waarop kan ons ons hande lê om as't ware ons sonde daarop oor te plaas, sodat ons 'n verhouding met 'n heilige God mag hê? Dit is natuurlik Jesus die Messias.
Jesaja / Yeshayahu {59:2} “maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.”
Jesaja / Yeshayahu {53:5} “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”
Daar is 'n interessante punt wat ek graag met julle wil deel aangaande die altaar (mitzbe'ach) en offerhandes (korbanot): dit het betrekking op wat Jesus gespreek het:
Matthéüs / Mattityahu {23:34} “Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg, {23:35} sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaría, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar.”
Ons is bewus daarvan dat met Jesus se wederkoms, Sy voete die Olyfberg sal aanraak, wat drie plekke behels, waarvan die Tempelberg één is, en hierdie bergreeks sal skeur om nuwe berge te vore te bring. Daar is 'n goeie rede hiervoor en dit het betrekking op die skrifgedeelte hierbo aangehaal.
Het julle opgelet in ons Skrifgedeelte uit Matthéüs, dat Sagaria vermoor is tussen die altaar (mitzbe'ach) en die tempel? Onthou julle dat, volgens hierdie parasha, Aaron en sy seuns geheilig moes word voordat hulle die altaar verbygegaan het ten einde die Tent van Samekoms binne te gaan?
Die altaar is op die besondere plek geplaaas om vir vergifnis van sonde te offer vir enigiets wat tussen die altaar en die buitewêreld gedoen is. Vir enige sonde, soos in hierdie geval in die Skrifgedeelte hierbo gemeld, wat tussen die altaar en die tempel gepleeg is, was daar geen versoening nie omdat dit aan die verkeerde kant van die altaar plaasgevind het.
Vergeet van die Rotskoepel wat Sion nou oorheers, vergeet daarvan dat dit die Tempelberg onteer en daardie omgewing ontheilig. Hierdie gedeelte van die grond is onteer – nie vanweë die moskee nie – maar as gevolg van die bloed van Sagaria, wat tussen die tempel en die altaar vermoor is. Vir sy bloed was daar nie en kan daar nie versoening voor wees nie – om dié rede sal die tempel, in sy huidige toestand, altyd onteer wees. Daarom sal die bestaande berg vernietig móét word en 'n nuwe berg móét verrys sodat die Messias se duisendjarige tempel (Bet HaMikdash) daarop gebou kan word.
Jesaja / Yeshayahu {2:1} “Die woord wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem. {2:2} En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. {2:3} En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem.”
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2010-02-27
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking