Saterdag 18 Maart 2017

Moenie Dit Toelaat om Uit te Breek Nie

Ki Tisa
(Wanneer Jy Verhef )


Daar was ongetwyfeld nie 'n tekort aan onderwerpe om van te kies vir hierdie week se parasha nie. Dus kan julle besef hóé moelik dit vir my was om 'n finale keuse te maak, wat ek beskou het tot eer van God sou wees en ook tot seën vir julle, ons lesers. Hier volg dan die Skrifgedeelte waarop ek besluit het:
Eksodus/ Shemot {30:11} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {30:12}  As jy die volle getal van die kinders van Israel opneem volgens hulle geteldes, moet hulle, elkeen vir sy lewe, losgeld aan die HERE gee as hulle getel word, sodat geen plaag onder hulle mag wees as hulle getel word nie. {30:13}  Dit moet hulle gee, elkeen wat na die geteldes oorgaan: ‘n halfsikkel volgens die sikkel van die heiligdom—die sikkel is twintig gera—’n halfsikkel as offergawe aan die HERE. {30:14}  Elkeen wat oorgaan na die geteldes, van twintig jaar oud en daarbo, moet die offergawe van die HERE gee. {30:15}  Die ryke moet nie meer en die arme moet nie minder as ‘n halfsikkel bring nie, as hulle die offergawe van die HERE gee om vir julle siele versoening te doen. {30:16}  Neem dan die versoeningsgeld van die kinders van Israel en bestee dit aan die bediening van die tent van samekoms, dat dit die kinders van Israel in gedagtenis kan bring voor die aangesig van die HERE, om vir julle siele versoening te doen.”
'n Sensus van die kinders van Israel was altyd met 'n doel, wat deur God bepaal is. Die kinders van Israel mag nooit getel gewees het vir enige ander doel as vir God se doel nie. In die bovermelde  Skrifaanhaling lees ons dat die telling met 'n halwe sikkel gepaard moes gaan, wat deur elke persoon gegee is as versoeningsoffer vir sy lewe. Ons word ook vertel dat die betaling van die versoeningsoffer, sou verseker dat geen plaag onder die volk uitbreek nie. Daarbenewens sou dit vir die instandhouding van die tabernakel aangewend word.
Ons onthou hoedat koning Dawid op wispelturige wyse besluit het om die kinders van Israel te laat tel (2 Samuel 24). Ongeag die pleidooie deur sy generaal, Joab, om dit nie te doen nie, het koning Dawid daarmee voortgegaan – 'n sensus, wat nie deur God goedgekeur is nie – en gevolglik het 'n plaag onder die volk uitgebreek.
Waarom sou ons 'n versoeningsoffer vir ons lewens betaal? Die Hebreeuse woord “kopher” in Engels vertaal, is “versoeningsoffer of losgeld”. Dit is waarvandaan die Hebreeuse woord “kapparah” afgelei is, wat “dekking” beteken. Dit is van toepassing op offerandes wat gebring is as versoening vir 'n sonde wat teen God gepleeg is. Die Tora is egter vol voorskrifte oor hoedat diere aan God geoffer moes word om hierdie doel te vervul. Kan die gawe van geld dan ook as versoening vir sonde dien? Die antwoord daarop is hoegenaamd nee! Waarom sou God dan die betaling van 'n halwe sikkel eis as versoening vir die lewens van die kinders van Israel?
Die antwoord hierop is betreklik eenvoudig en behels die aanwending en doel van die betaling van die halwe sikkel.
Eksodus/ Shemot {30:16} “Neem dan die versoeningsgeld van die kinders van Israel en bestee dit aan die bediening van die tent van samekoms, dat dit die kinders van Israel in gedagtenis kan bring voor die aangesig van die HERE, om vir julle siele versoening te doen.”
Die betaling van die halwe sikkel op sigself het nie as versoenoffer gedien nie. Geld of die betaling daarvan aan 'n godsdienstige organisasie, kerk of sinagoge, kan nie dien as losprys vir jou siel nie. Wat het die versoenoffer, soos in die bovermelde vers aangedui, dan te doen met hoe die geld aangewend moes word? Die halwe sikkel was vir diens in die tabernakel, waarby ook dienste met die naderkomofferhandes en ander offers (korbanot) gelewer, ingesluit was. Terwyl geld geen mens se siel kan red nie, verduidelik God hier aan ons dat geld tog noodsaaklik is vir die proses van sielsredding. Sonder geld, sou die tabernakel nie behoorlik kon funksioneer nie, die kapparah nie gedoen word nie en diere nie as plaasvervangende offerandes vir die sonde van 'n mens wees nie.
God het die belangrikheid van geld in die algemene proses van redding geweet en ek dink dat ons dit ook moet besef. Sonder behoorlike finansiering sal ons Messiaans-Joodse instellings nie kan onderrig, preek, bedien en getuig nie – nie aan die verlore siele van die huis van Israel of aan die nasies nie. My gebed is dus dat elkeen wat hierdie D'var Totah lees, sy/ haar plig sal nakom om tot hul plaaslike gemeente (kehila) by te dra ten einde die opbouing van die liggaam, die redding van siele en verewiging van die Besora Tova (Goeie Nuus / Evangelie) te verseker. Indien jy versuim om dit te doen, wees dan versigtig dat 'n plaag nie jóú huis tref nie!

Kom gou Jesus!

Voorheen uitgegee: 2010-03-06

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking