Saterdag 10 Junie 2017

Die Restitusiegawe

Nasso
(Verhoog)
Númeri / BaMidbar {5:5} ”Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {5:6}  Spreek met die kinders van Israel: As ‘n man of vrou enige menslike sonde doen, sodat ontrou teen die HERE gehandel word, en dié siel skuldig word, {5:7}  dan moet hulle hul sonde wat hulle gedoen het, bely; daarna moet hy wat hy skuldig is, ten volle teruggee en die vyfde deel daarvan byvoeg, en hy moet dit aan dié een gee teen wie hy hom skuldig gemaak het. {5:8} Maar as die man geen losser het aan wie die skuld teruggegee kan word nie, behoort die skuld wat teruggegee moet word, aan die HERE, aan die priester, behalwe die versoeningsram waarmee hy vir hom versoening doen. {5:9}  En elke heffing van al die heilige gawes van die kinders van Israel wat hulle na die priester bring, moet syne wees. {5:10}  En elkeen se heilige gawes dit moet syne wees: wat iemand aan die priester gee, moet syne wees.”
Soms, wanneer iemand sondig, hoef hy nie net om vergifnis te vra nie, nie net by God of die persoon teen wie hy gesondig het nie, maar moet hy ook restitusie doen. So byvoorbeeld, moes 'n dief nadat hy gevang is, restitusie doen aan die persoon van wie hy gesteel het. Hy moes dít wat gesteel is, aan die eienaar teruggee, plus twintig persent méér. Wat sou egter gebeur as die dief eers jare later gevang, die slagoffer reeds oorlede is en daar geen lewende bloedverwante was nie? Hierdie Skrifgedeelte uit Parasha Naso beantwoord daardie vraag vir ons. Daarvolgens moes restitusie aan 'n bloedverwant gedoen word en sou daar geen bloedverwant wees nie, moes dit aan die priester (Cohen) gedoen word. Wat sodanige restitusie dan ookal behels het moes die priester dit vir eie persoonlike gebruik ontvang. Soos ons weet is daar nie langer 'n tempel in Jerusalem of 'n Aaron-priesterdom wat die tempeldiens verrig nie. In die lig daarvan moet ons onsself afvra: “Indien hierdie gebod van die tempel of Aaron-priesterdom afhanklik was, is dit vandag nog toepaslik? “ Die antwoord is onteenseglik “Ja” en ek sal nou-nou verduidelik om welke rede.
Self indien Jesus die Messias ons sondes vergewe wanneer ons dit bely, is daar nogtans gevolge van sonde as ons bedrieg, iets gesteel, iets geleen het sonder om dit terug te gee of iemand skade berokken het as gevolg van ons sonde. Wat gebeur egter indien ons onsself in 'n situasie bevind, soos wat dit in die Skrif hierbo bepaal? Daar is nie meer 'n tempel of priester nie. Hoe doen ons dus restitusie indien die persoon teenoor wie ons gesondig het, reeds oorlede is, sonder bloedverwante of die besigheid waarvan ons iets geneem het, nie meer bestaan nie?
Dit is nie my taak om iemand nou te beskuldig nie, maar ek is oortuig daarvan dat ek vertroulik kan sê dat êrens in die wêreld in die jongste verlede 'n pastorale leier of 'n gemeente moontlik hierdie Skrifgedeelte misbruik het. Ek kan sekerlik sê dat mense wat aan hul gemeentelede onomwonde verklaar dat hulle nie langer onderhewig aan dié Wet is nie, hierdie Skrifgedeelte op hulself toegepas en gevolglik ongematigde en onbybelse geskenke ontvang het van welmenende mense en pesone met die beste bedoelings, wat eerlik vrygespreek wou word deur restitusie te doen. Ek is reeds deur sulke mense genader oor hoe hierdie Skrifgedeelte vertolk en vandag toegepas behoort te word. Ek is selfs gevra of ek hul restitusie-offer sou aanvaar, wat ek vanselfsprekend nooit sal doen nie.
Nadat ek dit noukeurig gelees het en tot die Here gebid het om leiding met betrekking tot die juiste toepassing van dié Skrifgedeelte, meen ek dat ek God se antwoord hierop ontvang het.
Ten spyte daarvan dat die tempel in Jerusalem vandag nie meer bestaan nie en daar selfs nie meer 'n priester is om die gawes van restitusie – ingevalle soos in ons Parasha gespesifiseer – te ontvang nie, glo ek dat God dit steeds van ons vereis om restitusie te doen. Selfs indien die persoon teenoor wie ons gesondig het oorlede is sonder naasbestaandes of die besigheid, waarvan ons iets geneem het, nie meer bestaan nie, is ons steeds verplig om restitusie te doen. Hoe moet ons dit dan doen? Moet ons dit vir ons pastoor of rabbi gee vir persoonlike gebruik? Volstrek nie! Restitusie moet altyd gedoen word, wanneer dit vereis word, maar behoort toepaslik gedoen te word. Dit moet altyd aan die vereistes van die Tora voldoen, wat betref die persoon / persone teen wie gesondig is of hul naasbestaandes. Indien die persoon dus reeds oorlede is of daar geen naasbestaandes is nie óf die betrokke besigheid nie langer bestaan nie, dan, meen ek, dat die restitusie-geld aan die gemeente (kehila) waaraan die persoon behoort, gegee en dit uitdruklik gespesifiseer word dat dit 'n restitusiegawe is, wat aangewend moet word vir die uitbreiding van God se Koningkryk, dus vir sending of evangelisasie.

Kom gou Jesus!

Voorheen uitgegee: 2010-05-22

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking