Saterdag 03 Junie 2017

Volkstelling vir Oorlog en Wonderwerke

BaMidbar
(In die Wildernis)
 
1 Petrus / Kefa Aleph {2:9} “Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,”
Ek kan nie onthou dat ek ooit één van my kommentare met 'n Skrifgedeelte uit die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) begin het nie – dit kan dus selfs die eerste keer wees! Die rede waarom ek juis met hierdie Skrifgedeelte begin het, is op grond van wat ons uit Parasha BaMidbar leer.
Númeri {1:47} “Maar die Leviete, volgens hulle voorvaderlike stam, is onder hulle nie getel nie. {1:48}  Die HERE het naamlik met Moses gespreek en gesê:  {1:49} Net die stam van Levi moet jy nie tel nie en hulle volle getal onder die kinders van Israel nie opneem nie; {1:50}  maar stel jy die Leviete aan oor die tabernakel van die Getuienis en oor al sy gereedskap en oor alles wat daarby behoort. Húlle moet die tabernakel dra en alles wat daarby behoort, en húlle moet dit bedien en rondom die tabernakel laer opslaan. {1:51} En as die tabernakel wegtrek, moet die Leviete dit afbreek; en as die tabernakel rus, moet die Leviete dit oprig; en die onbevoegde wat nader kom, moet gedood word. {1:52} En die kinders van Israel moet laer opslaan elkeen op sy laerplek en elkeen by sy vaandel, volgens hulle leërafdelings. {1:53} Maar die Leviete moet laer opslaan rondom die tabernakel van die Getuienis, dat daar geen toorn oor die vergadering van die kinders van Israel kom nie. So moet dan die Leviete die diens van die tabernakel van die Getuienis waarneem.  {1:54} En die kinders van Israel het dit gedoen; net soos die HERE Moses beveel het, so het hulle gedoen.”
Hierdie Parasha handel oor die telling van die kinders van Israel, alhoewel dit 'n uitsonderlike telling was, in soverre dat slegs diegene tussen twintig jaar en vyftig jaar oud getel is, dus almal wat weerbaar was om oorlog te voer. Dit sou gevolglik beteken dat enigeen van vyftig jaar of ouer uitgesluit is uit die sensus. Die totale aantal weerbare manne, geskik om oorlog te voer, was ses honderd en drie duisend, vyf honderd en vyftig. Omrede die Leviete verantwoordelik was vir die godsdienstige lewe van die gemeente van Israel, met hul aanspreeklikheid as God se verteenwoordigers onder die mense en andersom, is hulle vrygestel van oorlog en gevolglik ook van die sensus.
Ek is seker sommige van julle mag dink dat ek gaan praat oor gelowiges in Jesus die Messias, synde mense met gewetensbesware (teen oorlogvoering, om godsdienstige redes), maar dit is die allerlaaste wat ek in gedagte het. Die feit is dat die Leviete wel oorlog toe gegaan het, maar nie aan die oorlogvoering deelgeneem het nie, soos ons uit die volgende Skrifgedeelte kan aflei:
Joshua (Y'hoshua) {3:8} “Gee jy dan bevel aan die priesters wat die verbondsark dra, en sê: Net soos julle aan die kant van die water van die Jordaan kom, moet julle in die Jordaan bly staan. {3:9} Toe sê Josua aan die kinders van Israel: Kom nader hierheen en luister na die woorde van die HERE julle God. {3:10}  Verder het Josua gesê: Hieraan sal julle erken dat daar ‘n lewende God tussen julle is, en dat Hy sekerlik die Kanaäniete en Hetiete en Hewiete en Feresiete en Girgasiete en Amoriete en Jebusiete voor julle uit sal verdrywe: {3:11}  Kyk, die verbondsark van die HERE van die hele aarde trek voor julle uit die Jordaan in.”
Vandag bestaan daar nie meer 'n Mishkan nie vir ons as 'n koninklike priesterdom, om in te dien en daarom die ondersteunende rol as bewaarders van die Verbondsark te vervul en al die voorskrifte van die korban (toenadering/offer)-stelsel is ook nie meer nodig nie. Nietemin word ons, in die voorafgaande verse uit 1 Petrus, 'n koninklike priesterdom genoem. Ons rol as priesters het sedert die dae van die Mishkan en die tempel tog ietwat ontwikkel. Vandag as priesters van God, ofskoon ons nie verantwoordelik vir die instandhouding van die tabernakel of tempel, met inbegrip van die offerstelsel, is nie, is ons soos die Leviete in Bybelse tye, steeds daarvoor verantwoordelik om God (die Vader) onder die mense te verteenwoordig. Derhalwe glo ek dat iemand wat vandag in Jesus die Messias glo, wáár moontlik, ookal die Goeie Nuus (Besorah Tova) aangaande Jesus die Messias en Sy vrye gawe van redding, moet verkondig. Dit sluit natuurlik ook die gewapende magte in.
Ontelbare verhale oor wonderwerke wat op die slagveld plaasvind en selfs reddings dáár, het ons bereik uit die oorloë wat vandag gevoer word deur Kanada, die Verenigde State en Israel. Nou ja, ek is nie 'n voorstaander van oorlog nie, maar ongelukkig is oorlog, soos ook in die Bybelse tye, tog soms noodsaaklik. Wat gelowiges in Jesus die Messias betref, selfs as 'n koninklike priesterdom, het ons 'n God om te verteenwoordig en watter geskikter plek is daar nie, as om Hom te verteenwoordig onder soldate, wat elke dag die dood in die oë staar en moontlik vrae oor hul ewige bestemming het nie.


Kom gou Jesus!

Voorheen uitgegee: 2010-05-15

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking